Deur jou huis te orden, kan jy die stremming op jou huwelik verlig. Weerstaan die storms daarbuite en maak jou huishouding ’n veilige kajuit. Skep ’n vredevolle en gelukkige woning met hierdie wenke.

Promosie
  1. Skeduleer die belangrikste datums vir jou gesin en huishouding sommer vroeg-vroeg aan die begin van ’n nuwe jaar: Tandarts-afsprake, plek om die motors te diens, ouma se 90ste verjaarsdag en jul huweliksherdenking. ’n Elektroniese almanak (’n funksie van jou epos-sagteware) maak hierdie beplanning sommer maklik.
  1. Berei elke aand voor vir die volgende oggend. Deur ’n halfuur te spandeer om ’n paar basiese dinge gereed te kry, kan jy baie frustrasies soggens spaar. Dek solank die ontbyttafel met bakkies en lepels en sit sommer die graankos gereed. Pak die kinders se kospakkies en hang jou uitrusting vir môreoggend teen jou kas.
  1. Die lewe is gejaagd, maar gehaltetyd saam met jou kinders is noodsaaklik. En dis makliker as wat jy dink, meen Carien du Toit, ’n voorligtingsielkundige in ’n privaat praktyk. “Navorsing wys dat ’n halfuur per dag werklik ’n verskil kan maak aan die ouer-kind-verhouding. Vra vir jou kind watter aktiwiteit hy of sy graag saam met jou wil doen. Wees dan dáár vir daardie 30 minute – fisies én psigologies.”
  1. Min dinge kan soveel onmin in ’n huwelik saai soos sonde met die skoonfamilie. Besluit saam op watter terme familie en skoonfamilie kan kom kuier, hoeveel dae kennisgewing julle liefs wil hê en hoe lank die gaste kan oorbly.
  1. Woon minstens een keer per jaar ’n huweliksverrykingskursus of -seminaar by. Dit hoef nie voorspelbaar en vervelig te wees nie! INTIEM bied aanlyn kursusse aan – kyk gerus op ons webblad. Besoek ook www.marriagecapsule.com en wees deel van honderde paartjies wat hulle huwelike verbeter en verryk het.
  1. Dis gesond dat huweliksmaats ook afsonderlike belangstellings het. “Gun mekaar elke week ’n uur of twee om jul onderskeie belangstellings na te streef,” sê Carien. “Bied aan om die kinders fliek toe te vat sodat jou maat ’n aandklas kan bywoon. Hy bly dan die volgende oggend by die kinders sodat jy ’n pretdraf kan geniet.”
  1. ’n Chaotiese en slordige omgewing is die ideale teelaarde vir konflik, sê dr Sherrie Bourg Carter, ’n sielkundige wat skryf vir Psychology Today. Raak só ontslae van clutter: Neem 15 minute per dag en sorteer één area uit. Skep drie afdelings en sorteer dan die stapels volgens drie hopies: (1) Skenk vir liefdadigheid, (2) hou dit vir ’n spesifieke rede of (3) gooi dit weg.
  1. Eet ten minste drie keer per week saam aan tafel en maak dit ’n lekker ritueel, sê Carien. “Julle kan ook een keer per week ’n familie-aand hou waar elke lid van die gesin ’n beurt kry om die aktiwiteit wat julle saam doen, te kies.”
  1. As julle ver ry, gun lugtyd vir elke gesinslid se musieksmaak. Byt maar op jou tande as dit moet! Dit gee jou ook ’n gulde geleentheid om jou kinders se persoonlikhede beter te leer ken.
  1. As julle jong kinders het, is play dates ’n moet! Reël met ’n paartjie wat julle vertrou dat die kinders een naweekaand per maand by hulle oorbly. Julle bied natuurlik aan om dieselfde te doen vir die ander paartjie sodat hulle ook ’n blaaskans kan kry.
  1. Om inkopies te doen, kan só ’n las wees. Bestel eerder aanlyn! Die afleweringskoste is meestal minimaal en in sommige woongebiede bied verskaffers gratis aflewering aan as waardetoevoeging.
  1. Laai die OurGroceries-toep af om kruideniersware en items op julle onderskeie inkopielyste onmiddellik te sinchroniseer van slimfoon tot slimfoon. En dit is gratis! Besoek https://www.ourgroceries.com/overview vir meer inligting en om die toep af te laai.
  1. Verkeersknope en stadsverkeer laat emosies kookpunt bereik. Belê in jou huwelik – en hou jou koel in ’n warm kar – met ’n paar interessante oudioboeke in jou motorradio.
  1. Besluit saam oor tye wanneer tegnologie nie aanvaarbaar is nie. Byvoorbeeld: Geen selfone aan die etenstafel nie, geen skootrekenaars saans in die bed nie en geen televisie as die kinders huiswerk doen nie.
  1. Soms is dit wél beter om kwaad te gaan slaap, sê Carien. “Dis laat, julle is albei moeg en raak makliker gefrustreerd. Dis letterlik ’n geval van hoe later, hoe kwater! Die spanning wat opbou in só ’n scenario, is ’n wenresep vir konflik om handuit te ruk. Dit word baie moeilik om koelkop te bly.” Verklaar eerder ’n wapenstilstand totdat beide van julle die nodige rus ingekry het.
  1. As julle uitgaan vir ’n kuiertjie en beplan om ’n drankie of twee te geniet, maak gebruik van ’n drive-me-home diens om julle veilig en sonder kommer by die huis te kry. Bespreek ’n huurmotor via Uber, ’n GPS-gebaseerde toep wat dit maklik maak om ’n privaat-bestuurder op onmiddellike aanvraag te bespreek.
  1. Maak ’n lys van noodsaaklike items vir jou huishouding en allokeer ’n spesifieke area in jul huis aan noodgeval-voorraad: Langlewe-melk, flitsligte, ’n batterylaaier vir jou selfoon, medisyne, noodhulp-voorraad, ’n pak babadoeke en so meer.
  1. Pak die moeilikste taak van die dag eerste aan. “As jy ’n moeilike taak uitstel, skep dit interne afwagting en spanning – wat dikwels oorgaan tot eksterne konflik,” sê Carien.
  1. Gaan klim saam in die bed. “Die rukkie voor slaaptyd is baie kosbaar,” sê Carien. “Dis die ideale tyd om ’n bietjie te gesels en te ontspan, om net by mekaar te wees en in jou man se arms te lê.”
  1. Parkeerareas is ’n gevaarsone vir kinders. Hou hulle veilig (en jou spanningsvlakke in toom) deur Parking Pal-magnete teen jou motor aan te bring. Dié prettige magnete met kleurvolle handafdrukke leer kinders om hul handjies teen die kar te hou sodat hulle nie in die spervuur van aankomende verkeer beland nie.

 

Deur Anja van den Berg

Promosie