Al ooit die fliek The Bucket List gekyk? Dit is ’n komedie/drama uit 2007 met die akteurs Morgan Freeman en Jack Nicholson as twee terminaal siek karakters wat op reis gaan met ’n wenslysie van wat hulle graag wil doen voor hulle spreekwoordelik “die emmer skop” (vandaar die naam The Bucket List).

Promosie

So, in wese is ’n bucket list ’n lys van lewenservarings, doelstellings wat jy wil bereik en drome wat jy wil vervul voor jy die dag sterf. En ja, jy is jou eie mens met jou eie ideale, maar hoe spesiaal is dit nie om saam met jou lewensmaat ’n paar drome te koester nie? In ’n huwelik is dit só maklik vir ’n mens se eksotiese vakansies om tussen papierwerk en sportbyeenkomste verlore te raak. Jy jaag van dag tot dag, salaris tot salaris, en dan skielik sit jy eendag langs jou maat se graf en wonder hoekom julle nie daardie tyd gemáák het nie . . .

Nog ’n gewilde fliek, die animasieprent Up, is ’n goeie voorbeeld van dié situasie, waar “dinge” in die pad gestaan het vir hom en sy vrou om hul droom te verwesenlik. Voel dit nie soms of die lewe by jou verbygaan sonder dat jy iets daarvoor kan wys nie? Vir jou en manlief om saam ’n bucket list te hê, herinner julle aan wat regtig vir julle belangrik is sodat julle aksie kan neem en dit nie net ’n lysie bly nie.

Die bucket list boksies . . .

Promosie

Gewoonlik het jy spesifieke doelstellings vir spesifieke areas in jou lewe, soos: “Ek wil 20kg verloor”, “Ek wil vir ’n boob job gaan” en “Ek wil ’n hele week by ’n spa gaan vertoef” wat alles in een boksie hoort (die eie-ek boksie). Dan is daar die boksie van sukses: “Ek wil vóór ek veertig word uitvoerende direkteur van my maatskappy wees” en “Ek wil my kinders na die beste privaatskool toe stuur”. Daar is die splurge boksie met items in soos: “Volgende jaar móét ek en my man net op ’n vyfster safari gaan” of “Vir my vyftigste verjaardag wil ek ’n uithang-verjaardagpartytjie hê, kompleet met Franse sjampanje en akrobatiese dansers”. Daar is die pretboksie met ideale soos: “Ek wil bungee jump voor ek 30 word” of “Ek móét net kaal oor Loftus se veld hardloop voor my borste begin sak”. ’n Bucket list is egter soos ’n groot emmer met plek vir alles! Plek vir enigiets en alles wat jy nog altyd wou doen.

Hoekom ’n bucket list?

Jou doel met só ’n lys is nie om met ’n resies teen tyd te begin nie. Die hele doel met ’n bucket list is om elke oomblik van jou lewe hier op aarde optimaal te benut. En in plaas daarvan om deur die lewe te float om eerder al jou energie te belê in dít wat regtig saak maak. Wanneer jy en manlief ’n bucket list skryf, is die kanse goed dat hierdie lysie al hoe langer gaan word! En dat dit nuwe lewe en entoesiasme in jul verhouding gaan blaas, sê dié wat weet. Wat behels dit? Dat jy en manlief een aand opsy sit, ’n bottel wyn oopmaak en met ’n pen en papier in die hand gaan sit. Dit gaan jou ’n paar minute neem wat jou lewe kan omkeer. Onthou die woord “saam”.

Beantwoord hierdie vrae met wat eerste in jul gedagtes kom:

1. Wat as jy môre sterf? Wat sou julle wens julle kon doen voor jy doodgaan?
2. Wat wou julle nog altyd doen, maar het nog nooit by uitgekom nie?
3. As julle onbeperkte tyd, geld en hulpbronne gehad het, wat sou julle doen?
4. Watter lande, plekke of bestemmings wil julle graag besoek?
5. Wat is jul grootste doelwitte en drome?
6. Wat wil julle graag self in lewende lywe sien?
7. Wat wil julle graag in die lewe bereik?
8. Watter ervarings wil julle beleef of ervaar?
9. Enige spesiale oomblikke wat julle graag wil beleef?
10. Watter aktiwiteite of vaardighede wil julle aanleer?
11. Wat is die belangikste dinge wat julle ooit kan doen?
12. Wat sal julle graag vir ander mense wil sê (jou familie, geliefdes en vriende)?
13. Wat sal julle graag saam met ander mense wil doen (jou familie, vriende en geliefdes)?
14. Enige spesifieke mense wat julle graag in persoon sal wil ontmoet?
15. Wat moet julle doen om ’n lewe met betekenis te kan lei?
16. Wat wil julle bereik op verskeie gebiede van julle lewe ten opsigte van liefde, familie, loopbaan, finansies, gesondheid, spiritueel of sosiaal?

Probeer soveel moontlik dinge neerskryf (vanselfsprekend moet dit dinge wees wat jy nog nie gedoen het nie).

Hier is voorbeelde van ’n paar dinge wat jy by jou bucket list kan voeg:

1. Reis rondom die wêreld (sien al die lande, besoek al die wonders van die wêreld).
2. Leer ’n nuwe taal.
3. Hardloop ’n marathon.
4. Wees vir iemand huweliksmentors.
5. Leer ’n strategie-speletjie.
6. Klim saam ’n berg.
7. Vlieg in ’n warmlugballon.
8. Skryf ’n boek oor iets wat julle na aan die hart lê.
9. Sing jul gunstelingliedjie voor ’n gehoor.
10. Bied jul dienste aan vir ’n liefdadigheidsorganisasie.
11. Sien die Noorderligte, ’n sonsverduistering en ’n komeet.
12. Plant jul eie boom en kyk hoe dit groei.
13. Wees matchmakers (stel jul enkellopende vriende aan mekaar voor).
14. Leer saam om ’n nuwe instrument te bespeel.
15. Leer ’n nuwe dansvorm, soos salsa, tango of ballroom dancing.
16. Woon in ’n ander land vir ten minste ses maande.
17. Doen iets (positiefs) om die koerante te haal.
18. Omskep jul huis in jul droomhuis.
19. Vlieg eersteklas.
20. Besoek ’n vulkaan.
21. Vlieg in ’n helikopter.
22. Raak van voor af verlief op mekaar.

En vir ’n bietjie spice!

Julle kan nóg ’n bucket list maak – een wat julle beslis nié agter die toiletdeur mag hang nie, maar diep moet wegbêre waar jul ouers en kinders dit nie kan sien nie! Wat van ’n seksuele bucket list vir jou huwelik? ’n Lysie van dinge wat julle seksueel wil ervaar voor julle eendag sterf! Hier is ’n paar idees:

1. Telefoonseks . . . wat daardie afstand net sóveel korter maak (al lag julle julle dood!).
2. Vibrator-speletjies. Dit kan pure pret wees – mits julle die vibrator saam gebruik.
3. Seks in ’n openbare plek. Die thrill om gevang te word . . . aha!
4. Seks in ’n kar. Ai, as julle hierdie geleentheid laat verbygaan het toe julle jonger was, sorg dat julle inhaal!
5. Word deel van die mile high club.
6. Seks op ’n boot. Hulle sê die rocking sensasie is iets om te beleef . . .
7. Seks in die stort of enige ander plek, staande.
8. Seks in ’n tentjie in die wildernis – dit is iets wat julle kan uitleef wanneer julle jul ander bucket list deurwerk.
9. ’n Quickie – jy in jou minirompie en hy met sy broek om sy enkels!
10. Seks in die reën!

Maak die items op jou lysie waar

Dit help veel dat julle die lysie maak en dit dan vergete laat onder in ’n laai. As jul bucket list opgestel is, implementeer jul planne! Plaas jul lysie op ’n plek waar julle dit heeldag of gereeld gaan sien. Miskien in jou dagboek, agter jul toiletdeur, as wallpaper op jul rekenaarskerms of op ’n kennisgewingbord. Deel jul bucket list met vriende en familie. Inspireer hulle om hul eie lysies te maak. Só kan julle verantwoordbaar gehou word vir julle eie lysie. Moenie jul bucket list beperk nie. Soms verskyn ’n geleentheid in ’n nuwe gedaante. Hou julle oë oop. Hersien jul lysie gereeld. Trek ’n vet rooi streep deur dit wat julle reeds gedoen het. Kyk of sekere items irrelevant geword het en of daar ander items is wat julle wil byvoeg. Stel beoogde datums sodat julle kan byhou met als. Julle bucket list hoef nooit leeg te wees nie, want daar is soveel dinge om saam te ervaar!

Onthou steeds ’n huwelik bestaan uit twee persone

Behalwe vir jou huweliks-bucket list is dit baie belangrik dat jy ’n individuele lysie ook moet hê. Onthou, daar is sekere dinge wat jy dalk self wil bereik/doen wat jou maat dalk nie aanstaan nie of wat net vir hom/haar glad nie so belangrik is as vir jou nie. Wanneer jy trou en kinders kry, is daardie drome geneig om agterweë gelaat te word. Moenie toelaat dat dit gebeur nie. Stel sommer vanaand nog jul indidividuele bucket lists saam en deel dit met mekaar sodat jou maat presies weet wat jou drome is en jou kan help om dit te bewaarheid. Dit is belangrik vir paartjies om gereeld oor hul bucket lists te gesels sodat jy maniere kan vind om jou maat te help om syne waar te maak. Die rede hiervoor is vermenigvuldig. Eerstens bevorder ’n bespreking hieroor intimiteit en help dit julle om gefokus te bly op die positiewe dinge in jul lewens. Tweedens, om aan aktiwiteite deel te neem buite die norm bou opwinding op – vir jouself en vir jou huwelik. Derdens, as jy jou maat help met sy drome en ideale, kweek dit dankbaarheid in jul verhouding – wonderlike bemesting vir ’n spesiale band. “Ek het ’n wonderlike vriendin wat haar man aangemoedig het om sy droom om ’n warmlugballon-onderneming te bedryf te bewaarheid terwyl hy steeds ’n voltydse pos as vlieënier gehad het. Ek het ander vriende wat hul maats se drome om entrepreneurs of voltydse ouers te word ondersteun het,” meen huwelikskrywer Lori Lowe op marriagegems.com.

“Twee van my vriende het besluit om elke nasionale park in die stad te besoek. Miskien wou jy nog altyd musiek- of danslesse neem, in ’n vliegtuig vlieg, ’n nuwe taal leer of ’n boek skryf. Deel jou doelwitte met jou maat en bespreek hoe jou drome ’n realiteit kan word. Om in mekaar te glo en ’n positiewe visie vir jul eenheid te hê, is die magic van die huwelik. Talle egskeidings kon voorkom word as huweliksmaats gevoel het hul maats gee net soveel om vir hul drome en doelwitte as hulleself.”

Daar het jy dit! Droom saam, doen saam. En tick julle lysie een-vir-een af. Dit is die mooiste manier om herinneringe te bou.

Addisionele bronne: celestinechua.com.