Daar is verskeie redes waarom mense skei. Daar is net soveel redes waarom mense in ongelukkige huwelike bly. Een hiervan is die kinders met talle ongelukkige paartjies wat besluit om by mekaar te bly tot die laaste kuiken uit die nes is. Maar is dit ’n gesonde situasie? En wat is beter vir wie?

Promosie

Die maskarastrepe loop lyne oor haar wange, ook dáár waar die blou kol sit. Haar hande klem die koppie tee vas wat jy gemaak het en jy is woordeloos wanneer sy sê: “Ek het besluit om te bly. Janie is in matriek en Seuna is nou in standerd ses. Dit is die verkeerdste tyd vir hulle. Ek kan hulle nie nou deur ’n egskeiding sit nie.”

Wat antwoord ’n mens hierop? Sy is sielsongelukkig en in ’n huwelik met ’n man wat haar emosioneel en fisiek verinneweer, maar sy word ook van alle kante af gebombardeer met inligting oor die uitwerking van ’n egskeiding op kinders. Wat weeg die swaarste? Moet jy jou eie geluk opsyskuif te wille van die kinders? Moet jy skei omdat die kinders in elk geval aan die swaarste end trek? INTIEM het gaan ondersoek instel…

Wanneer saamwees nie ’n opsie is nie…

Promosie

Anita is ’n enkelouer. Sy en haar man het ’n paar jaar gelede geskei nadat hy ’n verhouding met een van haar vriendinne gehad het. “Hulle beweer albei hulle was nooit intiem nie, maar die vertroue tussen ons was verbreek.”

Haar man het vir haar gesê dit voel vir hom of hy met sy suster getroud is. “Ek het nog ’n jaar uitgehou en toe vir hom gesê dis nie meer lekker om met my boetie getroud te wees nie.” Teen die tyd dat sy finaal besluit het om te skei, was sy baie seergemaak deur haar man se ontrouheid en dat hy haar net as ’n “huismaat” beskou het. “Ek het geweet ek kan my kind grootmaak. My eksman was in elk geval nie ’n betrokke pa nie. Hy wou in die eerste plek nooit kinders gehad het nie. Ek het geweet ek en my kind sou okay wees.”

Die pad vorentoe was moeilik, want dit het ’n rukkie geneem vir haar om weer finansieel en emosioneel op haar voete te kom. Alhoewel haar kind baie jonk was toe hulle geskei is, het sy hom nooit van sy pa af probeer weghou nie. “Hy moes weet wie sy pa is, veral omdat hy ’n seunskind is.”

Sy glo vas kinders kan nie ’n huwelik red nie, maar weet ook as hulle ouers ongelukkig is. “Ek wens dit vir geen kind toe nie. Kinders met geskeide ouers het letsels, dit maak nie saak hoe jy daarna kyk nie. Ek wens ek kon my kind ’n ander lewe gegee het. Ek dink ’n mens moet eers hulp soek, maar daar is gevalle waar daar nie ’n ander uitweg is nie. Dis ’n lang en eensame pad. Jy sluk maar jou trane en probeer oor naweke besig bly.”

Wanneer skei nie ’n opsie is nie…

Susan sê sy en haar man het al oor skei gepraat, maar hulle het besluit om ter wille van hul drie kinders getroud te bly. “Ons het niks in gemeen nie. Sy stokperdjie is draf en meeste aande vat hy die pad. Juis wanneer die kinders moet gaan bad! Ek is meer kunstig en wil graag ander goed as hy doen. Al waar ons dieselfde belangstelling het, is as dit by die kinders kom. Ons is albei baie lief vir ons kinders en wil net die beste vir hulle hê.”

Sy sê sy het ophou baklei. “Ek het ’n besluit geneem om in die huwelik te bly en ek moet daarmee saamleef. Dit is nie altyd maklik nie. As ek na my seuns kyk, dan weet ek ek neem die regte besluit. Ons het saam ’n huis, ons hou saam vakansie, ons doen steeds alles as ’n gesin saam. Die seuns weet ek is hulle ma en hy is hulle pa. My hart sal breek as hulle in ’n gebroke huis moet grootword.”

Hulle het soms rusies voor die kinders, maar sy glo “alle paartjies” baklei soms voor hulle kinders. “Dis maar moeilik. Ons het al daaroor gepraat om vir berading te gaan. Ek dink tog die huwelik kan gered word. Dit gaan net geweldig baie toewyding van ons albei verg. Vir die kinders se onthalwe, dink ek dit is die moeite werd.”

Wie trek aan die kortste end?

Dit is ’n ekstra taai tameletjie: Hou julle ’n front voor en probeer maar net aangaan en oorleef in jul huwelik “ter wille van die kinders” of skei julle eerder juis om die kinders te beskerm teen jul konflik en ongelukkigheid? Daar word algemeen aanvaar dat kinders beide goeie sowel as disfunksionele patrone van hul ouers aanleer. Die belangrike vraag is wát leer kinders van geskeide ouers en wát leer hulle van ouers wat hul eie geluk opoffer ter wille van hul kinders? Dit is belangrik om te besef dat jou kinders se toekomstige emosionele gesondheid beïnvloed word, hetsy of julle gaan skei of bymekaar gaan bly.

‘n Berig in die Daily Mail UK het gesê dat een uit elke tien paartjies bymekaar bly ter wille van die kinders en dat hulle beplan om later te skei wanneer die kinders oud genoeg is. Die finansiële, emosionele en fisieke druk van die moderne lewe plaas geweldig baie druk op verhoudings en is moontlik die dryfveer agter dié ontstellende hoë syfer. Daar is ouers wat gedwing voel om bymekaar te bly en hul eie geluk opsy stoot, maar hulle oorweeg nie altyd die uitwerking wat dit moontlik op die kinders kan hê wat in dié vyandigheid grootword nie.

Skokstatistiek in dié verband

’n Gedetailleerde studie wat onder 2 000 paartjies uitgevoer is, het getoon dat 83% van die paartjies ’n groter poging aangewend het wanneer die kinders tuis is, maar net 5% sê dat hulle hul probleme kon uitsorteer. ’n Skokkende 72% van dié wat gesê het dat hulle net saambly en as paartjie voor die kinders optree, het gesê dat hulle inderwaarheid hulself as “geskei” beskou.

Ses uit tien van dié paartjies wat bymekaar gebly het ter wille van die kinders het gesê dat hulle wil wag totdat hul kinders ten minste 18 jaar oud is of selfs verkies dat hul kinders eers op universiteit gevestig is voordat hulle hul lewens afsonderlik beplan. Dieselfde navorsing het ook bewys dat van die ouers wat geskei het, was 75% spyt dat hulle in hul verhouding gebly het ter wille van hul kinders en dat bykans 90% nou erken dat hulle vroeër sou loop indien hulle ondersteuning gehad het.

Volgens Statistiek SA het 11 475 (54,7%) van 20 980 egskeidings in een jaar kinders jonger as 18 jaar beïnvloed. Daar was 18 571 kinders (jonger as 18 jaar) wat betrokke was in egskeidings en dit beteken dat daar gemiddeld een tot twee kinders per egskeiding was.

Wat sê die kenners?

Dr Charlene Lauff, ’n sielkundige van Kimberley, sê ’n mens moet nie noodwendig onderskeid tref tussen jou en jou kinders se geluk nie. “As dit met ’n ma sleg gaan en sy nie meer ordentlik na haar kinders kan omsien nie, is dit nie meer ’n of/of-situasie nie. Die invloed is dan só erg dat dit die kinders benadeel.” Jy moet jouself afvra: Is die situasie werklik goed vir my kinders? Leer dit byvoorbeeld jou kind dat emosionele afkraking reg is, of vir jou seun dat dit is hoe ’n man sy vrou moet behandel? Charlene sê dis belangrik om te onthou dat kinders nie doen wat ons sê nie, maar wel wat ons dóén.

Daar is definitief situasies waar ’n vrou nie werklik ’n keuse het nie. As manlief sy vuiste vir jou lig of enige middel soos alkohol of dwelms misbruik, moet jy liefs jou tasse pak. Só ’n situasie kan lewensgevaarlik vir jou en jou kinders wees. Charlene sê ontrouheid val ook soms in dié kategorie, maar dis ’n baie persoonlike besluit. “As dit egter ’n patroon word, moet ’n mens weet jou wederhelf se gedrag gaan nie verander nie.”

Is daar ooit ’n “goeie tyd?”

’n Egskeiding is altyd ’n breukspul. Volgens Charlene aanvaar kinders van ’n jaar of twee en babas egter die situasie makliker. Hulle word basies met enkelouers groot vandat hul kan onthou. Kinders van so tien jaar en tieners kry baie swaar, veral as hul dit nie verwag het nie. Maar kinders integreer met elke ontwikkelingsfase weer die egskeiding. ’n Sesjarige sal byvoorbeeld vra hoekom pappa in ’n ander huis bly, terwyl ’n tiener eerder wil weet hoekom dit gebeur het. Vrese ontstaan ook dat só iets eendag met hulle ook kan gebeur.

Baie vroue voel hulle moet maar net vasbyt, ten spyte van die omstandighede, maar Charlene beklemtoon dat vrede in jou lewe meer werd as enigiets is. “As ’n huwelik besig is om jou hele menswees te vernietig, sodat jy later nie meer weet wie en wat jy is nie, dan is om te bly meer destruktief as om die stap na die onbekende te neem.” Dis ’n groot, onseker stap en niemand kan vir jou sê hoe dit gaan wees as jy jou goed vat en loop nie. Maar as jy op ’n plek kom waar jy sien die situasie vernietig jou hele menswees, sowel as jou kinders s’n, moet jy mooi dink of jy werklik wil bly. Is dit nog die moeite werd vir jou?

Wat is die Christelike perspektief?

Die huwelik is ’n instelling van God. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. God haat egskeiding. Die uitgangspunt vir die gelowige wat huweliksprobleme het, is nie die weg van die minste weerstand (egskeiding) nie, maar die moeisame pad na huweliksherstel.

Bogenoemde is volgens Barend Vos, ’n predikant en skrywer, die heersende Bybelse en kerklike standpunt oor die heiligheid van die huwelik. Predikers word geroep om dit te verkondig en gelowiges word opgeroep om hulle daarvoor te beywer.

“Daar is dikwels ’n vername (die vernaamste!) derde party in ’n verbrokkelende huweliksverhouding: die kinders,” sê Barend. “Hulle het nie gevra om daar te wees nie. En hoeveel is nie juis verwek toe struwelende ouers besluit het om weer ‘op te maak’ nie? Nou is hulle onlosmaaklik deel van die huwelik en daarom ook deel van die mislukte huwelik. Die vraag vir elke gelowige ouer is: Wat sal vir hulle, die (enigste?) onskuldige party in dié situasie, die beste wees? Belangriker nog: Hoe sou die Here wou hê moet ek my kinders in só ’n slegte tyd teen nog groter skade beskerm?”

Barend meen verder: “Elke situasie is uniek: Daar is geen pasklaar antwoorde nie. Maar in hierdie opsig is alle kinders eenders: Die huweliksonmin tussen hulle ouers is vir hulle traumaties, al hanteer elkeen die trauma op sy of haar eie manier. Ouers moet wéét van hierdie trauma, al hou die kind ’n dapper front voor. Professionele hulp is feitlik altyd die gewenste uitweg. ’n Egpaar wat oor ’n lang tyd met mekaar baklei, spreek soms ’n huweliksberader, maar watter professionele persoon sien na die kinders om? Of word dit maar aan ’n begrypende onderwyser of bekommerde predikant oorgelaat? Of erger, ’n vriend? Want hoe kosbaar vertrouelinge en simpatieke buitestanders ook al is, hulle hande is weens ’n gebrek aan kennis, of juis hulle subjektiewe betrokkenheid, agter hulle rug vasgemaak.

Hy meen dat egskeiding altyd die allerlaaste uitweg is. “Dié besluit kan net geneem word nadat alle ander (uit)weë uitgeput is. Gelowiges wat uiteindelik só besluit, doen dit in die diepste droefheid voor die Here en in erkenning van hulle afhanklikheid van Hom. En met ’n roep om hulp: ‘Here, help my kinders! Help my om steeds die beste ma/pa te wees wat ek kán. Vergewe my vir dit wat ek (ons) hulle aangedoen het. Leer my, elke dag, die pad wat ek met hulle in hierdie stukkende situasie moet loop.’”

Wat sê die slagoffers van egskeiding self?

INTIEM het ons Facebookers gaan vra hoe hulle as kinders hul ouers se besluit om te skei ervaar het. Hier is ván hulle se kommentaar:

  • “Dit het ’n groot scar in my lewe gelos. Ek sukkel vandag met rejection as gevolg van die egskeiding. Ek sou verkies het hulle moes bymekaar bly sodat ek ook kon sien wat liefde werklik is.”
  • “My ouers is eers ’n paar jaar nadat ons uit die skool uit is geskei. As dit vroeër gebeur het, sou daar minder seer gewees het en kon minder tyd gemors gewees het.”
  • “Jy leer om daarmee saam te leef. Dis die wonderlike ding van kindwees – die aanpasbaarheid. Dit het wel sy merk gelaat. Ons almal is trousku en sukkel met vertroue.”
  • “Dit het my gou grootgemaak. Ek dink dit was die beste ding wat hulle vir mekaar kon doen. Moenie kinders onderskat nie, hulle weet baie goed as dinge in die huishouding nie in plek is nie. Jy doen jou kind ’n onreg aan as hulle konstant bewus moet wees van die ongemak tussen pa en ma.”
  • “Dit het ’n baie negatiewe uitwerking op my lewe gehad. Soveel só dat ek vandag op die ouderdom van 32 nog nie getroud is nie. Byna al die mense met wie ek daagliks interaksie het, is geskei en ek sien die negatiewe uitwerking wat dit op hul kinders het.”

Is jy werklik gereed vir ’n egskeiding?

Gebruik die volgende vrae van die sielkundiges Bruce Derman en Wendy Gregson (beskikbaar op divorcemag.com) om jou huwelik te evalueer.

  1. Is julle werklik getroud? Om werklik getroud te wees moet julle ’n “ons” en nie ’n “ek” verhouding hê nie, anders sal daar nooit harmonie in julle huishouding wees nie. Albei partye moet compromises kan maak. There is no I in team.
  2. Hoekom wil julle skei? As jy net jou maat wil seermaak of manipuleer, is dit nie die regte besluit nie.
  3. Het jy alles in jou vermoë gedoen om die huwelik te red?
  4. Het jy die besluit goed deurdink of is dit net ’n emosionele reaksie? Mense dreig baie keer in die heat of the moment om van hulle maats te skei. Egskeiding beteken egter jy moet alle emosionele bande met jou maat kan breek – negatief sowel as positief. Geen slegpraat van mekaar na die tyd nie!
  5. Kan jy die onaangename gevolge hanteer? Jy gaan moontlik ’n paar vyande maak in die proses – familie wat ongelukkig is en vriende wat kant kies. Sal dit beter vir jou kinders wees as jy en jou maat nie meer saam is nie? Gaan dit hul lewens heeltemal ontwrig?
  6. Is jy voorbereid vir die finansiële implikasies?
  7. Is jy gereed om ’n co-parent te wees? Jy gaan jou kinders moet deel oor naweke en vakansies en elke keer jou maat sien wanneer die “ruiling” plaasvind. Kan jy die situasie op ’n volwasse manier hanteer?

Indien veranderinge in jou lewenstyl en finansies jou nie aanstaan nie, jy nie jou kinders se hartseer kan hanteer en jy jouself nie emosioneel, fisiek of spiritueel van jou maat kan losmaak nie, is ’n egskeiding moontlik nie die antwoord nie.

 

Deur die INTIEM Redaksiespan
Addisionele bronne: www.dailymail.co.uk. www.statssa.gov.za