Elke getroude paartjie beleef ‘n mate van jaloesie. Jy hou immers nie daarvan as ‘n mooi Eva met mooi bene vir jou mooi Adam loer nie … maar waar trek jy die streep tussen gesonde jaloesie en gevaarlike jaloesie?

Promosie

Toe Leah en James op kollege begin uitgaan, het Leah waarlik spesiaal by hom gevoel. Hy het kwaad geraak wanneer ander ouens vir haar kyk, en in ‘n groot geselskap sou hy sy arm beskermend (besitlik…?) om haar vou. In haar vorige verhouding is sy herhaaldelik verkul en James het haar laat voel soos die belangrikste mens op aarde… Maar mettertyd het sy liefde vir haar in iets anders begin verander.

Toe sy ‘n paar jaar later ‘n goeie pos as rekenmeester in Sandton losgeslaan het (hulle het in Pretoria gebly) het hy haar soms tot twaalf keer per dag gebel. Terwyl sy eers gedink het dit was uit besorgdheid, het sy later agtergekom dat hy pal wou weet waar sy is en wat sy doen. Eendag het hy sy misnoë oor haar uitrusting uitgespreek. “Hy het gevra of ek nie iets anders wil aantrek nie, want dít wat ek aanhet lyk effe goedkoop. My bloes het toegeknoop tot by my nek en my potloodrompie het onder my knieë gesit!” Sy het geantwoord dat sy beslis nie gaan toelaat dat hy haar kleredrag voorskryf nie en hy het woedend geword, uitgestap en weggejaag. Vir 24 uur was hy skoonveld en sy het hom eers weer  die volgende oggend gesien.

Leah het die hele nag wakker gelê en dit is tóé wat die waarskuwingsligte vir haar begin flikker het. “Ek het skielik die tekens raakgesien wat ek voorheen ignoreer het, en dit het vir my baie duidelik geword dat ek op gevaarlike terrein met hierdie man beweeg.” Sy het hul verlowing verbreek en hy het haar maande lank met telefoonoproepe geteister – só erg dat sy ‘n interdik teen hom moes kry … “Sy jaloesie was buite beheer en ek sidder as ek dink wat sou gebeur het as ek met hom getrou het.”

Promosie

Wat is jaloesie nou eintlik?

Jaloesie is ‘n normale emosie, ‘n emosie wat elkeen in die een of ander stadium van hul lewens beleef. Dit is daardie ongemaklike gevoel wat jy kry wanneer manlief na ‘n rampartytjie toe gaan, of die irritasie wat jy beleef wanneer sy jarelange beste vriendin met hom klets oor die goeie ou dae. Ja, hoewel jou maat nooit jou besitting is nie, is hy tog jou gekose maat en is julle eksklusief mekaar se lewensmaats. So, dit is normaal om effe jaloers te wees.

Maar jaloesie kan gou in ‘n ongesonde emosie ontaard, meen huwelikskenner Sheri Stritof op verywellmind.com. Heelwat gebroke huwelike en selfs gesinsmoorde het begin by ongesonde jaloesie.

Sy beskryf jaloesie as ‘n reaksie op ‘n waargenome bedreiging teenoor ‘n waardevolle verhouding en dit is ‘n taai kwessie by sowat een derde van alle paartjies wat huweliksberading ontvang. “Daar is geen rede om te glo dat jaloesie met tyd sal verbeter nie. Jaloesie is nie ‘n emosie wat weggewens kan word nie.”

So, wat is normaal en wat is nie?

Daar ís so iets soos goeie jaloesie! Gesonde jaloesie is voordelig vir ‘n huwelik. Wanneer manlief effe rooi om die kraag raak oor jou vriendelike manlike kollega, laat dit jou met ‘n lekker gevoel, want dit wys tog dat jy vir hom belangrik is en hy jou nie wil verloor nie! Dit laat jóú ook sommer geliefd en gewaardeerd voel, asof julle liefde sterker is as enigiets – en gevolglik is die seks ook sommer passievol!  Goeie jaloesie konfronteer ernstige aanslae teen jou huwelik vóór dit handuit ruk.

Gesonde jaloesie kan jou help om jouself en jou maat beter te verstaan. Yazhini Srivathsal, ‘n sielkundige van Scottsdale, Arizona meen: “Dit kan help om emosionele grense te breek, mekaar se weerloosheid bloot te stel en ‘n sterker verhouding te bou.” Sy stel dus voor dat jy oop gesprekke hê met jou maat oor waar jou jaloesie vandaan kom.

Uitsonderlike jaloesie is egter gevaarlik. Dis ‘n rooi lig wat kan waarsku teen potensiële mishandeling.  Jaloerse mense voel dikwels so oorweldig deur hul emosies en onsekerheid dat hulle beheer oor hul maats wil uitoefen. Dit kan lei tot geweld, finansiële mishandeling of ‘n verbale geboelie om beheer te behou of om hul jaloesie te verskans, meen Sheri.

Hoe weet ek my maat se jaloesie is ongesond?

  • Jy gaan winkel toe om ‘n mooi swart rokkie te koop, maar manlief wil weet waar jy was, hoekom jy die rokkie gekoop het en of jy dalk wil mooi lyk vir ‘n ander man …
  • Jy gaan kuier saam met vriendinne en jou man dring aan op ‘n gedetaileerde verslag oor waar jy was en saam met wie jy gekuier het.
  • Jy is uit vir ‘n girls night, maar jou foon beep elke tien minute. Dit is jou man wat net ‘incheck’ op jou. Hy kan jou blatant vra wat jy doen of dit soos ‘onskuldige kontak’ laat klink.
  • Jy betrap jou maat al weer met jou selfoon, besig om eposse en whatsapp boodskappe te lees met die verwagting dat jy ontrou is of ‘n leuen vertel.
  • Jou maat reageer snaaks wanneer ‘n ander man na jou kyk. Dit is asof jy die woede aan sy lyf kan lees en jou selfversekerde man is skielik onseker van homself. Hy bewe, raak lighoofdig, kry depressie en sukkel met slapeloosheid.
  • Jou maat ‘kweek’ stories wat nie eers bestaan nie. Sy brei uit oor die manier waarop jy met die vrou by die partytjie flankeer het, terwyl jy regtig net hoflik was.
  • Jy kom agter dat jou maat jou agtervolg, selfs wanneer jy buite met ‘n selfoon-oproep besig is.
  • Jy wil graag by jou sussie gaan kuier, maar jou maat hou nie daarvan nie. Hy probeer jou vryheid beperk (subtiel of blatant) en wil ‘n stokkie steek voor elke sosiale afspraak wat jy probeer maak (selfs met familielede).

In Green Eyed Marriage skryf Robert L. Barker: “Vir diegene wat abnormale jaloesie ervaar, bring die emosie ‘n selfvervullende profesie. Soos wat hul maat probeer om hulle te vermy, word hul grootste vrees om liefde en respek te verloor, waar.” Dit lei dan tot verwyt en verdediging en sal eindelik die laaste brokkie vertroue in ‘n verhouding vernietig, wat sal lei tot meer argumente. ‘n Maat wat voortdurend gerus gestel moet word en verseker moet word van die ander party se liefde, is vermoeiend en die ander party skram weg van so ‘n persoon af … wat die bal natuurlik aan die rol sit.

Hoekom is jou maat jaloers ? (OM MEER UIT TE VIND OOR DIE REDES AGTER JALOESIE, KLIEK HIER)

So, hoe hanteer jy jaloesie in ‘n huwelik?

  1. Weet dat ‘n mate van jaloesie normaal is. Dit ís nie lekker as iemand met jou maat flankeer nie en dit is beslis nie lekker as jou maat weg van die huis af moet werk nie. Praat hieroor en stel sekere grense wat jou huwelik sal beskerm.
  2. Stel vas wat die wortel van die probleem is. Hoekom is jou maat jaloers? Ís jy dalk oorvriendelik met vroulike kollegas? Bestee julle die afgelope tyd beperkte tyd met mekaar? Doen wat jy kan om jou maat se jaloesie te verlig of om hom/haar gerus te stel.
  3. Kweek ‘n atmosfeer van vertroue. Albei maats moet getrou en toegewyd en eerlik wees. Getroue maats jok nie oor hoe hulle hul tyd bestee nie, hulle vertel nie wit leuentjies nie. Doen wat jy kan om seker te maak die vertroue tussen julle groei.
  4. Weet wanneer jaloesie te ver gaan. Herken die rooi vlaggies: Ekstreme woede, onrealistiese verwagtinge, ongegronde beskuldigings. As jou maat beheer oor jou probeer uitoefen is dit nooit gesond nie. As jy vind dat jy jou doen en late gereeld moet verdedig, is dit ‘n rooi vlaggie.
  5. Vertrou mekaar se instink. As jy weet jou maat is gebalanseerd en staan in lyn met God se wil, vertrou wanneer jou maat ongemaklik voel. Jou man weet hoe ander mans dink, wat hulle wil hê en hoe hulle dit gaan kry. Jou vrou het ‘n radar wat ander vroue se intensies dikwels raaklees. Moet dit nie afmaak as paranoïa nie.
  6. As jy die een is wat gereeld jaloers voel, vra jouself af waar dit vandaan kom. Is jy bang jou maat los jou? Of was jou maat ontrou in die verlede en nou is jy bang dit gebeur weer? Kry ‘n terapeut wat jou kan help om jou jaloesie te hanteer.
  7. As jy jaloerse gedagtes het, daag hulle uit. Vra jouself af of jou gedagtes waarlik gegrond is en of jy besig is om irriasioneel te dink. Het jou maat jou al ooit rede gegee om haar telefoonboodskappe te ondersoek?

Jy dink dalk nie jy is die jaloerse tipe nie, maar jou maat beleef dit anders. As dit enigsins konflik in jul verhouding meebring, besluit voortydig om dié saak in die kiem te spoor deur professionele hulp in te win. Jaloesie ís oorkombaar, maar indien julle dit nie aanspreek nie, kan dit ernstige probleme in jou huwelik veroorsaak.

Addisionele bronne: www.verywellmind.com; www.focusonthefamily.ca; www.weddingwire.com

Artikel deur Annelize Steyn

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!