Dis nie ek nie, dis jy. Dis nie ek nie, dis die slang …

Konflik oor blaam veroorsaak skeiding en geslotenheid. Ek noem dit ’n verskuiwing van-vinger-verhouding (sag en gemoedelik) na ’n kneukel-verhouding (onverbiddelik), met die idee van: Ek gaan nie bes gee nie, want dit is nié my skuld nie!

Wonderlike nuus: Hier is ’n oplossing vir dié dilemma!

Dis amptelik bewys dat geen konfliksituasie in die geskiedenis een party gehad het wat ’n honderd persent reg was, terwyl die ander party eenhonderd persent verkeerd was nie. Albei partye is skuldig (die een miskien 90 persent en die ander een 10 persent, maar dit beteken natuurlik dat beide moet jammer sê!).

Ek sê ook altyd dat die meer volwasse party die eerste tree terug sal gee.

Ek en my vrou besluit dié keer met ons jaarlikse ‘beplanning’ dat ons die volgende jaar een keer per week gaan begin saam oefen (Maandae). Ek hou toe my vieruur tot vyfuur sessie vir oefen oop. Ons het besluit om te gaan gym, maar dis nie eintlik gym nie. My vrou ‘dans’ met so ’n mannetjie en ek gaan nou saam ‘dans’ vir fiksheid.

Een spesifieke Maandag is ek besig met iemand en dié persoon ‘breek’ toe so 15:45 oop. Nou moet ek dít hanteer. My vrou staan reg buite die venster van die praktyk met my gymklere op die passasierskant sodat ek 15:50 net kan inspring en aantrek terwyl sy ry en dan vieruur begin dans.

Dié dag hoor ek hoe sy die motor hier buite staan en rev . . . ‘mmmmppppmmppp’. Ek moet die persoon, wat voor my in trane sit, hanteer en ek voel hoe ek opgewerk raak. Verstaan sy dan nie?

Toe ek teen 15:55 in die kar klim, is ek opgewerk en die motor witwarm gerev. Ek begin dadelik aantrek en sy begin dadelik moan. Ek wil skreeu dat sy moet stilbly. En sý kry ’n dubbel beat.

Kan jy dink wat ’n fiasko!? Ons wat vir mekaar skreeu en die ysige stilte daarna. As die mannetjie wat die dans gelei het ’n bietjie nader aan my gestaan het, het hy nooit weer dans afgerig nie, want in ’n stadium sê hy: “Oe, maar die Bothas is stil vandag,” en ek dink: “Kom ’n bietjie nader en jy is ook dood!”.

Ná ons halfuur se dans is ons in stilte huis toe. Ek het vinnig deur die stort gespring en vyfuur voor my volgende pasiënt gesit. Raai wat was hul probleem? Konflikhantering.

Ek ken al die antwoorde, so ek fake toe ’n smile en help hulle met die woorde: “Albei is altyd skuldig en albei moet sê hulle is jammer”. Dié twee sê toe sommer daar voor my jammer en gaan in vreugde huis toe.

Die tweede belangrike konsep wat ons moet weet, is dat jy nie jammer sê omdat jy so voel nie, maar omdat jy verkeerd is. Emosie kom altyd later by.

Die Dinsdagoggend word ek toe vroeg wakker en besef ek lewe ‘fake’. Ek gaan sê toe vir my vrou ek is jammer … dit het my vrou ’n tydjie geneem, maar eindelik het sy ook jammer gesê.

Onmiddellik was ons weer in ’n funksionerende verhouding en het besef dat ons sensitief vir mekaar moet wees tot die emosie by kom.

Ten slotte dan: Dis nie ek nie, dis jy. Dis nie ek nie, dis die slang … en só word die blaam verskuif na enigiemand behalwe ‘ek’. So, kom ons verander die stelling na: “Dis ek en jy en die slang!”

Laat julle dans met glimlagte!

Dr. Jannie Botha is ’n sielkundige wat werksaam is met sakemanne, sportmanne en die jeug. Sy voorliefde is egter die huwelik en hy het gespesialiseer in verhoudingsterapie. Hy het praktyke in Kaapstad en Johannesburg en is ook geregistreer in Engeland waar hy veral met migrasie- en pendel huwelike werk. Hy het ook ’n boek hieroor gepubliseer: Pendel huwelik en Commuting marriage (die Engelse weergawe).

Artikel deur Jannie Botha

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!