Weet jy wat is intimiteit? Dit is een van daardie nie-tasbare dinge…wat jou en jou maat na aan mekaar laat voel. Dit is iets wat jou laat voel asof julle saam die wêreld kan verower en of niks saak maak nie – solank hy daar is.

Dis daardie sewe sakke sout wat lei tot intimiteit . . . Jy word ouer, kry kinders en wanneer dinge goed gaan, voel julle asof julle saam enigiets kan oorwin. But then life happens. Die nitty gritty kom en stelselmatig waai daardie intimiteit by die agterdeur uit, tot dit voel of julle later net blote huismaats is en net hoflik (of juis nié so hoflik nie!) teenoor mekaar optree. So, hoe kry ’n mens daardie geheime bestanddeel terug in jou huwelik?

Baie mense meen daar is niks fout met ’n vinnige verhouding tussen mense wat gou trou nie – voeg net die passie by! Só meen dr JR Bruns en RA Richards II op Psycology Today se webtuise. Hulle maak egter ’n fout, meen die kenners, deur beheptheid met mekaar te verwar met intimiteit. Sielkundige Harriet Lerner van die Menninger Clinic meen ware intimiteit is ’n “verhouding waar ’n mens jouself kan wees en spasie vir iemand anders kan laat om dieselfde te doen, waar ons die waarhede wat ons mekaar
vertel kan verdiep en herdefinieer, en waar ons mekaar kan hoor en met mekaar kan praat oor sensitiewe inligting”.

Ongelukkig is dit ook so, dat indien jy wel met ’n baie goeie maat getroud is en in ’n goeie huwelik staan, dat jy nie altyd geestelik op dieselfde vlak as jou maat is nie.

Promosie

Huwelikspaartjies verloor hul passie deur die jare weens verskeie redes – soos finansiële druk, die druk om kinders groot te maak en ’n gebrek aan kommunikasie.
Mettertyd begin paartjies mekaar as vanselfsprekend aanvaar vanweë hul besige skedules. Mans en vroue begin vergeet dat hul verhouding onderhoud nodig het. So, hoe kry jy die vonk terug? Hoe herwin jy daardie intimiteit wat julle eens gehad het?

Sit drie dae opsy vir die intimiteitsplan – verkieslik die Woensdag, Donderdag en Vrydag vóór ’n naweek wat julle saam sal deurbring (sodat die naweeksdae gebruik kan word om die intimiteitsband net nóg meer te versterk). Ja, dis moontlik om in slegs drie dae jul intimiteit weer op ’n vlak te kry waar julle voel julle is tog innig lief vir mekaar. Probeer dit.

WOENSDAG:
1. Stel vanoggend die wekker ’n bietjie vroeër. Maak mekaar wakker met ’n soen en ’n stywe druk. Lees saam iets uit die Bybel of uit ’n dagboek. Gesels daaroor en bid saam. Bid vir jul huwelik en bid dat julle saam ’n nuwe vlak van intimiteit in jul huwelik kan ontdek.
2. Dink vandag hard en goed aan die negatiewe gedrag in jul huwelik. Waaroor gaan die meeste van jul rusies? Kritiseer jy hom voor ander mense? Weier jy om haar te help met die kinders? Dít is die intimiteitsdiewe. Sit vandag nog hierdie diewe in die tronk sodat hulle nie jul huwelik kan regeer nie. Besluit om minstens vir die volgende drie dae met alles in jou teen jou slegte gewoontes te veg.
3. Vir die volgende drie dae is seks ononderhandelbaar. Begin dus vanoggend nog. Die waarheid is: Hoe meer seks jy het, hoe meer seks wil jy hê. En wanneer ’n mens seks het, vind ’n sielsverbinding plaas – dis onmoontlik om nié na aan jou maat te voel as julle so pas liefde gemaak het nie.
4. Stort saam. Baie paartjies meen daar is nie geleentheid vir alleentye nie. Ja, die kinders kan jou oral pla, maar hopelik los hulle jou darem uit wanneer jy stort. Doen dit saam. Só skep julle ’n intieme ruimte en die geleentheid om na aan mekaar te voel en te wees.
5. Wys jul liefde voor die kinders. Dis die beste geskenk wat jy hulle kan gee deur mekaar vas te hou of ’n drukkie te gee voor hulle. Só sien hulle ’n voorbeeld van hoe hul toekomstige verhoudings veronderstel is om te wees.
6. Vanaand, voor slaaptyd, skryf vyf dinge neer wat jou maat gedoen het toe julle jonger was en wat jy mis. Skryf byvoorbeeld: “Ek het daarvan gehou dat jy altyd my hand gevat het wanneer ons oor die straat stap.” Ruil mekaar se lysies voor slaaptyd uit en maak regtig ’n punt daarvan om jou maat se begeertes te vervul.

DONDERDAG:
1. Gesels vanoggend wanneer julle wakker word oor wat romanse vir elkeen van julle beteken. Mans en vroue kyk verskillend na romanse. Vir hom is ’n sexy nagrokkie waarskynlik romanties, terwyl dit vir jou romanties is as hy jou bed snags warm lê voor jy inklim. Luister mooi na jou maat se definisie van romanse en neem dit ter harte.
2. Kyk vandag na jul dagboeke vir die volgende maand. Skryf nou ’n date night neer en beplan ook sommer ’n romantiese naweek in die volgende drie maande. Dit klink dalk half onromanties en allesbehalwe spontaan, maar as julle wag vir spontaniteit, mag die date night dalk nooit plaasvind nie!
3. Doen vandag iets moois vir jul slaapkamer – skep ’n kreatiewe atmosfeer vir seks. Dit hang af van jou begroting en jou tyd. As jy baie tyd het, kan jy dalk iets moois skep (soos ’n kunswerk vir die kamer). As jy baie geld het, kan jy dalk ’n nuwe stel Egiptiese katoenlakens koop. As jy laag is op geld en tyd, wat van ’n bos veldblomme vir jou kamer?
4. Gee vandag jou volle aandag aan jou maat wanneer hy met jou praat. Gee hom ’n mooi kompliment en maak jou prioriteit vandag om jou maat spesiaal te laat voel. Maak ook tyd saam prioriteit. Gaan stap om die blok en gesels oor diep dinge. Of sit op die stoep en gesels oor ’n koppie koffie.
5. Wees bedagsaam. Bel jou maat as jy sien jy gaan laat werk, vra hom waarvoor hy lus is vir aandete. Gee haar kans om gou voor jou in die stort te spring. Dit kom weer neer op basiese maniere en om die ander een in ag te neem, en dit is magic vir ’n huwelik!
6. Bly vanaand by die huis. As die kinders slaap, skakel die televisie en selfone af en trek ’n bordspeletjie of ’n pak kaarte nader. Sorg dat daar niks agtergrondgeluide is nie en hê net lekker pret met die fokus op mekaar. Terwyl julle speel, raak aan jou maat.

VRYDAG:
1. Vanoggend, ná Bybelstudie, gesels oor jul doelwitte saam, of jul tienjaarplan. ’n Paartjie wat saam droom, kan baie vermag en solank julle saam na ’n toekoms toe werk, kan julle baie oorwin. Skryf dit ook neer, tesame met ’n datum in jul dagboeke en ’n reminder op jul selfone vir wanneer julle weer hierdie doelwitte moet hersien. Skryf ook ’n mission statement vir jul huwelik en gesin, waarin julle neerskryf waarheen julle wil hê die familie en gesin moet groei.
2. Gee mekaar vanoggend ’n soen wat minstens sewe sekondes lank duur. Baie lang getroude paartjies vergeet daarvan om mekaar te soen en onderskat die waarde van ’n goeie soen.
3. Maak vandag of vanaand seker jy prys jou maat in die openbaar, of gee hom of haar ’n kompliment voor iemand anders. As julle heeldag in verskillende rigtings geskiet het, bel jou ma en vertel haar met hoe ’n goeie maat jy getroud is (met dié maat binne hoorafstand).
4. Hou vanaand ’n piekniek op die vloer. Om saam ’n kombers en vingerkos te deel, is ’n baie intieme ervaring. Die afwisseling op die normale sal ook opwindend wees en so, in eenvoud, regoor mekaar, sal julle besef dat al wat julle regtig nodig het, mekaar is.
5. Behou oogkontak met jou maat. Goeie oogkontak stuur ’n sein dat jou maat se woorde vir jou belangrik is. Dit sal hom/haar waardevol laat voel.
6. Vertel vanaand vir jou maat hoe belangrik hy of sy vir jou is. Dat jy niks meer nodig het as sy teenwoordigheid in jou lewe nie en dat jy groot drome vir jul huwelik het. Vertel ook vir hom hoe dankbaar jy teenoor hom is vir alles wat hy vir jou gedoen het en steeds doen.
Probeer nou om alles wat julle in dié drie dae ’n probeerslag gegee het, in te stel as ’n gereelde ervaring in jul huwelik en julle sal kort voor lank sien hoe julle weer al nader aan mekaar begin groei.

Addisionele bronne: pureromance.com, familylife.com.

Artikel deur Annelize Steyn