Opwinding is wat die lewe (en die huwelik!) lekker maak. Maar opwinding is vir baie beheervrate ’n vloekwoord! Want vir opwinding om plaas te vind, moet jy soms onvoorspelbaarheid toelaat … en onvoorspelbaarheid bring verandering – dis onafwendbaar!
Stel jou voor jy kon ’n huweliks-voorspelling elke aand ná die nuus om sewe op jou kassie kry. Die knaap, kompleet in ’n toeknoophemp en das, sou plegtig iets sê soos: “Sarel en Susan, môre sal ’n mooiweersdag in jul huwelik wees. Verwag môreoggend effense tienerkonflik wat binne ’n uur behoort op te klaar en goeie nuus oor jul beleggings teen laatmiddag.” Wat ’n plesier! Jy sou jou huwelik fyn kon bestuur en as daar byvoorbeeld ’n droogte vir die seisoen voorspel word, sou jy allerlei planne kon maak om die huwelik vooraf nat te lei. Maar sou dit nie ’n bietjie vervelig gewees het nie?
Van watter tipe veranderinge praat ons?
Jaco en Sonja is vier jaar getroud. Sonja was altyd sowat 30kg oorgewig, tot verlede jaar, toe sy met die hulp van ’n span kenners en haar eie wilskrag, 40kg verloor het. Op ’n emosionele vlak het dit ’n ommeswaai in Sonja se lewe beteken. Wat Jaco ontdek het, is dat ’n uitbundige, selfversekerde en selfs flirty vrou onder Sonja se ekstra gewig weggekruip het. ’n Nuwe Sonja is losgelaat … een waarvan Jaco nie baie hou nie.
Etienne en Liana het hul toekomsplanne fyn uitgewerk. Hulle is jonk (op 24 reeds) getroud, sodat hulle ses jaar kon neem om die wêreld plat te reis (dis immers in ’n backpackers’ lodge waar hulle op mekaar verlief geraak het!) voor hulle met ’n gesin sou begin. Die voorbehoeding was in plek, die spaarfonds het gegroei en die paartjie het selfs uit hul onderskeie poste bedank en as vryskut-werkers begin werk om nie gebind te wees tot verlof nie – alles deel van die groter plan om hul reisdrome ’n realiteit te maak. Tot die dag, skaars ’n jaar ná hul troue, toe Liana se oggendnaarheid begin het …
Johan en Bets sou ná ’n huwelik van 38 jaar aftree. Al die jare het hulle oordeelkundig met hul geld gewerk en die aftreehuis vir die erf in Arniston is reeds ontwerp. Wat Bets nie geweet het nie, was dat Johan, midde-in ’n midlife crisis, al hul spaargeld uitgegee het op ’n nuwe venture – wat misluk het! Die uiteinde? Hul aftrede is onbepaald uitgestel, hulle moet trek na ’n piepklein meenthuis en Bets slaap snags langs ’n sedige en konserwatiewe bankman met ’n Freedom!- tatoe op sy boud!
Scenario’s soos dié gebeur elke dag met paartjies om jou. Dis onvermydelik dat jou huwelik fisieke, emosionele, gesondheids- of spirituele veranderinge (of al vier!) sal ondergaan. Deur die jare sal julle waarskynlik op persoonlike, sosiale, finansiële en emosionele vlak uitgedaag word. Verhoudings gaan ook deur verskeie ontwikkelingsfases, so verandering is natuurlik. Maar dit is ’n mite dat verandering altyd sleg is. ’n Mens skrik maklik vir die woord, maar verandering kan ’n positiewe en opwindende invloed op ons verhoudings hê.
Hoe om met veranderinge te cope
Klein veranderinge in jou huwelik kan baie dinge behels – van ’n nuwe stokperdjie wat jou maat besig hou, tot ’n huis wat stelselmatig in al meer chaos verval, omdat jou maat nie juis netjies is nie. Soms is dit nie eens veranderinge nie, maar dinge wat na vore tree (en sigbaarder word) soos wat die honeymoon-fase verbygaan. Dit help om die klein jakkalsies te konfronteer vóór hulle in groot probleme ontaard.
Groot veranderinge is iets anders – dit is wanneer veranderinge ’n direkte teenstelling tot jou eie gedagtes en waardes verteenwoordig. Dit is wanneer jou maat nog altyd kinders wou gehad het, maar nou van plan verander het. Of wanneer die een wat altyd konserwatief was, skielik liberaal word.
Miskien gaan dit oor waar julle jul kinders wil grootmaak, of loopbaanbesluite wat jul lewenstyl dramaties beïnvloed. Sielkundige Terri Orbuch beveel aan dat paartjies bespreek tot hoe ’n mate hierdie groot veranderinge elkeen afsonderlik beïnvloed en dan ook hoe dit die verhouding beïnvloed. Dit help ’n paartjie om vas te stel of hulle okay is met die veranderinge en hoe hulle dit gaan hanteer. Een van die twee kan compromise, of ’n paartjie kan mekaar in die middel ontmoet.
Die opsies is eindeloos en daar is baie oplossings, waarvan nog een is om die groot veranderinge te aanvaar en die beste van die situasie te maak. As julle nie ’n gesamentlike oplossing kan vind nie, neem ’n bietjie tyd vir self-refleksie. Kry miskien ’n derde party, soos ’n familielid, vriend of terapeut, betrokke om jou te help dink oor die situasie en om jou te help om dit dalk vanuit ’n ander perspektief te beskou.
Nog ’n paar praktiese wenke:
1. Wees voorbereid op moontlike veranderinge. Die lewe is propvol verrassings. Maak vrede met die realiteit van veranderinge en jou onvermoë om dit te vermy. Wanneer jy “laat gaan”, maak dit die proses soveel makliker vir jou en die mense om jou.
2. Maak jou gesin jou eerste prioriteit. Wanneer daar ’n groot verandering plaasvind, dink eerstens hoe dit julle as gesin gaan beïnvloed en hoe julle die verandering so pynloos as moontlik vir julle as gesinseenheid kan maak. As dit ’n nuwe Labrador-puppy verg om die trek vir jou jongste makliker te maak, laat dit so wees.
3. Herken die tekens van veranderinge. Dikwels leef ons in ontkenning deur te vermy wat reg voor ons oë afspeel. Jy sien dalk voor jou oë hoe jou maat se gesondheid agteruitgaan, hoe die maatskappy waar jy werk aanpassings maak … Om die skok te vermy, wees bedag op die tekens van veranderinge.
4. Hê geduld met mekaar. Veranderinge skud die lewe wat julle ken en is daarom ongemaklik en ’n skok vir die sisteem. Aanvaar dat dit tyd sal neem vir julle om daaraan gewoond te raak en moenie jou maat dwing om binne ’n dag gewoond te raak aan iets wat jy al reeds geprosesseer het nie.
5. Koester die verlede en embrace die toekoms. Moet julle nou skielik in ’n klein huisie sonder ’n televisie intrek? Sien dit as ’n nuwe geleentheid om as gesin nader aan mekaar te groei en beskryf jul huisie as cosy eerder as beknop.
6. Gebruik die kans om ’n geleentheid aan te gryp. Soms is ’n dramatiese verandering ook ’n goeie tyd om sommer die gewoontes te laat vaar wat jy lank reeds wou. Moet julle platteland toe trek? Gebruik jou voete om die nuwe omgewing te verken, en raak sommer fiks in die proses. Dit neem netdrie weke om ’n nuwe gewoonte te vorm…
Veranderinge kan julle uitmekaar dryf of julle nader aan mekaar laat groei. Maak seker dis laasgenoemde…
Addisionele bronne: psychcentral.com, wikihow.com,
susieandotto.com, voices.yahoo.com.
Artikel deur Annelize Steyn
***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?
Is jy gereed om in jou huwelik te belê?
Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!