Dit is binnekort my man se verjaardag, maar my finansies is knap! Ons het onlangs huis gekoop en is ’n baba ryker. Ek het my werk bedank om voltyds ma te wees, maar ons sukkel om die mas op te kom. Vir my man is dit baie sleg (hy voel dat ek net die beste verdien) en ek wil hom graag bederf met ’n geskenk wat hom nie nóg slegter sal laat voel oor ons geldsake nie. Enige goedkoop geskenk-idees?
Jy kan sy dag baie spesiaal maak deur hom heeldag te wys jy dink aan hom en dit gaan jou nie veel uit die sak jaag nie:
- Begin deur ’n mooi kaartjie te maak van jou en van manlief se eersteling af. Gebruik die kleintjie se hande en voete om afdrukke te maak en skryf ’n mooi boodskap binne-in die kaartjie. Dit gaan jou ’n stukkie karton en ’n klein bietjie oorskietverf/ink kos en waarskynlik sy spesiaalste verjaardagkaartjie ooit wees!
- Gee dit vir hom saam met ontbyt in die bed. Die volwaardige koningsontbyt – spek, eiers, roosterbrood en koffie. Gooi ’n muffin in die mix vir ekstra bederf.
- Pak vir hom ’n piekniek vir middagete in sy tas as hy moet gaan werk. As dit ’n vakansiedag is, pak ’n piekniekmandjie en hou piekniek in die agtertuin.
- Maak ballonne aan sy kar vas. ’n Ballon skreeu: Jy kan notas binne-in die ballonne sit (elkeen met een eienskap wat jy van hom bewonder daarop) en hom ’n speld gee om elkeen te prik.
- Bel sy baas en probeer dié oorreed om hom vroeg af te gee. Dit sal ’n lekker verrassing vir hom wees – veral as hy weet jý het dit gereël! Verras hom met ’n kaartjie in jou mooiste onderklere . . .
Deur Annelize Steyn