Natuurlik is dit belangrik vir ‘n paartjie om genoeg tyd met mekaar deur te bring. Dis lekker om te weet jou maat kies jóú as die persoon saam met wie hy/sy al sy tyd wil deurbring. Maar wees versigtig – dit kan ongesond raak.
Voor hy by die werk kom, het jy al drie keer gebel. Voor middagete het hy al vir jou vier WhatsApps gestuur – sommer net om te sê hy is lief vir jou. Wanneer julle nie werk nie, is julle áltyd by mekaar. En omdat hy slegs soggens werk, gaan haal julle saam die kinders by die skool.
Julle het ‘n gemeenskaplike Facebook-profiel en julle voltooi mekaar se sinne. Julle sit áltyd by mekaar en hou pal hande vas in die openbaar. Jou vriendinne weet dat jy álles wat hulle jou vertel met hom deel.
Ja, jy en jou maat is beslis besties (en toevallig getroud ook). Jy is baie selfvoldaan, trots op jul “amazing” verhouding en voel so ‘n bietjie verhewe bo jou vriendinne wat soms kla omdat hulle hul mans so min sien. Wees egter versigtig. Jou huwelik is dalk nie so gesond soos jy dink dit is nie.
Hoekom spasie belangrik is
Om emosioneel gekonnekteerd aan jou maat te voel, is wonderlik. Dit beteken intimiteit seëvier en dit is wat julle wil hê. Dis egter belangrik om te weet wanneer sorgsaamheid verander in emosionele versmoring.
Kenners meen dat spasie gesond vir ‘n huwelik is. “Om tyd vir jouself te neem mag dalk selfsugtig voel, asof jy jou maat vermy,” meen kliniese hipnoterapeut, outeur en opvoeder, Rachel Astarte. “In werklikheid herlaai kort periodes van afsondering ons sielsbatterye en laat ons toe om ons maats en die verhouding selfs meer te kan gee.” Dit is nie ‘n teken van ‘n verhouding wat verbrokkel nie – inteendeel, dit kan verhoed dat jou huwelik verbrokkel.
Dit is belangrik dat jy jou individualiteit ook buite die huwelik moet behou sodat julle elkeen jul identiteit kan onderhou en verskeie ervaringe na die huwelik kan bring.
Deur té veel tyd saam deur te bring, plaas jy baie druk op jou maat. Jy verwag van hom/haar om álles vir jou te wees, maar een persoon kan nie al die behoeftes van ‘n ander vervul nie. Deur genoeg tyd met vriende, familie en stokperdjies deur te bring, word jy blootgestel aan verskeie dinge. Dit laat jou lewensmaat toe om die rol te vervul wat hy/sy veronderstel is om te vervul – dié van ‘n lewensmaat.
Hoe weet jy jou verhouding is ongesond?
In baie gevalle is twee maats emosioneel só verwikkel dat hulle nie agterkom dat die situasie besig is om ongesond te word nie. Die status quo pas albei partye en daarom wonder hulle nie twee keer daaroor nie. Daar is ander gevalle waar net een party heeltemal tevrede is met die stand van sake. Hoe dit ook al sy, hier is die gevaartekens:
- Jy praat selde meer van “ek” en meer gereeld van “ons’”.
Daar is nie meer iets soos ‘n girls night of ‘n boys night nie, want julle doen álles saam. Jou vriendinne weet dat wanneer hulle jou nooi, jou man gaan saamkom. Die manne weet ook jy is áltyd in die prentjie.
- Jy voel asof jy nie eenhonderd persent jouself kan wees nie.
Jy of jou maat is dalk oorbeskermend, jaloers of krities. Dit voel asof jou maat jou heeldag dophou en asof hy jou voorkoms of opinie veroordeel. Dalk kom dit nie vanaf ‘n slegte plek nie en is jou maat net voortdurend bekommerd oor jou. Dit hoef egter nie emosionele mishandeling te wees om giftig te wees nie.
- Jy het lanklaas tennis gespeel, of gewerk aan jou besigheids-idee…
Is dit dalk omdat jy besig is om jou eie drome, stokperdjies en doelwitte op die agtergrond te skuif? Hulle is steeds iewers in jou agterkop, maar deesdae doen jy niks meer wat jy nie saam met jou maat kan doen nie.
- Julle bel mekaar voortdurend deur die dag.
Elke paartjie het hul eie verwagtinge wat daaglikse kontak aan betref en julle behoefte hieraan is dalk groter. Maar maak seker julle is op dieselfde bladsy. En stel vas wat die rede vir jul oormatige kontak is – is dit omdat julle waarlik net mekaar se stemme wil hoor of wil jy weet waarmee jou maat besig is?
- Dit voel asof al jou vriendinne begin verdwyn…
Daar kan verskeie redes hiervoor wees, maar die een is dat jy só gefokus is op jou huwelik en só deur jou maat geabsorbeer word dat jy niks meer aandag aan jou vriendskappe gee nie.
- Jy kom agter dat jy jouself sensor.
Dis gesond vir huweliksmaats om twee keer te dink oor wat hulle doen of sê om sodoende nie die ander party te benadeel nie, maar wanneer ‘n paartjie té na aan mekaar leef, raak verwydering later ‘n vrees. Dit kan veroorsaak dat jy jou gevoelens of opinies monitor of terughou uit vrees dat jy jou maat gaan wegstoot. Dis ongesond.
- Julle vermy konflik.
Soos ons voorheen genoem het, is dit gesond om soms te argumenteer. As julle in ‘n velcro-huwelik is, kan jou vrees vir verwerping of egskeiding só groot raak dat julle nie meer nodige konflik hanteer nie. Of julle hanteer dit vanuit ‘n plek van vrees en desperaatheid – wat rampspoedige gevolge kan hê (veral as dit emosies aanraak wat lank gebottel is).
Só herstel jy ‘n Velcro-huwelik
As jy agterkom dat julle ongesond na aan mekaar leef, kan die gedagte aan herstel vreesaanjaend wees. Die teenoorgestelde van nabyheid is immers verwydering en geen mens wens dít vir hul huwelik nie. Moet egter nie bekommerd wees dat julle mekaar sal verloor wanneer julle gesonde grense stel nie. As julle dit met oorleg doen, kan dit juis ‘n positiewe effek op jul huwelik hê. Doen die volgende:
- Hê jou eie opinies en staan daarby. In ‘n gesonde huwelik verskil twee individue soms van mekaar en kan hulle dit sonder vrees erken. As jy voel dat jy pal met jou maat moet saamstem, is dit ongesond. Dis beter om produktief te baklei as om nooit te baklei nie. Dit is ongesond wanneer een party altyd ingee (wat opinie aan betref) of bloot saamstem om die vrede te bewaar.
- Gee uitdrukking aan jouself. Voel dit asof jou grense nie gerespekteer word nie? As jy emosioneel versmoor voel, respekteer jou maat nie jou grense nie en jy moet dit verbaal oordra. Dalk besef jou maat nie dat hy/sy besig is om jou te versmoor nie en beleef hul verligting in die wete dat jy nie van hom/haar verwag om voortdurend deur die dag met jou te kommunikeer nie.
- Laat jou maat toe om homself te wees. Dalk is jy die een in die beherende rol. Laat jou maat toe om onafhanklike besluite te neem sonder vrees dat hy jou sal verwerp. Laat hom die spasie toe om te groei – dit sal hom gemaklik en veilig laat voel.
- Neem besluite op jou eie. Ja, dit is belangrik om jou maat te ken in sekere besluite, maar dit is ook belangrik om self te kan besluit wat jy aantrek, hoe jy jou hare dra, met wie jy vriende is en hoe jy jou tyd bestee. As jy en jou maat so gewoond raak daaraan om verwikkeld te leef, kom jy dit naderhand nie meer agter nie. Die konflik ontstaan sodra die een party besluit om ‘n besluit te neem sonder om die ander daarin te ken.
- Plaas klem op vertroue in jou huwelik. In ‘n gesonde huwelik heers daar vertroue in mekaar en in die verhouding. Praat eerlik met mekaar oor bekommernisse, bagasie en meer.
Vir ‘n huwelik om wel optimale intimiteit te beleef, moet twee individue vry kan wees in hulle saamwees. Dis ‘n wonderlike gedagte om te weet dat daardie vryheid ‘n geskenk in jou huwelik kan wees. Natuurlik kan té veel vryheid ook ongesond wees en moet jy en jou maat saam die goue middeweg vind. Dit sal dalk ‘n bietjie oefening verg, maar eindelik is die sleutelbegrip hier weereens: Kommunikasie!
Adddisionele bronne: www.bustle.com/www.popsugar.com
Artikel deur Annelize Steyn
***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?
Is jy gereed om in jou huwelik te belê?
Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!