Ek en my lewensmaat is in ons vroeë vyftigs. Ek het ’n hoë libido en sy het ’n redelike lae libido. Ons bespreek gereeld die voorstelle en tegnieke wat in INTIEM verskyn. Wanneer is té veel seks te veel? Ek weet dit verskil van persoon tot persoon. Vir party paartjies is een keer ’n dag of selfs meer ‘normaal’ en vir ander is een keer per week te veel. Ek stel haar altyd eerste wanneer ons liefde maak.
Elmari Mulder-Craig, seksuoloog, huweliksberader en verhoudingskenner, antwoord:
Die vraag van ‘Hoeveel is te min of te veel seks?’ is baie algemeen. Soos jy sê, dit verskil van mens tot mens. Dit is ook waar dat baie paartjies die uitdaging van libido-verskille ervaar. Gemiddeld is meeste paartjies twee tot drie keer per week intiem. Ek dink egter die kwaliteit van die liefdespel is net so belangrik as die kwantiteit. Soms maak ons ook die fout om ’n alles-of-niks benadering te hê. Fokus op sensualiteit en op seksuele alternatiewe soos massering, stimulasie met die hand of orale seks as alternatief vir penetrasie. Dit is ook belangrik om haar hormone te laat toets en seker te maak haar testosteroon en ander hormonale vlakke is normaal. Verder kan sekere medikasies ook seksdrang beïnvloed.