Jou wewenaar-pa het op ’n baie hoë ouderdom besluit om wéér die knoop deur te haak en jy is verstom oor hierdie besluit. Afgesien van die feit dat jy moet vrede maak met ’n nuwe vrou in sy lewe, kan jy nie verstaan hoekom hy dit eers wil oorweeg nie! Moet jy sy besluit respekteer?

Promosie

Dit is nie ’n vreemde scenario nie. Twee ouer mense vind aanklank by mekaar in die aftreeoord. Of hulle was jarelange vriende en het nou besluit dat dit prakties meer sin maak om sommer met hierdie vriendskap in ’n huwelik te tree. Maar is dit ’n goeie idee om op die ouderdom van 70+ dié kompleksiteit te kies, omdat jy voel dat dit is wat van jou verwag word? Of moet jy jou nie steur aan die doemprofete nie?

JA: Om te trou, is steeds ’n goeie idee, selfs al is jy 79!

Susan Kotzé* vertel: “My pa is op 79 weer getroud ná my ma vyf jaar gelede aan borskanker oorlede is. Hoewel hy ná haar dood sy roetine probeer behou het en vriende in die aftree-oord het, kon ek sien hy vereensaam. Sy nuwe vrou is ’n jarelange vriendin van hom en my ma, en ek gun hulle elke oomblik se samesyn. Gaan dit dieselfde wees as met my ma? Nee, beslis nie. Maar dit beteken nie dit kan nie werk nie. As hulle by mekaar liefde en geborgenheid kry, is ek tevrede dat dit die regte ding was om te doen.”

Promosie

’n Mens se behoeftes verouder nie …

Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, sê hoewel ’n huwelik op ’n gevorderde ouderdom fisieke beperkings meebring, bly ’n mens se emosionele gesondheid so jonk en noodsaaklik soos vir enige ander mens. Dus het die bejaarde steeds ’n behoefte aan ’n liefdevolle verhouding.

God ken mense se behoeftes en het self die huwelik ingestel vir die primêre doel van kameraadskap. In Gen. 2:18 het Hy gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” Liefde op ’n gevorderde ouderdom beveg gevoelens van eensaamheid, isolasie en ’n gevoel “dat niemand my wil hê nie” – iets wat dikwels deur bejaardes gevoel word.

Navorsing toon dat mense wat heelwat later trou beter gesondheid het, minder beserings en ’n langer lewensverwagting het. Die gevoel dat iemand vir jou lief is en vir jou omgee, verhoog ook ’n mens se psigologiese welstand en dit bied fisieke en emosionele sekuriteit, wat jou stres verminder. Aangesien onkostes gedeel word, is dit dikwels finansieel voordelig. En geliefdes beskik oor meer tyd om aan mekaar te spandeer.

Dit kan wel sekuriteit bied

“Terwyl die risiko’s van ’n ondeurdagte huwelik onmiskenbaar is, is daar ’n groot mate van sekuriteit te vind vir paartjies wanneer hulle wel in die huwelik tree. Dit bied aan hulle die geleentheid om die regsgevolge van hul verhouding te formaliseer en te reguleer na gelang van hul unieke persoonlike omstandighede,” verduidelik Elanda Willemse, ’n prokureur van Bellville.

“Dit is van primêre belang om vas te stel of enige van die betrokke individue die houer is van ’n voordeel wat verbeur gaan word mits hulle weer in die huwelik tree. Sodanige voordele sluit onder andere vruggebruik en/of monetêre onderhoud verleen by wyse van ’n testament of egskeidingsbevel in,” sê Elanda.

“Die Suid-Afrikaanse reg bied andersins aan paartjies die keuse tussen twee verskillende tipes huweliksgoedere-bedelings, naamlik ’n huwelik binne of ’n huwelik buite gemeenskap van goedere. Eersgenoemde is die primêre huweliksgoedere-bedeling in ons reg en sal by regswerking geld, mits dit nie uitgesluit word by wyse van ’n huweliksvoorwaardekontrak nie.

“Die meeste paartjies, veral dié wat in die huwelik tree op ’n hoë ouderdom, word egter afgeraai van bovermelde bedeling en aangemoedig om voor hulle in die huwelik tree, ’n prokureur te nader om hulle by te staan met die reël van die eiendomsregtelike gevolge van hul beoogde huwelik by wyse van die opstel van ’n eiesoortige huweliksvoorwaardekontrak,” sê Elanda.

NEE: Om op daardie ouderdom te trou, kompliseer dinge onnodig

Martie* (79) en Koos* (77) was ou vriende wat mekaar na 20 jaar weer gevind het. Hulle het albei hul lewensmaats aan die dood afgestaan, by mekaar troos gevind en die liefde het geblom. Omdat hulle in verskillende dorpe gebly het, was vlerksleep moeilik. Sy het haar lewe in die stad verruil vir ’n klein dorpie, iets wat Martie nóú berou. “In die stad is dit nie regtig ’n probleem vir twee mense om net saam te bly nie, maar in ’n klein dorpie is mense meer geneig om jou te veroordeel. Daarom het ons besluit om te trou.”

Dit het slegs ses maande geneem vir Martie om haar fout te besef toe Koos se volwasse seun by hulle ingetrek het. Hulle het nie saamgestem oor hoe hy grootgemaak is nie en Koos het geweier om bes te gee. “Sy kinders is bederf en het my huis oorgeneem. Hulle kom ook glad nie oor die weg met my kinders nie. Dis sleg omdat daar altyd ’n skeiding sal wees. Ons sal nooit een happy family wees nie.”

Elkeen reeds sy eie mens

Sielkundige Wilmé Steenekamp beaam dat dit ’n baie gekompliseerde situasie is wanneer mense op so ’n hoë ouderdom trou. “Mense het alreeds ’n gevormde persoonlikheid, so dis baie moeilik om hulself te verander om aan te pas by ’n nuwe maat. ’n Mens was eerstens deel van jou eie geskiedenis, met allerhande bagasie, voor jy die ander persoon ontmoet het. Dit sal dinge baie makliker maak as die twee mense net mekaar se saamwees kan koester, eerder as om te voel hulle moet trou.”

Een van Martie en Koos se uitdagings was die wetlike situasie rondom hul huwelik, vertel Martie. “Ek het baie amper my oorlede man se pensioen verloor toe ek weer getroud is. Ek het baie ander voordele verloor.”

Prokureur Wessel Brits verduidelik dat wanneer dit by huwelikskontrakte kom, ouer mense meer geneig is om by die bekende te bly. “Hulle was voorheen binne gemeenskap van goedere getroud en omdat hulle nie met die ander opsies vertroud is nie, bly hulle daarby. Die probleem is dat hulle nou meer bates het as voorheen en dat hulle ’n groter risiko loop om hul bates te verloor.”

Martie kan hiervan getuig. “Ek het soveel verloor: My stadshuis, my finansiële vryheid en selfs my onafhanklikheid.” Haar raad aan ander wat dink aan trou? “Gaan net Mauritius toe en sê julle is getroud. Dit sal jou baie moeite spaar.”

JA-NEE, daar is ’n middeweg!

Die Barnard-familie se matriarg is vyf jaar gelede oorlede. Hulle pa, Johan (72), het 13 maande later sy verlowing aan ’n oujongnooi aangekondig.

Frik is die oudste seun en sê dit was ’n groot skok vir hulle. “Ek dink my pa het dit totaal verkeerd hanteer. Ons het tannie Dot al twee keer gesien en gedink sy is my pa se vriendin. Ons is genooi vir aandete en iewers tussen die voorgereg en hoofgereg, toe sit my pa ’n ring aan haar vinger. Ons was stomgeslaan,” sê Frik.

Die families sê dit was aanvanklik moeilik om te aanvaar, maar hulle het besef hul pa het ’n metgesel nodig. “Ons kan nie sy metgesel in die lewe wees nie,” sê Frik. Hy sê hy verstaan nou beter. “Sy generasie is baie anders as ons s’n. Dit is buite die kwessie om saam te bly voor jy trou, so vir hom is dit die volgende logiese stap.”

Frik sê hy glo daar is ’n paar redes wat dit makliker gemaak het vir hulle om te aanvaar. “Tannie Dot het geen kinders nie, so ons moes nie ’n hele gesin aanvaar nie. Net haar en haar sussie,” sê hy. Die Barnard-gesin sien ook finansieel om na hulle pa, so daar is nie bates wat nou herverdeel moet word nie.

“Ek dink dit is belangrik vir die kinders om te onthou almal het ’n partner nodig. Iemand om al die goeie en die slegte te deel. As dit jou pa gelukkig maak, aanvaar dit. Vandag noem my broer se kinders tannie Dot “Ouma”, want hulle het nooit my ma geken nie.” Hy benadruk niemand sal ooit sy ma se plek in die familie kan volstaan nie, maar dat tannie Dot nou ’n ander leemte vir sy pa vul.

Maak dit Goddelik, maar nie wettig nie

In die geval van Susan Kotzé se pa, vertel sy: “Wat wel ‘anders’ is in my pa en sy nuwe vrou se geval, is dat hulle ’n kerkseremonie, met die huweliksformulier en die troubelofte, gehad het, maar dat die huwelik nie by Binnelandse Sake geregistreer is nie. Vir baie ouer mense, veral bejaardes, is die ou opvatting van ‘skapies in een kraal jaag’ nie prakties haalbaar nie, want daar is pensioene en medies en boedels ter sprake. Om sulke goed op só ’n gevorderde ouderdom te probeer konsolideer, bring groot komplikasies mee. My pa-hulle is dus in die oë van God en sy gemeente getroud, maar die staat het nie daarin ’n sê nie.”

Vanuit ’n Christelike perspektief bly die uitkyk oor die huwelik dieselfde, ongeag van die egpaar se ouderdom, verduidelik ds Chris de Beer van die Gereformeerde Kerk Brooklyn. “Jou uitdagings sal verskil van dié van jongmense, maar solank die egpaar die huwelik realisties en met liefde betree, behoort daar nie ’n probleem te wees nie.”

André de Villiers, ’n leraar van Kathu, sê: “Hoewel die Bybel nie so uitgesproke oor die huwelik is as wat baie mense dink nie, is daar wel goeie riglyne vir die reëling van die samelewing, wat huwelike insluit. Die mens word gemaak as mens tussen mense (Gen. 2). Baie wette in die Ou Testament het te doen met die reëling van ’n samelewing waar mense verantwoordelikheid neem vir hoe hulle met mekaar omgaan. In verhoudings word ons beskerm wanneer ons verhoudings ‘amptelik’ maak. Menswees ontwikkel beter wanneer daar vaste langtermyn verbintenisse is waarin mense veilig voel.”

En wanneer jy dit wel wetlik maak …

… maak seker jy doen dit op die regte manier. Anneline Snijmann van Anneline Swart-Snijmann Prokureurs sê dit is baie belangrik om die testament deeglik te hersien wanneer iemand weer trou. “Dit is ’n baie teer sakie vir almal. Bespreek die voornemende huwelik met die kinders en maak sekere testamentêre besluite in konsultasie met die kinders,” sê sy. Sy sê daar moet spesifiek gefokus word op die erfstukke en wat daarmee gebeur. “Die kinders gaan waarskynlik nie gelukkig wees as die nuwe vrou hul ouma se breekware erf nie.”

Sy sê in die geval van eiendom kan ’n familietrust dalk die beste opsie wees en só ’n besluit moet reeds voor die huwelik geneem word. Anneline sê dit is belangrik om baie spesifiek te wees in die testament. Wat as een siek word en die ander versorg hom/haar? Wat gebeur met die bates? Kry die nuwe vrou vruggebruik, maar dit bly die kinders s’n? Wie betaal dan instandhoudingskostes?

Sy benadruk dat jy aan die besonderhede moet dink. Dis baie belangrik om aan die mediese fonds te dink: Wie is die hooflid? Wat gebeur skielik as die persoon doodgaan en die afhanklike lid moet ’n nuwe mediese fonds kry? Praat met die makelaar en sorteer dit voor die tyd uit, meen Anneline.

“Stel ’n finansiële plan op: Een vir ‘in lewe’, een vir ‘in lewe maar siek’ en daarna een vir as die persoon oorlede is. Sorg dat jou versekering- en mediese paaiemente op datum is en stel vas hoe dit die ander party raak, sóú een doodgaan. Stel ’n addendum op vir die testament en spesifiseer soveel moontlik,” sê sy. Jou enigste pad tot ’n middeweg in só ’n situasie is goeie kommunikasie en die raadpleging van professionele persone.

Volgens die huwelikskonsultante Linda en Kobus Pauw moet die paartjie wat op trou staan, dit van aangesig tot aangesig aankondig. “Daar moet in ag geneem word dat die besluit kinders en familie raak, en hulle gevoelens moet gerespekteer word. Ons sê nie hierdeur dat toestemming gekry moet word nie, maar niks is daarmee verkeerd om die seën van jou kinders en familie te kry in hierdie proses nie,” sê Kobus.

As dit jou ouer is wat trou …

“Bespreek boedelbeplanning, finansies en erflating-kwessies, en help jou ouer daarmee vir sy/haar eie beskerming. Maak seker dat hulle en julle weet wat die mediese fonds se regulasies is. Raai jou ouer aan om kundiges te gaan sien. En as hulle voel: ‘Ons is grootmense, julle het niks hiermee te doen nie’, moet julle dit aanvaar,” sê Anneline.

Linda sê dit kan moeilik wees om die nuwe man of vrou te aanvaar, veral as hulle ’n beter verhouding het as wat jou eie ouers gehad het. “Hier moet die kinders besef dat dit nie oor hulle gaan nie, maar oor die geluk van hulle ouer wat nog leef,” sê sy. Kobus stem saam en sê jy moet jou ouers geluk gun – veral in die laaste jare van hulle lewe.

“As jy bekommerd is omdat jou ouer dalk met iemand trou wat dekades jonger as hy/sy is, gesels met hom of haar daaroor – maar op die ou end gaan jy hulle besluit moet respekteer,” sê Kobus. Die Pauw’s sê ook uiteindelik is duidelike kommunikasie die belangrikste.

Addisionele bronne: Dr Wilmé Steenekamp, www.feelwell.co.za; Wessel Brits van WJ Brits Attorneys, ds Chris de Beer.

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!