Ek en my man is albei in ons twintigs en ons is nog nie eers ’n jaar getroud nie. Hy toon nie veel belangstelling in seks nie.

Dit het ’n enorme uitwerking op my selfbeeld en emosies. Ek kan nie help om te wonder of ek iets verkeerd doen of hom op ’n manier afsit nie. Ek wonder gereeld of dit ’n algemene probleem in huwelike is. Ek is bevrees dat flieks en die media die verkeerde verwagting van mans se libido by vroue skep. Ons het ’n wonderlike verhouding en ons is albei oor die algemeen baie gelukkig. Hy is ontsettend goed vir my, en dit is al afdeling waar dinge nie goed gaan nie. Ek het al met hom daaroor gepraat, dan gaan dit vir ’n week beter, maar kort voor lank is ons maar weer waar ons was. Ek kyk mooi na myself en probeer om altyd myself aantreklik vir hom te maak. Is ons ’n uitsondering of stel mans oor die algemeen nie soveel in seks belang nie?

Elmari Mulder Craig, seksuoloog, verhoudings- en huweliksterapeut, psigoterapeut, kliniese hipnoterapeut en outeur, antwoord:

Ons sien al hoe meer jonger mans wat sukkel met ’n lae seksdrang of erektiele disfunksie. Dit het gewoonlik niks te doen met hul maat of die feit of hy jou aantreklik vind of nie. Natuurlik is ’n goeie, gesonde verhouding belangrik, maar indien ’n man sukkel met ’n lae libido of erektiele disfunksie, is dit baie belangrik vir sy algemene gesondheid om enige mediese oorsake daarvan uit te skakel. Sy testosteroonvlak moet getoets word aangesien hy testosteroon-gebreksindroom kan hê. Chroniese medikasie kan ook ’n rol speel en veral ook prestasie-angs. Dit is dus belangrik om saam by ’n seksuoloog uit te kom.

Promosie