Dit is nie ’n grap om op 60-jarige ouderdom te ontdek dat jy ’n huisie in die bos wil hê en manlief van plan is om die oudste dokter in die Suidelike Halfrond te word nie . . .

Julle plan was mooi uitgewerk. Wanneer julle jul 58ste verjaardag vier , sou jul jongste spruit klaar wees met universiteit en die laaste kuiken dus onafhanklik en uit die nes. Julle sou ’n camper koop, Afrika platreis en dan Europa trotseer. Alles het volgens plan verloop en julle het steeds goeie gesondheid aan julle kant. Maar deesdae, noudat daardie syfer naderkruip, begin manlief om die onderwerp te ontduik. Dit wil voorkom asof aftrede nie in sy planne is nie. Dit is baie beslis nog deel van jóú planne. In die nabye toekoms. Só, hoe nóú gemaak?

Daar is heelwat drama wanneer dit by aftrede kom. Altesaam 62% van paartjies wat hul senior jare betree, verskil oor hul verwagte aftree-ouderdom, meen Catey Hill op blogs.smartmoney.com. Dít is volgens ’n onlangse verslag wat saamgestel is uit die menings van 648 getroude paartjies (gebore tussen 1937 en 1964). Daarmee saam verskil altesaam 47% van paartjies oor of hulle gaan aanhou werk ná aftrede. Dan is daar ook 33% paartjies wat verskil oor waar hulle gaan aftree (of nie weet nie).

Kommunikasie is belangrik

“Paartjies moet saam gaan sit, lank vóór aftrede, om sake te bespreek soos wanneer hulle gaan aftree, waar hulle wil bly en of hulle beplan om te werk en watter leefstyl hulle hoop om te geniet,” sê Kathleen A Murphy, president van persoonlike beleggings by Fidelity, ’n internasionale makelaarsinstelling. Daarna moet ’n paartjie saam ’n finansiële adviseur besoek om oor hul doelwitte te praat en ’n aftreeplan te skep wat hulle sal help om dit te befonds. Om saam te beplan, kan julle dinge deurpraat, verskille oorbrug of ’n ooreenstemming bereik. “Dit sal julle help om verwagtinge te stel, saam as ’n span te werk om jul planne te implementeer en saam daardie nuwe fase van jul lewe te geniet,” meen Chris McDermott, senior vise-president van ’n annuïteit- en finansiële beplanningsinstansie. Indien julle sukkel om dinge gewoonlik deur te praat kliek hier vir ‘n oulike kommunikasie-metode.

Wannneer moet ek aftree?

Wanneer is ’n goeie tyd om af te tree? Sommige mense meen nooit! Vir die meeste is dit tussen die ouderdomme van 50 en 70. Dit is redelik wyd! Mense leef vandag langer. Statistieke toon dat ’n persoon wat op 65-jarige ouderdom aftree nog gemiddeld 20 tot 23 jaar oor het om te leef. Dit beteken dat jy die helfte van jou werksjare in aftrede kan deurbring. Maar wat as jy 90 jaar oud word? Terwyl daar talle mense is wat uitsien na ’n lewe sonder toesig, werksure en vol tyd waarin hulle hul tyd kan bestee aan dinge wat vir hulle lekker is, is daar ander wat meen hulle sal nie weet wat om met al die ure in hul dae te maak nie. Op sestigjarige ouderdom het Greg Butler (finansiële en bemarkingsdirekteur van een van Ierland se grootste supermarkte) afgetree. Mense het gevra hoekom hy dit gedoen het as hy sy werk soveel geniet het. “Want finansieel kon ek! Maar my werk was nooit net oor geld nie, só ook nie my aftrede nie,” vertel hy. In sy middel veertigs het hy besluit om op 60-jarige ouderdom af te tree. “Van daardie dag af was ek beslis oor wanneer ek wou aftree en ek het nooit daarvan afgewyk nie. Ek het aftreeberading ontvang en myself in besonderhede begin voorberei vir aftrede.” Op 60 was Greg geseën met goeie gesondheid, energie en ’n liefde vir leer – sou hy steeds so voel op 65? Dit is hoekom hy besluit het dat hy dadelik wil aftree. Daar was geen waarborge dat dieselfde opsies en moontlikhede vir hom gewag het op 65 nie. Sy ideale visie was om met een voet in die werkplek te bly. Hy wou ’n tweede loopbaan volg, maar meer tyd saam met sy familie deurbring.

Wees voorbereid op ontnugterings

Greg wou nie heeltemal ophou werk nie, maar minder werk en teen ’n meer ontspanne pas. Die eerste fase van sy aftrede was die pre-aftrede fase wat amper eufories was, skryf hy. Hy het gedroom oor ’n wegbreek van die 9-5 roetine, onafhanklikheid, vryheid . . . en toe het hy die wittebroodsfase geniet. Tot ses maande later, toe hy ’n gevoel van ontnugtering en alleenheid ervaar het en eers aan dié fase gewoond moes raak. Mense het vrae begin vra soos: “Sukkel jy nie om jou dag te vul nie?” terwyl hy vroeër jare opwindende gesprekke oor sy werk gevoer het. Greg het egter begin skryf en om mense te beraad oor aftrede. Wanneer iemand nou daardie vraag vra, praat hy oor sy stokperdjies, navorsing, gemeenskapsdiens of liefdadigheidswerk (retirementasyouwantit.com).

Ongelukkig kan verskille oor aftrede groot spanning tussen ’n paartjie veroorsaak. Hoe gouer jy en jou lewensmaat oor hierdie kwessies praat, hoe meer tyd het julle voor aftree-ouderdom om die probleme op te los. Bespreek een hele oggend in jul dagboeke vir mekaar en beantwoord die volgende vrae:

1. Op watter ouderdom wil julle aftree?

Hierdie antwoord hang van soveel dinge af. Natuurlik is finansies ’n groot faktor. Ook of julle ’n voldoende mediese fonds het. En watter eggenoot eerste sal aftree. “Vroue is geneig om later as mans hul loopbaanpiek te bereik, wat beteken dat hulle dalk nie wil ophou werk nie omdat hulle nóú eers op dreef kom,” meen Laura Carstensen, professor in sielkunde en direkteur van die Stanford Centre on Longevity.

2. Wil een van julle werk gedurende aftrede?

Bykans die helfte van paartjies wat beplan om af te tree, stem nie saam oor of hulle met een voet in die beroepswêreld moet bly staan nie. Dit hang af van jul leefstyl. Dit is dalk vir een van julle nodig om aan te hou werk (al is dit net deeltyds). Gesels oor wie ’n beter inkomste verdien of meer buigbaarheid het, maar omdat julle nou ’n ouderdom betree waar siekte of afdanking ’n werklikheid is, sorg dat julle nie hoef staat te maak op dié inkomste alleenlik nie.

3. Watter leefstyl beplan julle?

Besluit vooraf wat julle beplan. Is dit om iewers aan die Weskus te gaan bly in ’n vissershuisie? Met ’n rustige bestaan waar julle heeldag op die strand stap en mossels pluk vir aandete? Of is dit om twee Harley’s te koop, by ’n groep aan te sluit en die land plat te toer? Dit is soms moeilik vir paartjies om vrede te maak met ’n laer inkomste. As julle bang is julle gaan dit nie maak nie, kyk of julle vóór aftrede vir ’n jaar lank kan oorleef op jul verwagte inkomste ná aftrede. As julle nie kan nie, is daar nog tyd om jul leefstylverwagtinge aan te pas of jul spaarplan te hersien.

4. Waar wil julle woon?

’n Plek waar oorlewing goedkoper is of die klimaat gunstiger? Waar julle ’n nuwe tuin kan aanlê en uitlewing kan gee aan jul groen vinger-stokperdjies of waar julle ’n lock-up and go het, sodat julle op die ingewing van die oomblik vir die kinders kan gaan kuier. Hou ook in gedagte dat jul kleinkinders waarskynlik binnekort gebore gaan word. Wil julle oorsee gaan of eerder nader aan dié bloedjies bly?

5. Hoe lyk jul finansies vir jul aftrede?

Hoeveel het julle gespaar? “Baie mense is regmatig bekommerd oor hoe hulle deur die volgende tien jaar gaan kom en is bang dat hulle geld gaan opraak as hulle langer leef as wat hulle verwag het hulle sou. Het julle ’n beplande aftreefonds? En het julle mediese onkostes vir die toekoms daarby ingereken? Is al jul bates en belangrike dokumente in plek? Weet julle wat aangaan met jul bankrekeninge, spaarplanne, pensioenfondse, gedeelde rekeninge, lewensversekering en annuïteitsplanne? En het julle jul begunstigdes gespesifiseer in geval van jul dood? Is jul testament in orde? Moenie met die broek op die knieë gevang word wat jul finansies betref nie.

6. Wat gaan julle met jul tyd doen?

Onthou dat wanneer jy voltyds werk, jy ongeveer 2 000 ure per jaar aan werk en reis bestee. Wat gaan jy nou met daardie tyd doen? Onthou ook dat al daardie ure tyd was wat julle weg van mekaar spandeer het. Nou gaan julle al daardie ure in mekaar se geselskap spandeer. Is julle reg hiervoor? Onthou ook dat hoewel julle minder werkspanning gaan hê, ’n ander soort spanning julle verhouding kan binnekruip. Werk gee aan baie mense ’n doel om te bestaan – asof hulle ’n bydrae tot die samelewing lewer. As julle aftree, is daar ’n nuwe ritme waarby julle sal moet aanpas betreffende jul selfbeeld sowel as verandering in sosialisering.

Skryf nou julle bucket list. Maak ’n lys van 10 dinge wat jy graag na aftrede wil doen. Vra jou maat om ook só ’n lys te maak. Dinge waarvoor jy nooit tyd gehad het nie. Wys vir mekaar jul lyste en beplan saam om daardie dinge eendag moontlik te maak.

Een van die finansiële organisasies wat hulp aanbied met aftree beplanning is Impact Brokers – skakel hulle by 0861 555 829 of besoek hul webtuiste by impactbrokers.co.za

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!