Wat maak jy wanneer jou man uit die bloute aankondig dat hy jou nie meer lief het nie? Wat maak jy as hy jou reeds met ’n ander vrou verkul het? Linda Botha vertel haar verhaal van verbete vasklou aan geloof en haar flenter-huwelik.

Promosie

Sowat twee jaar gelede het Linda agtergekom dat haar man afsydig geword het. “Hy was gewoonlik baie liefdevol, maar daar was ’n afstand tussen ons.” Hulle het kort daarna op die stoep gesit toe ’n boodskap op sy foon geflits het, wat sê “Thanx, Steven” met ’n emotikon wat knipoog. Dit het op die oog af vir Linda heel onskuldig gelyk, maar iets in haar was kriewelrig.

Sy het vlugtig die naam gesien en gevra wie dit is. Hy het gesê dit is ’n klerk by sy werk. Linda was agterdogtig oor dié kollega. Steven het skuldig gelyk, maar dit as niks afgemaak. Sy het vermoed daar is ’n slang in die gras. Linda het daardie nag gedroom van ’n geel en swart slang. Toe sy ’n paar dae later die naam op Steven se foon opsoek, was daar ’n foto van ’n slang met swart hare en ’n geel bostuk aan.

DIE TEKENS WAS DAAR

Promosie

Steven het haar alreeds vir sowat drie maande verkul toe sy net nie langer meer die tekens kon ignoreer nie. “Daar is iets in ons vroue wat só graag net die beste wil glo. Wat nie wil glo dat hierdie man vir wie jy so lief is, só ’n verskrikking aan jou kan doen nie.”

Hy het meteens langer werksure gehad, sy selfoon is met die skerm na onder neergesit en hy het “vergeet” om sy trouring aan te sit of dit eerder in sy broeksak geplaas. Hy het ook krities geword op Linda en haar byvoorbeeld verwyt oor aankope op die kredietkaart, waar dit nooit voorheen die geval was nie.

’N HOU IN DIE MAAG

“Ek het jou nie meer lief nie. Ek wil skei.” Hierdie gevreesde woorde het Linda se wêreld een doodgewone Donderdagaand heeltemal laat verkrummel. Dit het haar baie hard getref, want sy en Steven was albei voorheen getroud.

“Ek was tot in my diepste wese geskok en seergemaak, platgeslaan. My mond was droog en my binnekant het geruk. Aanvanklik kon ek Steven net stom aanstaar. Wie is hierdie man voor my? Ek sal nooit vergeet hoe Steven daardie aand gelyk het nie. Hy het sy arms styf teen sy lyf gehou, sy oë koud en sy mond ’n dun lyn.

“Ek wou eers wegloop, maar toe tref ’n woede my. Ek het stadig tot voor hom geloop, hom waterpas in die oë gekyk en hom vertel dat ek nie die sedige en ruggraatlose vrou is aan wie hy blykbaar gewoond geraak het nie. Ek het hom vertel dat ek nié in die niet gaan verdwyn sodat hy en die vrou met hul goddelose lewe kan voortgaan nie.”

Linda het daardie nag in die spaarkamer gaan slaap en haar persoonlike besittings die volgende dag soontoe geskuif. “Toe die doodsheid ongeveer twaalf ure later lig, het ek myself huilend in Sy arms gewerp. ‘Nie nog ’n egskeiding nie, Here!’ het ek gesnik.”

Hulle het vir drie maande só geleef. Steven het later erken dat hy geweet het sy verhouding met die ander vrou is net ’n tydelike ding. Hy het nie geweet hoe om hom uit die situasie te bevry nie en was redelik seker dat Linda hom sou uitskop.

GEESTELIKE OORLOGVOERING

Linda het gekies om nié te gaan lê nie. Sy het besef sy het vir vyf jaar haar verhouding met God afgeskeep. “Dit was gedeeltelik as gevolg van my skuldgevoelens oor my egskeiding, maar veral ook uit vrees dat dit Steven sou ‘afsit’. Ek het geweet dat hy nie ’n wedergebore Christen was toe ek met hom getrou het nie.”

Linda het in daardie tyd geweet dat die Here besig was om met Steven te werk. Sy wou een oggend die handdoek ingooi en het huilend op haar knieë voor die Here gepleit. Sy het ervaar dat sy vir haar man moes bid. Sy het altesaam sowat tien maande lank gebid, soms gevas en maande lank die geestelike stryd gestry. “Ek het by tye moedeloos geraak en het sleg geslaap. Ek het baie gewig verloor, my hare het uitgeval en ek wou ’n paar keer opgee. Dit is net die Here se genade wat my staande gehou het.

“Ek het van die begin af vir ’n strategie gebid – God gee altyd wysheid. Ek het onder andere Psalm 84 my mantra gemaak. Wanneer ek smiddae ná werk en gym tuisgekom het, het ek my dadelik in my kamer afgesonder om die Here te aanbid.” As deel van haar reis het sy dagboek gehou van haar ervaring en ’n verskeidenheid van Skrifgedeeltes gebid.

’N BOS ROSE AS TEKEN

“Ek het na daardie oggend aanhou bid en alhoewel ek aan die een kant seker was dat ek werklik by God gehoor het, was daar maar ’n stukkie twyfel. ’n Dag of wat later het ek die oggend voor werk na ’n bekende prediker geluister wat getuig het hoe hy vir God ’n teken gevra het rakende ’n sekere ernstige saak in sy lewe en hoe God hom geantwoord het!

“By die werk het ek Hom om ’n spesifieke teken gevra. Ek het gevra dat indien ek reg gehoor het, indien die Here vir Steven en ons huwelik gaan red en seën, dat Steven daardie aand huis toe sou kom met ’n reuse groot bos rose. Onmiddellik nadat ek dit gevra het, was ek spyt. Sê nou net dit gebeur nie, wat dan?

“Skaars was ek tuis, toe Steven laat weet het dat hy ook op pad is. Hy het daar gestaan met die grootste bos rose wat ek nog ooit gesien het! My hart het oorgeloop van dankbaarheid – ek kon nie ophou huil nie. Die Here se getrouheid het my oorweldig en my geloof versterk.

“Ek het ook van daardie oomblik af geweet dat die Here die band tussen Steven en die vrou sou vernietig. Mettertyd het ek gesien hoe hy ten goede verander. By ’n paar geleenthede het ek met Steven gedeel dat hy wedergebore moet word. Dan het hy geantwoord dat hy nie daarin glo nie. Ek het nooit met hom daaroor gestry nie, net gesê dat dit God se wil is, nie myne nie.”

TWEE DEURBRAKE

“Toe gebeur dit! Een Sondagaand, in Julie 2016, het hy my gevra of ek vir hom sal bid, hom na die Here toe sal lei. Ek glo dat sy afdanking vyf dae later (die tweede deurbraak) ’n tweeledige doel gehad het: God het Steven uit die vrou se teenwoordigheid verwyder en hom op sy knieë gedwing.

“Steven was nou voltyds by die huis. Soggens sou hy saam met my na ’n boodskap op YouTube luister. Sondae het ons ‘kerk gehou’ deur na evangeliste op die televisie te kyk. Hy het baie vrae gehad en was oop vir die Woord van God.”

Linda het aanlyn hulp gesoek en op ’n Christenforum op wonderlike hulpbronne afgekom. Hulle het ook saam deur ’n reeks DVD’s gewerk. Gebed, Bybel lees en alleentyd het hulle baie gehelp.

Linda en Steven se reis is nog lank nie verby nie, maar hul verhouding groei elke dag. “Saam hou ek en Steven vas aan die Een vir wie en deur wie ons leef, want ons besef dalk nou eers hoe groot Sy genade is.”

Steven het Linda onlangs met oë vol trane bedank dat sy vir hom baklei het, toe hy nie self kon of wou nie.

RAAD:

Suné Pienaar, ’n aanlyn-berader van Querencia Consulting, sê een van die mees intense vorme van verwerping wat ’n mens kan ervaar, is om te hoor dat ’n mens se lewensmaat jou nie meer lief het nie.

“Dit is normaal om emosioneel te reageer. Hoe moeilik dit ook al mag wees, behoort daar nie dadelik drastiese besluite oor die toekoms van die verhouding geneem te word nie. Wanneer ’n mens se ‘emosionele brein’ oorneem, word die rasionele brein uitgesluit. Besluitneming in hierdie fase word dus negatief beïnvloed en behoort uitgestel te word,” sê Suné.

Suné sê die volgende stap is om saam met ’n terapeut en jou eggenoot deur die warboel van emosies te werk en te bepaal waar die wortel van die probleem lê. “Wanneer wel tot versoening ingestem kan word, ná ’n buite-egtelike verhouding, is dit belangrik dat erken word dat die pad na herstel nie ’n vinnige, maklike proses is nie. Die persoon wat die buite-egtelike verhouding aangeknoop het, is soms gelaai met skuldgevoel en wil hê dat herstel vinniger moet plaasvind as wat soms moontlik is vir die eggenoot.

“Alhoewel daar nooit regverdiging kan wees vir ’n buite-egtelike verhouding nie, behoort die persoon wat nie ontrou was nie ook gelei te word om selfondersoek te doen en so objektief as moontlik na die verhoudingsdinamiek te kyk. Verder is dit belangrik om saam te werk om beide se behoeftes te verwoord vir die pad vorentoe,” gee Suné raad.

 

Deur Lize Groenewald