Soms verg dit klein pogings om ’n groot verskil in jou huwelik te maak. Beproef dié taktieke om jou huwelik van so-so na uitsonderlik te verander!
As jy net gefokus is op die groter prentjie van jou huwelik, raak die kosbare detail in die harwar verlore. Intimiteit word gemeet in spesiale oomblikke – ’n kyk, ’n soen, ’n oomblik van oorgawe. Skenk ’n slag aandag aan elke klein spikkel wat die kleurvolle spektrum van julle huwelik opmaak. As jy sorg vir die klein dingetjies, sal die groter dinge vanself uitgesorteer word. Hier is sewe maniere om met klein gebare ’n groot verskil te maak:
- Vestig unieke rituele
Bou en vestig spesifieke rituele wat julle verhouding deurlopend ondersteun, sê Carien du Toit, ’n sielkundige en imago-terapeut in ’n privaat praktyk. Klein, gereelde rituele bring ritme en veiligheid omdat daar altyd iets is om na uit te sien. “Uitdagings en probleme word – op ’n daaglikse basis – tydelik opsygeskuif om eers by jou maat in te check. Julle kan byvoorbeeld ’n lekker warm bad elke aand deel. Jy tap die water in terwyl jou maat sorg vir drankies op die bad se rand. Wat ook al vir julle werk – elke verhouding sal ’n unieke ritme hê.” Rituele kan enigiets insluit: Van ’n glas wyn op ’n sekere tyd elke aand, tot ’n storie wat julle saam kyk, ’n boek wat julle saam lees, of net om mekaar op ’n spesifieke dag elke week iewers in ’n parkie te kry vir ’n roomys. Onthou die waarde van post-it notas! Hou sommer ’n pakkie in die messelaai waar dit byderhand is en julle vir mekaar spesiale boodskappe op die yskas kan los. Later kan julle hierdie boodskappe in ’n boek plak.
- Begin ’n dagboek vir twee
Koop ’n eenvoudige hardebandboek en versier die voorkant met ’n gelukkige foto van julle twee. Maak ’n lys van al die redes waarom jy lief is vir jou maat – jy gebruik die een helfte en allokeer die ander helfte aan hom of haar. “Die idee van die dagboek is dat dit ’n work in progress is wat nooit ophou nie,” sê Carien. “Elke klein ietsie wat jou maat doen wat jy bewonder of voor dankbaar is, skryf jy neer. Dis ’n working document. As hy byvoorbeeld altyd die vullissakke uitsit, skryf dit neer. Dalk waardeer jy sy sterk arms wanneer hy help om die inkopiesakke af te laai.” Die idee van die dagboek vir twee is dat dit julle bewus maak van mekaar se klein, deurlopende pogings om moeite vir mekaar te doen. En dis natuurlik ook baie lekker om te weet jou maat waardeer jou en sien jou moeite raak!
- Geniet TV-tyd bewustelik saam
Soms moet julle die televisie (en slimfone!) heeltemal afskakel om mekaar se geselskap ten volle te geniet, maar om saam televisie te kyk kan ook lekker ontspanning bied. “Dis egter belangrik om die saamwees daarin raak te sien,” sê Carien. “As albei van julle dieselfde televisiereeks volg of dieselfde flieks geniet, wikkel jouself lekker warm toe en kruip onder jou man se arm in. Hou vroulief se hand vas, vryf dalk haar voete of streel oor haar hare. Die belangrike deel is dat julle connect en nie net bewusteloos vir die televisie staar nie.”
- Vermaak die kinders alleen
Gun jou maat ’n bietjie alleentyd om verlore slaap in te haal of om ’n gesigbehandeling te kry, en bied aan om die kinders te vermaak, verduidelik Carien. “Dit is veral ’n wonderlike geskenk vir tuisbly-mammas wat meestal die verpligtinge van kinderopvoeding bestuur. Pappa kan byvoorbeeld aanbied om die volgende rondte kinderpartytjies op hom te neem sodat vroulief ’n Saterdagoggend vir haarself kan hê.”
- Raak gereeld aan mekaar
Fisieke aanraking is beslis nie net vir pasgetroude paartjies beskore nie. “’n Mens se vel is gemaak vir aanraking,” sê Carien. “Jou brein skei oksitosien af wanneer jou geliefde aan jou vat.” Oksitosien word ook die cuddle-hormoon genoem, omdat dit ’n groot rol speel in die gevoel van nabyheid en verbintenis. “Dit is, terloops, ook die hormoon wat die oorweldigende gevoel van liefde by ’n nuwe mamma laat opvlam omdat dit as deel van die geboorteproses vrygestel word.” Aanraking is natuurlik nie beperk tot voorspel en seks nie – hou hande vas as julle stap, laat rus jou hand op sy been as hy bestuur of smeer room aan haar rug na ’n warm bad.
- Vra jou maat vir sy inkopielys
As jy weer winkel toe gaan, bel jou maat en vra spesifiek of hy iets nodig het. “Dis ietsie kleins wat vir hom kan tyd spaar en ook wys dat jy graag sy dag vir hom ’n bietjie makliker wil maak.” Op daardie noot, kan jy ook kyk hoe vol is sy brandstoftenk en ook sommer sy windskerm laat was. “Omdat die man dikwels die huweliksmaat is wat sorg vir die motors se onderhoud en welstand, wys dit juis dat jy sy juk ligter wil maak.” Wys hom dan sommer daardie aand hoe hy mooi kan dankie sê!
- Word ’n tatoeëerkunstenaar
Koop ’n pakkie dun-punt kleurpenne (maak net seker dis nie-permanent!) en hou dit in die bedkassie langs julle bed. Maak elke oggend voor opstaantyd jou maat wakker met ’n nuwe “tatoeëermerk” op haar lyf. Kies ’n intieme plekkie, soos net bokant haar heup of langs haar bors, en haal jou beste kunsvernuf uit. Teken ’n klein prentjie wat haar aan jou liefde herinner. Dit kan selfs iets eenvoudig wees, soos haar naam en jou naam, gekoppel met ’n hartjie. Dis klein, maklik, kos niks en dis net julle sexy geheim. En môre kry sy weer ’n splinternuwe ene! Boonop kan dit ook ’n baie erotiese ervaring wees vir beide van julle.
Sodra jy een of meer van bogenoemde onder die knie het, behoort jou inspirasie losgewikkel te wees sodat jy jou eie klein treë kan uitdink om groot belonings in jou huwelik te ontvang.
Deur Anja van den Berg