Ek is baie lief vir my man, maar deesdae voel dit vir my ek is nie meer verlief op hom nie. Ek is ’n ma van twee woelige seuns en werk voldag. In die aande is ek glad nie lus vir intimiteit of seks nie. Ek wil regtig net omdraai en slaap. Dis vir my heerlik om in sy arms te slaap, maar dis al waarvoor ek kans sien. Ek sal enige iets doen vir my man, maar seks is nie op die agenda nie.
Soms beplan ek iets om dit spesiaal te maak en sodat ons tyd saam spandeer, maar as dit tyd is, wil my liggaam net mooi niks weet van lus of seks nie. Wat maak ek nou? My man voel ek skeep hom af en op ’n manier doen ek, maar tog voel ek, alles wat ek doen, is vir ons vier. Die drie manne is die rede vir my bestaan.
Ek is só dankbaar vir my man. Hy is ’n wonderlike pappa en die beste man ooit. Ons kommunikasie is baie goed en ons kan regtig oor alles met mekaar praat, maar dinge is al op ’n plek waar ons nie meer oor die ding kan praat nie en hy wil nie meer hoor dat ek moeg is nie. Só kan iemand help met raad, asseblief?
Dr Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog, verhoudings- en huweliksterapeut, psigoterapeut, kliniese hipnoterapeut en outeur, antwoord:
As ma van twee woelige seuns wat voldag werk, het jy baie balle om in die lug te hou. Dit klink vir my of daar net te veel hooi op jou vurk is. Soms moet ’n mens kyk na jou tydsbestuur en dalk nie so hard op jouself wees om “Superwoman” te probeer wees nie. Jy moet ook besluit om eerste na jouself te kyk en dinge te doen wat jy nodig het om jou batterye te herlaai.
Dan moet jy en jou man tyd maak om rustig alleen saam te wees. As jy in die aand moeg in die bed val, sal seks die laaste ding in jou gedagtes wees. Laat ook asseblief jou testosteroonvlak en jou skildklierfunksie toets. Lae testosteroon kan ook al die simptome wat jy beskryf, veroorsaak. Andersins, gaan sien asseblief ’n seksuoloog. Julle het ’n mooi huwelik, so moenie dat hierdie probleme oorspoel na die res van julle huwelik nie.