Dr. Colin, ’n infertiliteit-spesialis, gee aan INTIEM-lesers raad oor hoe om die fisieke en emosionele eise van ‘baba-maak’ te hanteer…

Promosie

Daar is dikwels ’n sterk gevoel van magteloosheid wat na vore tree wanneer ’n paartjie sukkel om ’n baba te kry. Die gevoel dat jy geen beheer het oor jou eie vrugbaarheid nie, het ’n verswakkende invloed op die liggaam en kan jou van jou kragte beroof. Dit is dan wanneer jou emosies afstuur op ’n afwaartse spiraal van wanhoop, blaam en skuldgevoelens.

Vandag se leefstyl veroorsaak dat ons onsself fisiek en geestelik druk – ons slaap te min, eet sleg, haal verkeerd asem en stres heeltemal te veel! Ons soeke om ‘dit alles te hê’, met verwagtinge wat mettertyd al hoe meer groei, eis eindelik sy tol op verstandelike en fisieke gesondheid en laat ons selfs meer magteloos.

Hoekom het ‘baba-maak’ so moeilik geraak?

Promosie

Die setel van vrugbaarheid en die beheer van sperm en eier-vervaardiging lê nie net in ons ovarium of testes nie, maar hoofsaaklik in die brein se hipotalamus en pituïtêre klier. Hierdie outonome beheerstelsel sluit die verstand, liggaam en emosies in. Dit beheer ons reaksie op stres, ons metabolisme en ons vrugbaarheid – en dit is baie sensitief vir emosionele invloed. ’n Stresvolle leefstyl het dikwels tot gevolg dat ons nie voldoende na onsself kyk nie.

Die liggaam het kos, lug, rus en emosie (KLRE) nodig om optimaal te funksioneer. Dikwels ontneem lewenseise ons reserwes van hierdie lewenskragtige elemente wat ons nodig het om te oorleef – ons teer op die ‘hormoon noodgeval kredietkaart’: kortisol. Dit veroorsaak ’n groot probleem vir vrugbaarheid, want kortisol is van progesteroon gemaak.

Progesteroon word benodig om testosteroon en estrogeen te vervaardig. Wanneer die liggaam in ’n noodtoestand verkeer, neem kortisol prioriteit bó testosteroon en estrogeen, en die lae vlakke van testosteroon en estrogeen wat hieruit voortspruit, veroorsaak oorstimulering van die hipotalamus en pituïtêre klier. In leketaal het dit die volgende tot gevolg: verswakte gehalte eiertjies, verswakte follikels, ’n swak baarmoederwand, verswakte spermselle en verswakte seksuele gesondheid – alles oorsake van onvrugbaarheid in verskeie grade. ’n Leefstyl wat nie genoeg kos, lug, rus en emosies bevat nie, sal lei tot hormonale dreinering en onvrugbaarheid in andersins gesonde individue.

Wat kan ek doen?

Die eerste stap is om die stremming op jou bynier-kliere te verlig en seker te maak jy kry genoeg KLRE in om te kompenseer vir die tekort. Dit behels ’n leefstylverandering wat tyd en toewyding verg. Homeopatie, kruie-medisyne en aanvullings het die vermoë om ’n stelsel te ondersteun en te genees in ’n krisis, sonder om dit onder meer druk te plaas.

Die konsep om verskeie vorme van natuurlike medisyne te kombineer, is na bewering die vinnigste roete om vrugbare gesondheid te vestig. Kombineer die regulerende effek van homeopatiese medisyne met die stimulerende effek van aanvullings, Westerse kruie en voeding met Chinese kruie en dit het ’n kragtige en doeltreffende vrugbaarheidsbenadering tot gevolg wat al vir baie paartjies gewerk het.

Deur die hulp te kry wat jy nodig het om jou emosionele mag, gesondheid en beheer oor jou liggaam, verstand en emosies terug te eis, is dit moontlik om jou seksuele en reproduktiewe gesondheid te herwin.