Soveel verhoudings breek op omdat paartjies nie aan die verhouding werk nie. Toewyding ontbreek. Dit gebeur egter dikwels dat een party bereid is om aan die huwelik te werk . . . en die ander party niks wil weet nie. Hoe dán gemaak?

Promosie

“As ek nou moet doodgaan, sal niks vir hom verander nie. Ek voel asof hy my glad nie nodig het nie. Hy is nie in die huwelik saam met my nie. Ek is alleen.” Só sê Christa, wat ten spyte van moeilike tye steeds aan haar huwelik vasklou. Christa en Neil het twee kinders. Hulle was dié paartjie waarna almal opgekyk het en voor raad gevra het. Alhoewel hul families se geloofsoortuigings verskil, het hulle nie toegelaat dat dit hul liefde vir mekaar blus nie. “Ná sy ma en my suster dood is, het ons baie tyd by ons onderskeie families begin deurbring. Dit voel nou asof ons vir twee verskillende spanne speel.”

Tough men don’t cry

Christa moes al keer op keer ’n afspraak by die huweliksberader kanselleer. Neil stel eenvoudig nie belang nie. Hy glo tough men don’t cry en ’n mens betaal nie iemand om na jou “gesanik” te luister nie. “Dis hoe hy berading sien. Hy sê ook as die persoon nie self in ons verhouding is nie, sal hy of sy nie ons probleme kan uitsorteer nie. Die ergste is, hy glo dis alles my eie probleme om op my eie uit te sorteer.”

Promosie

Neil ignoreer Christa se pleidooie om aan hulle huwelik te werk en steek vas by sy oortuiging dat niks fout is nie. Alhoewel hy haar reeds verkul het en hulle vir ’n rukkie uitmekaar was, het Christa hom teruggeneem. Na dié voorval was niks dieselfde nie. “Ek dink dit was grotendeels vir ons seun se onthalwe dat ek hom teruggeneem het. Hy was vasgevang in die middel van ons toksiese verhouding.” In daardie stadium het hulle net een kind gehad en ná die versoening is nog enetjie gebore.

Volgens Christa ken Neil haar nie in belangrike besluite nie. Hy is nooit by die huis nie en bestee weinig tyd saam met die kinders. “Dis ’n verleentheid as die skool bel oor iets van die kinders en hy weet nie eens waaroor dit gaan nie.”

Hoekom wil hy nie vir berading gaan nie?

“Ons het nie só ’n groot probleem nie.” Baie mense ontken dat daar probleme in hulle huwelik is. Die huweliksprobleme raak hulle dalk nie so erg emosioneel soos vir die ander maat nie. Sommige mense voel dit is onnodig en ’n mens kan self die probleme uitsorteer. Maar as jou maat jou vra om vir huweliksberading te gaan, is die probleem waarskynlik groter as wat jy dink.

“Ons kan dit nie bekostig nie.” Kan jy dit bekostig om te skei? Kan jy dit bekostig om vir die res van jou lewe met die gevolge van ’n verbrokkelde huwelik saam te leef? Dit is moeilike tye waarin ons leef en baie min mense het geld vir ekstras. Huweliksberading hoef nie noodwendig duur te wees nie. Julle kan met julle pastoor gaan praat of selfs met ’n gemeenskaplike vriend. Vra julself of julle dit kan bekostig om nié vir berading te gaan nie. As jy ernstig is daaroor om jou huwelik te red, sal jy heel moontlik areas in jou begroting kry waarop jy wel kan sny. Gaan eet bietjie minder uit, bel minder, drink koffie by die huis, dra jou ou klere of sit die DSTV vir ’n paar maande af. As jy nie tyd maak vir berading as jou huweliksmaat daarvoor vra nie, kan dit jou baie duurder te staan kom.

“Jy kan my nie dwing om te gaan nie.” Jou maat is dalk nie in soveel pyn soos jy nie. Hy ervaar dit dalk nie so intens soos jy nie en voel nie dit is nodig nie. Dalk voel hy gefrustreerd omdat jy aanhou druk vir berading nadat hy reeds gesê het hy wil nie gaan nie. Moenie dit op jou maat probeer afdwing nie. Gee die voorstelle en los dit by hom om die besluit te neem.

Mans wil nie hulle “vuil wasgoed” met iemand anders deel nie. Jou man is dalk minder emosioneel as jy. Wat vir jou ’n krisis is, is dalk vir hom ’n klein probleem. As die probleem finansieel of seksueel is, kan jou man ook vasskop omdat hy homself wil “beskerm”.

Hy wil nie regtig aan die huwelik werk nie. Volgens ’n studie wil net ongeveer 80% mense regtig aan hulle probleme werk. Jou man kan dalk voel hy is moeg gebaklei en sien nie kans om verder daaroor te praat nie.

Hoe om jou maat te benader:

• Begin deur jou maat op die regte tyd en op die regte manier te benader. Praat met hom wanneer hy ontspanne is en jy sy volle aandag het.

• Praat mooi met hom. Moenie hom soos ’n kind benader of in ’n skel stem praat nie. Hy sal net toeslaan as jy só met hom praat.

• Maak seker jy bring die onderwerp op só ’n manier ter sprake dat hy nie bedreig voel nie. Oorweeg dit om vir hom ’n brief te skryf sodat hy nie kan kwaad word en uitloop nie. Dit gee hom ook kans om daaroor te dink.

• Moenie met die deur in die huis val en sê: “Ons moet vir berading gaan” nie. Probeer dit op só ’n manier stel dat hy oop is vir die voorstel. Stel voor dat jy bekommerd is oor die situasie en bang is dit ontwikkel in ’n groot probleem as julle dit nie aanspreek nie. Sê iets soos: “Ek het die hulp nodig. Ek weet jy is ongemaklik hiermee, maar ek is ook. Dit is vernederend en maak my bang. Ek besef wel dat as ons aangaan soos ons nou aangaan, ons dieselfde resultate gaan kry. Ons het iemand van buite nodig om ons in die regte rigting te stuur.”

Kan jy alleen vir berading gaan?

Marilet Kotze, ’n seksuoloog, sê dis ’n moeilike pad om sonder ondersteuning en begrip te stap. “Daar is tye wat jy voel die fout lê by jou en dan werk jy aan jouself. Maar as daar alreeds ’n kommunikasiegaping en gebrek aan respek is, gaan dit moeilikheid veroorsaak.”

Sy stel voor dat jy vir een of twee sessies op jou eie gaan. Leer ken sodoende die terapeut en besluit of dit die persoon is wat julle kan help. “Soms het jy nodig om by iemand buite die huwelik af te pak. Dit kan jou net goed doen om nou en dan met iemand oor jou persoonlike probleme te gaan praat. Die persoon kan jou ook raadsame advies gee. Perspektief help partykeer meer as terapie.” Onthou egter dat jy nie jou maat se vertroue hierdeur mag skend nie. Ook dat dit nooit ’n nie-professionele persoon is met wie jy jou huwelik bespreek nie.

Volgens Ronel Groenewald, ’n sielkundige, is ’n huwelik ’n wettige kontrak wat deur twee mense onderteken is. “Huweliksterapie verg commitment van albei partye, anders kan dit nooit suksesvol wees nie.”

Salmon Vermaak, ’n pastorale huweliksberader, sê een van die groot vereistes om ’n huwelik te laat werk is dat albei partye daaraan moet werk. “Waar daar nie ’n wil is nie, is daar nie ’n weg nie. Miskien moet mens kyk na hoekom die persoon nie die huwelik wil laat werk nie. Dalk dink hy daar is geen manier hoe dinge gered kan word nie.”

Hoewel dit geweldig moeilik is om die persoon dan te swaai, kan jy vir hom die voordele van die huwelik uitspel. Jy moet probeer om objektief te bly en jouself emosioneel los te maak van die situasie. Salmon sê: “Dit waarop jy fokus, oorweldig jou. Hoe meer vrees jy in jou wek, hoe meer bring jy dit oor jou.” Kom in rus oor die situasie en gee dit vir God, want God laat alles ten goede meewerk. Probeer om nie die situasie teen te staan nie. Respekteer jou maat se keuse, maar help hom om ’n ingeligte besluit te neem.

Marilet sê mans reageer baie goed op logika en reëls. “Vind eers uit wat is fout. Dis nie te sê hy is nie meer die man met wie jy getrou het nie. Wat het verander in julle verhouding en waarvan hou julle in mekaar? Moenie van jou man verwag om kreatief te wees nie. Sê vir hom wat jy soek en gee hom idees om hom te betrek. Jou rol is om hom te prys as hy iets doen waarvan jy hou en dan vir hom iets te doen waarvan hý hou. Só versterk jy die gedrag. Dit werk net so goed met vroue!”

Volgens haar moet jy dit aanvaar as jou man nie saam met jou na ’n berader wil gaan nie. “Dis baie moeilik om iemand te forseer om iets te doen wat hy nie wil nie. Al wat jy regtig kan doen, is om vir hom te sê hoe jy voel. Wees sensitief oor die onderwerp.” Sy sê jy moet in kort “ek”-boodskappe praat. Sê dus “ek voel ek kry nie genoeg aandag nie”, in plaas van “jy gee my nie genoeg aandag nie”. Fokus op hoe sy gedrag jou laat voel sonder om hom te beskuldig.

Mitch Temple, ’n huweliks- en familieberader, skryf op focusonthefamily.com dat elke huwelik een of ander tyd probleme ondervind. Dit maak nie saak of jy een jaar of 50 jaar getroud is nie, probleme gaan opduik. Dié probleme kan baie intens wees en jou of jou maat baie seermaak. “Jou huwelik is nie verdoem omdat julle mekaar seergemaak het, swak kommunikeer of nie oor goed saamstem nie. Paartjies sorteer al probleme sedert Adam en Eva se tyd uit. God het ons geskape met die vermoë om suksesvolle verhoudings te hê. Vra maar vir enige paartjie wat ’n gelukkige huwelik het. Hulle sal jou sê hulle het ook hulle probleme gehad.”

Artikel deur Jana Engelbrecht