“Is ’n seksuele weersin behandelbaar?”

Promosie

Dr Ettienne Kok, ‘n mediese dokter, seksuoloog, psigoterapeut en huweliksberader, antwoord:

’n Seksuele weersin-versteuring is ’n fobiese afkeur in en vermyding van seksuele kontak met ’n seksmaat, wat persoonlike angs en ongelukkigheid veroorsaak. Dit is die ergste vorm van ’n seksuele drangversteuring wat daar is, en doen voor as ’n behoefte om seksuele situasies te vermy, maar ook as ’n intense vrees om seks te hê.

Promosie

Vrouens wat hieraan ly, sal die volgende seksuele situasies of aktiwiteite probeer vermy: Om hul klere uit te trek of uitgetrek te word, penetrasie-seks, orale seks, anale seks, masturbasie, soen, liefkosing, na genitalieë kyk, semen, vaginale smering en in erge gevalle selfs nie wil bad of aandag skenk aan hulle persoonlike higiëne nie.

Mans kan weer ’n weersin in die sien of reuk van vroue se vulva (skaamlippe) en vagina hê, en ook ’n vrees vir penetrasie-seks of selfs enige ander seksuele situasie hê.

Wanneer hierdie persone met seksuele situasies gekonfronteer word of net aan die moontlikheid daarvan dink, kan hulle angstigheid, vrees en fisieke simptome soos ’n vinnige hartklop, sweet, duiseligheid, naarheid, bewerigheid en diarree ervaar en selfs flou val.

Algemene bydraende faktore of oorsake vir ’n seksuele weersin-versteuring is seksuele molestering, verkragting, bloedskande, ouers se houding oor seks, angstigheid oor hul eie seksuele vermoëns, ’n onopgeloste seksuele identiteit-situasie, verhoudingsprobleme, ’n vrees vir seksueel oordraagbare siektes en swangerskap.

Persone met ’n seksuele weersin-versteuring kan baat vind by seksberading en seksterapie. Dit kan die volgende insluit:
• Angsvermindering- en desensitiseringstegnieke en -oefeninge.
• Kognitiewe herstrukturering-tegnieke.
• Psigo-seksuele opvoeding en die uit die weg ruim van seksuele mites.
• Tegnieke en oefeninge vir die bevordering van seksuele intimiteit.
• Gedragsverandering-oefeninge en tuiswerk.