BALLONNE MET ’N VERSKIL

Promosie

Vir sy volgende verjaardag, verras hom met iets unieks. As hy byvoorbeeld 38 jaar oud word, koop 38 ballonne in die kleur of kleure van jou keuse. Maak nou toutjies van dieselfde lengte (die lengte tussen die bokant van jul matras en die plafon) daaraan vas en maak aan die onderkant van elke toutjie ’n wasgoedpennetjie vas. Knyp nou met elke wasgoedpennetjie ’n foto vas waarop ’n mooi herinnering van jul lewens saam vasgevang is. Laat hang die ballonne teen die plafon sodat die foto’s bokant die bed hang. Dis asemrowend mooi!

DOKUMENTEER JUL AVONTURE!

Elke Nasionale Kruger Wildtuin-liefhebber ken daardie kaarte by die kampe waar besoekers kan wys wat hulle na aan die kamp gesien het deur ’n kopspeld in ’n spesifieke kleur in die kaart te druk. Wel, maak ’n soortgelyke kaart waarmee julle jul reise, avonture en ervarings kan dokumenteer. Plak die landkaart (of selfs die wêreldkaart as julle gretige reisigers is) bo-op ’n stuk spons, hardboard of polistireen. Sny nou die buitelyne van die kaart en oppervlak uit en maak dit vas teen jul slaapkamermuur. Besluit vooraf watter kleur kopspelde watter tipe ervaring simboliseer. Byvoorbeeld: groen = reise (soos vakansies), pienk = ervarings (soos bunjee jump), wit = drome (waarheen julle nog wil gaan). Julle kan selfs ’n rooie hê wat stoute ervarings verteenwoordig (waar julle al seks gehad het!).

Promosie

WORD WEER KIND…

Wat van aarbeie en room met ’n twist? Dit bly romanties, maar dis altyd pret om ’n bietjie kindwees in die verhouding terug te bring. Neem aarbeie, doop dit in gesmelte sjokolade en versier elke aarbei met allerlei partytjie-versierings (soos sjokoladesplinters, pienk hartjieversierings en hundreds and thousands). Gaan koop draairoomys by die naaste wegneemete-restaurant, doop die aarbeie daarin en voer dit vir mekaar!

 

Deur Annelize Steyn