Ná ’n huwelik van ’n paar jaar is ’n mens geneig om gewoond te raak aan mekaar en die onderhoud in jou huwelik af te skeep. Daar gaan lê ’n dik laag stof op die (eens skitterende) romanse en passie wat só deel van jul verhouding was. Trek nóú jou verestoffer nader.
Romanse en passie glip vinnig deur ’n mens se vingers. Veral wanneer ’n mens só gewoond aan mekaar raak dat jy in jou oudste sweetpak, gaatjie-onderklere en ongewaste hare voor hom op die rusbank aan die slaap raak. En hy bier ná bier wegslaan en elke teug afsluit met ’n reuse-burp! Is dit tyd om met ’n kritiese oog na jul huwelik te kyk?
Hier is ’n paar wenke om jou te help om die romanse en passie terug te wen:
1. Oorweeg ’n make-over (of ’n mini make-over). ’n Mens is dikwels geneig om aan te neem dat enige vorm van pamperlang ’n luukse is. Maak ’n kopskuif! Mans is visueel ingestel. Nie net sal ’n nuwe haarstyl, goed versorgde naels of nuwe onderklere ’n bederf vir jou maat wees nie, maar dit sal ook jou selfvertroue ’n hupstoot gee. Jy is dit aan jou huwelik verskuldig om jouself goed te versorg en só die passievlam weer te laat brand.
2. Werk aan jouself. Ná ’n huwelik van ’n paar jaar is ’n mens dikwels geneig om gewoond te raak aan mekaar. Jy weet wie jou maat is, jy weet waarvan sy hou en nie hou nie, en daar is bykans níks waarmee sy jou kan verras nie. Of is daar? Soms is dit belangrik om weer jou maat se belangstelling te prikkel. Kry ’n nuwe stokperdjie waarby jou maat geensins betrokke is nie en moedig haar aan om dieselfde te doen. Misterie is sexy en dit gee julle iets nuuts om oor te gesels.
3. Skep ’n balans tussen spontaniteit en beplanning. Natuurlik is die ideaal om mekaar om 11:00 op ’n Saterdagoggend ná ’n inkopietog in die parkeerterrein te bespring! Of om jou maat drieuur soggens wakker te maak – honger van begeerte! Maar hoewel hierdie impromptu-benaderings nodig is, besef elke ou getroude dat geskeduleerde seks net so sexy (en nodig) kan wees. As julle weet daar lê ’n warm bedpretsessie voor vanaand om seweuur, kan julle vanoggend reeds begin flankeer as deel van heerlike voorspel.
4. Kweek ’n lus vir seks. Ja, jy kan! Soms maak ’n mens die fout om te wag vir jou libido om voor te skryf wanneer seks aan die orde van die dag is. Dit kan ’n baie lang wag word! In plaas daarvan om te wag dat jou liggaam vir jou voorskryf, skryf vir jou liggaam voor en máák asof jy seks begeer! Hoe meer seks jy het, hoe meer seks sal jy wil hê – dis ’n feit. Oorweeg dit dalk ook om ’n seksuitdaging te aanvaar. Seks vir vyf dae aaneen (of vir 15 dae of selfs ’n hele maand).
5. Onthou die verlede en droom oor die toekoms. Nostalgie is ’n wonderlike seksopkikker! Blaai gereeld saam deur jul trou-album en wittebrood-foto’s, herroep herinneringe van jul eerste vry op die agtersitplek van die kar en bloos saam oor daardie eerste nag. Terselfdertyd is dit belangrik om lugkastele te bou oor die toekoms. Droom oor en beplan daardie reis wat julle nog wil onderneem en die liefdesnes wat julle beplan om te bou die dag wanneer die kinders die huis verlaat. Ja, hiermee beskou jy dalk jou huwelik deur ’n rooskleurige bril, maar elke paartjie het ’n bietjie (of ’n goeie dosis) romanse nodig.
Romanse en passie is iets wat maklik taan. Met die regte ingesteldheid kan jy dit terugkry, blink vryf en weer gedy op daardie skoenlappers-in-die-maag gevoel!
Addisionele bronne: www.prevention.com.