Dis vroeg Sondagoggend. Ek sit by die lessenaar van ons villa in Houtbaai en skryf mooi woorde in die gasteboek. Voor my strek ’n muur van vensters van vloer tot dak, en ek kyk uit oor die asemrowende berge wat Houtbaai omvou. Die huis is stil. Nico lees op die bank onder. Maar binne my bruis dit van dankbaarheid – vir ’n plek wat nie net mooi is nie, maar wat iets in jou hart aanraak.
Ek het lank gesoek vir iets spesiaal. Ons wou by ons seun kom kuier, maar terselfdertyd ook net weer mekaar vind – sonder die geraas van die lewe. Net ek en hy. En dalk ’n glas wyn op ’n stoep met berguitsig.
Toe ontdek ons Luxury Eco Villa op LekkeSlaap (beslis een van my gunsteling apps)!
Hierdie huis, skaars ’n paar maande oop vir gaste, is soos ’n droom. Dis perfek geleë – aan die voet van Klein Leeukoppie, op die rand van ’n natuurreservaat, en net ’n paar minute se ry van Houtbaai se strand af. Jy voel dadelik: hier gaan ons kuier, ontspan en weer doen wat regtig saak maak.
Die huis is eko-vriendelik ontwerp, met lig wat natuurlik instroom en ruimtes wat asemhaal. Dis oopplan en dubbelvolume – die kombuis, sitkamer en eetarea vloei saam en nooi jou uit om stadig te leef. Bo wag twee slaapkamers, twee badkamers en ’n lessenaar-area vir wanneer jy moet werk (maar regtig, moet jy?). Dan stap jy oor ’n houtbruggie en ontdek ’n privaat braai-area, ’n buitestort en ’n ‘Kol-Kol Wood Fired Hot Tub’ onder die sterre. Só lekker. En boonop is daar ’n aparte tuinkothuis met plek vir twee ekstra gaste – perfek vir kinders of vriende wat oorslaap.
Wat ek die meeste geniet het? Die balans tussen saamkuier en alleenwees. Ons het op die stoep gekuier, saam gekook, gelag, en dan net stil langs mekaar gesit – sonder om iets te moet sê.
Houtbaai het my verras.
Ek het altyd gedink dis net ’n stranddorpie, maar daar’s ’n sekere energie hier. Pragtige natuurskoon, ’n beeldskone strand en helderblou see… en dan daardie klein ontdekkings: kunsgalerye, koffiewinkels, vars vis reg langs die water. Daar’s bergpaaie om te stap, wynplase om te ontdek, en ’n gemeenskap wat jou laat voel jy’s deel van iets besonders. Dis die tipe plek waar jy stadig wil ry, asem wil haal en alles wil inneem.
Luxury Eco Villa is ideaal vir paartjies wat wil ontsnap van die gejaag. Dis vir daardie spesiale naweek wanneer jy jouself én mekaar weer wil vind. Jy hoef nie ver te gaan om weer naby te kom nie – soms is een mooi huis en ’n stil oggend alles wat jy nodig het.
Wat ons naweek perfek gemaak het:
- ’n Plek wat mooi én stil is. Dis nie net oor luuksheid nie – dis oor die gevoel.
- Ons het die skedule gelos. Geen haas, geen plan nie – net wees.
- Klein dingetjies vir mekaar gedoen. Maak koffie. Maak ’n vuur. Hou hande vas.
- Bonus-reiswenk: Gebruik LekkeSlaap se app om die wonderlikste plekke in die land op te spoor. Hulle diens is uitstekend – stuur tot vir jou ‘n boodskap om te sê dis amper tyd vir jou wegbreek. Dis asof hulle saam met jou opgewonde is!
Dis in die klein oomblikke waar die groot liefde lê.
Luxury Eco Villa kan tot ses gaste akkommodeer. Bespreek op LekkeSlaap: https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/luxury-eco-home–garden-cottage
Daar is talle ‘lekkeplekke’ op LekkeSlaap: https://www.lekkeslaap.co.za/
Deur Liezel van der Merwe