“My ouderdom definieer my nie,” sê mense graag. “Dis alles in die kop,” is nóg iets wat dikwels geuiter word. Maar is jou ouderdom net ’n nommer as dit kom by jou huwelik?
“Ek moes nie so vroeg getrou het nie,” sê Alita (34). Sy en haar man is op 22 getroud en skaars drie jaar later geskei. “Ek was nog ’n kind, so wat het ek geweet van huis opsit en van wat ek uit die lewe wou hê?”
Juan wou hê sy moes tuisbly en ‘n tipiese Stepford Wife wees. Sy het ook gedink dis haar droom, tot sy haar eerste werk uit nood moes kry en dít haar laat besef het dat sy daarvan hou om haar passie vir syfers na te jaag. Boonop was sy goed in wat sy gedoen het. Skielik het hul prentjie van hoe ’n huwelik behoort te lyk, gebots. Hy het ’n huwelik soos sy ouers s’n begeer. Sy het gerebelleer teen tradisionele rolle.
Hulle het boonop agtergekom dat hulle meer verskillend is as wat hulle gedink het. Alita is ’n ekstrovert, wie se spontane geaardheid aangevuur is deur haar beroep (wat heelwat sosialisering vereis het). Hoe meer sy egter na buite geleef het, hoe dieper het Juan in sy dop gekruip. Ná drie jaar het hul persoonlikhede glad nie meer ooreengestem nie.
“Ons kon seker harder aan ons huwelik gewerk het, maar ons wou nie. Ons het nie gevoel dat die huwelik veronderstel was om harde werk te wees nie. Boonop het ons nog nie kinders gehad nie,” vertel Alita. Hul besluit om te skei was gesamentlik.
Om te trou, is nie meer so gewild nie
Millennials is skrikkerig vir die huwelik. En as Stafford Thomas, skrywer van ’n artikel in die Financial Mail, se voorspelling reg is, kan daar na aanleiding van die nuutste statistiek geskat word dat die hoeveelheid burgerlike huwelike in Suid-Afrika binne ses jaar minder as 100 000 sal wees.
Die huwelik is nie vir sissies nie. Diegene wat deurdruk, kén van klippe kou, vasbyt en deurdruk tot die dag wanneer hulle ’n glasie klink op hul 50ste huweliksherdenking. Maar egskeiding is ook nie vir sissies nie. En talle mense wat hierdie roete gestap het, erken dat hulle nie naastenby besef het dit hou soveel verreikende gevolge in nie. Tog maak derduisende paartjies wêreldwyd daagliks die keuse om te skei of te bly.
Een uit elke twee huwelike in Amerika eindig in die skeihof. Volgens navorsing skei mense in Amerika gemiddeld op die ouderdom van 30. (Die nuutste navorsing in Suid-Afrika toon dat die gemiddelde ouderdom ten tye van egskeiding 44 jaar en 40 jaar vir onderskeidelik mans en vroue is.)
Amerikaners trou ook jonger as Suid-Afrikaners – mans gemiddeld wanneer hulle 29 is en vroue wanneer hulle 27 is. In Suid-Afrika lyk dit heelwat anders. Paartjies neem al hoe langer om te trou en is nou gemiddeld 36 wanneer hulle voor die kansel staan.
En dit wil voorkom of daar tóg waarde is daarin om te wag voor jy die jawoord gee. Mans wat tussen die ouderdom van 20 tot 24 jaar trou, het ’n 38,9% kans om te skei, terwyl die egskeidingsyfer onder mans tussen die ouderdom van 30 tot 34 jaar slegs 8,5% is. Hoe ouer, hoe wyser? Niemand sal weet nie.
Die goue gleuf
’n Nuwe studie toon egter dat daar ’n “goue gleuf” is waarin jy behoort te trou – wanneer jy tussen die ouderdomme van 25 en 34 is. Volgens Nicholas Wolfinger, ’n professor in familie- en verbruikerstudies en sosiologie aan die Universiteit van Utah, was dit eens op ’n tyd ’n kwessie van: Hoe ouer jy trou, hoe beter jou kanse om getroud te bly. Dit is egter nie meer die geval nie.
Hy het gevind daar is verskeie redes waarom té jonk trou probleme kan veroorsaak. Hoe jonger jy is, hoe meer persoonlike transformasie vind plaas, soos in die geval van Alita en Juan. Navorsing toon ook dat paartjies wat tersiêr gestudeer het, se kanse om te skei laer is.
Maar as jy wag tot jy ouer as 35 is wanneer jy trou, raak jou kanse op egskeiding weer hoër. Dit is dan wanneer ’n gekompliseerde geskiedenis met verhoudings dinge omver kan werp. Jou ekskêrels of -meisies kan moeilikheid veroorsaak en ’n kind/kinders uit ’n vorige verhouding verbind jou met die ander ouer. Talle seksmaats voor jou huwelik kan ook jou kanse om te skei drasties verhoog.
Philip Cohen, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van Maryland, verskil egter van Wolfinger en meen dat die stelling “Hoe later, hoe beter” steeds geld. Omdat dié navorsers verskillende data uit verskillende tydperke gebruik, is dit moeilik om vas te stel wie in die kol is. Dit wil egter voorkom dat hulle wel ooreenstem oor die volgende: Om vroeg te trou, is nié ’n goeie idee nie.
Oor ’n bok en ’n blaar?
En wat daarvan as jou maat veel jonger of ouer as jy is wanneer julle trou? Dit bly ’n taai tameletjie. Volgens die nuutste Suid-Afrikaanse statistiek was altesaam 76% van bruidegomme ouer as hul bruide, 16% van bruide was ouer as hul bruidegomme en in 8% van die gevalle was albei partye ewe oud.
In Denemarke is mans gemiddeld drie jaar ouer as hul maats wanneer hulle trou. Deense navorsing toon dit is tot ’n man se voordeel om ’n jonger maat te hê, maar tot ’n vrou se nadeel om met ’n jonger maat getroud te wees. ’n Ouer maat strek tot voordeel van beide geslagte!
Volgens ’n studie deur Andrew Francis en Hugo Mialon, professors aan die Departement van Ekonomie by Emory Universiteit, kan ’n groot ouderdomsgaping tussen pare ook ’n rol speel as dit kom by die sukses of mislukking van ’n huwelik. ’n Groot ouderdomsgaping word geassosieer met ’n groter kans op egskeiding.
As jy en jou maat vyf jaar verskil, is jul kans 18% groter op egskeiding en as jy en jou maat tien jaar verskil, verhoog dié syfer na 39%. As daar twee dekades tussen jou en jou maat lê, verhoog jul kanse op egskeiding na 95%! Die redes hiervoor sluit in verskillende kulturele verwysings, waardes en teenoorgestelde smaak in musiek, flieks, vriende en benaderings tot seks.
Maak dié artikel jou benoud, siende dat jy en jou maat vroeg getrou het of heelwat verskil in ouderdom? Onthou dat elke huwelik uniek is en dat bogenoemde statistiek glad nie die uitkoms van jou huwelik bepaal nie. Solank jy steeds glo in die waarde van jou huwelik, is jul stryd halfpad gewonne! En dan bly ’n nommer net ’n nommer . . .
Addisionele bronne: www.businesslive.co.za, www.divorcestatistics.org, www.vox.com, www.ncbi.nlm.nih.gov, www.nypost.com, www.statssa.gov.za.