Wanneer jy in die middel van die nag met die leë toiletrolhouer in die hand staan en Manlief snork salig uit die slaapkamer, dink jy dalk: ‘My ma moes my gewaarsku het …’ Miskien hét jou ma jou gewaarsku. En miskien was jy net salig onbewus van wat ná die troubeloftes wag.
Julle het pas jul eerste rusie as getroudes gehad en lank ná middernag deurweek jy nog jou kussing, terwyl jou nuwe eggenoot (wat jou al hierdie hartseer besorg het!) lank reeds in droomland is. Jy wonder wat jou ooit besiel het om die knoop met so ’n gewetenlose buffel deur te haak en jy is erg ontnugter. Eerstens het jy nie geweet dat hy só gou immuun teen jou trane gaan raak nie (deksels!), tweedens het jy gedink hy sal jou besluit om altyd goed te lyk, ondersteun (en nie te kere gaan oor jy die helfte van jul huispaaiement op ’n little black dress bestee het nie) en derdens het jy gedink sy harde woorde gaan hom ’n biétjie meer pla as dít (jy kon sweer hy het selfs drie minute gelede in sy slaap “Go, Sharks!” gemompel). Wel, die koeël (én jou gevolg) is reeds deur die kerk, so jy sal hierdie ding moet máák werk. Jy wens net daar is sekere dinge wat jy vroeër geweet het …
Vra jy rond oor wat vroue wens hul voor hul troudag geweet het, wissel die antwoorde van: “Dat my skoonpa so vatterig sou wees!” (Anna, 52) tot by: “Ek sou aangedring het op ’n vervaldatum vir my huweliksertifikaat!” (Elma, 29). Laasgenoemde meen ook dat sy met ’n pêrelring wou trou, maar omdat diamantringe ononderhandelbaar was, anders as vandag, het sy maar daarby berus. Igna (29) sê sy sou minder inskiklik gewees het en Elsie (29) wens sy het geweet haar laatlam vir ’n man gaan nooit grootword nie.
Yolande (32) is bykans ’n jaar getroud en sy wens sy het voor haar troue geweet dat die meeste mans régtig nie vetrolletjies en selluliet raaksien nie! Jody (24) wens sy het geweet dat mans power kommunikeerders is en dat dit ’n ewige opleidingsproses is om hulle sover te kry om hul gevoelens te deel. Ook Verna (42) wens sy het geweet dat die getroude lewe soveel aanpasssing en opoffering sou verg. In Helena (29) se woorde: “Ek wens ek het geweet ek gaan so min tyd en geld vir myself hê; dat sy loopbaan die belangrikste sal wees en dat skoonouers so ’n groot invloed op ’n mens se huwelik het.”
Vir Margita (36) was dit belangrik om voor haar troue te weet dat sy nie haar man moet probeer verander nie en Chriselda (32), sê: “Ek sou nooit kon droom dat dit so lekker is om ’n maat te hê met wie jy alles kan deel nie, om altyd ’n skouer te hê om op te leun en ’n ware vriend …”
Hier is 20 dinge waaroor elke vrou behoort na te dink voor die skitterende diamant haar oë verblind!
1. Jy hou van roereier vir aandete en jou maat slaap op sy maag
Voordat jy begin rokke aanpas, is dit noodsaaklik dat jy regtig weet wie jy is en met wie jy trou. Dit klink vanselfsprekend, maar soveel vroue sê dat hulle ná hul troue ontnugter is deur hul maats se karaktereienskappe. As jy nog baie dinge het om in jou lewe uit te sorteer, nog nie regtig weet wat jou doelwitte is nie en daardie single girl, Europa-reis kort-kort aan jou onderbewussyn kielie, sorteer hierdie dinge eers uit.
As jy nie weet wat jy graag in die lewe wil hê nie, hoe gaan jy weet of jy die regte persoon gekry het om daardie lewe mee te deel? En maak seker jy het jou maat al op sy beste én sy slegste gesien (nou praat ons nie van oriënteringsweek op varsity nie, maar van emosies).
2. Dit is nie ’n mite nie en júlle sal nie vrygeskeld word nie – élke huwelik verg harde werk!
Tyd en vals sekuriteit kan selfs die sterkste liefde laat skade ly. Dit is wonderlik om nou in die euforie van ’n jong verhouding waarin alles moeiteloos werk, en sonder addisionele druk te kan baai, maar wees ook daarop voorbereid dat verliefdheid mettertyd in liefde verander. Dit is nie slegter nie, maar ánders, en as jy dit nie weet nie, kan dit dalk voel of jou wêreld in duie stort.
Moet nooit houtgerus in jul verhouding raak nie. Soveel paartjies is al geskei omdat een van die partye daardie vals aanname gemaak het dat alles okei is. Suksesvolle paartjies bly heeltyd in voeling en praat oor waar hulle in die verhouding staan, om seker te maak dat albei gelukkig is. As een van die partye ongelukkig is, moet die probleem reggestel word, voordat daar nie meer omdraaikans is nie. Suksesvolle paartjies wag nie tot die skeidokumente reeds geteken is voordat hulle die bystand van ’n kenner inroep nie.
3. Hy is miskien ’n Robbie Wessels-fanatikus, maar kan wraggies Aïda ook waardeer!
Miskien dink jy jy het jou studie van hierdie vreemde geslag nou eindelik onder die knie. Jy het jou pa, boetie en vriendinne se kêrels al goed bestudeer en ken elke stereotipe soos die palm van jou hand. Miskien dink jy dat mans só voorspelbaar en eenvoudig is dat dit nie veel verg om hulle te verstaan nie.
Ja, totdat jy trou! Moenie glo dat alle mans dieselfde is nie, jy mag dalk net verras word! So, dit is handig om boeke te lees en jou kennis oor dié spesie op te skerp, maar wees ook voorbereid daarop dat jóú man dalk van pienk hóú, dat hy miskien verkies om nié ’n moordkuil van sy hart te maak nie en dat hy dalk, taai soos wat hy voorkom, ’n baie sensitiewe ego het (hier’s ’n geheim: die meeste mans hét so een!)
4. Weet dat liefde G-E-E gespel word …
Wanneer jy ongetroud en ongebonde is, is dit natuurlik om ’n ek-ek-ek-mentaliteit te hê. As jy vir jare lank alleen gebly het, self leer macaroni maak het, en alleen jou sitkamerbanke uitgesoek het, is dit ’n moeilike konsep om aan te byt, maar die liefde is definitief méér gee as neem.
Baie kenners meen dit is ongeveer 60% gee en 40% neem en dit geld vir albei huweliksgenote! Om mekaar eerste te stel, is soms moeilik. Donna Lee, wat vir 45 jaar getroud is, sê: “Die wonderlikste deel is dat die ‘ek’ alles kry wat hy/sy nodig het, as die ‘ons’ eerste geplaas word.”
5. Jy het nie meer die bed vir jouself nie .. ook nie die vryheid om Modern Family deurnag te kyk nie.
Daar is sekere pryslose plesiertjies wat jy sal moet prysgee, wees voorbereid hierop. Moet egter nie die fout maak en glo dat al sy slegte eienskappe ná jul troue eensklaps deur jou goeie intensies omtower gaan word nie! Dit is die dinge waarop jy die minste voorbereid is, wat gou gaan verander. Na julle troue is julle ’n eenheid. Dit beteken wel dat jy nié op die ingewing van die oomblik (en sonder om dit met hom te bespreek) jul slaapkamer boergonje (dis ‘n wyn vanuit Frankryk!) kan verf en sy stewels vir die welsyn kan gee nie. Dit beteken dat jy soms in ’n tweeman-tentjie iewers op ’n berg, sonder toegang tot lopende water sal móét gaan kamp en sal moet maak of jy dit geniet! Maar toemaar, look on the bright side, wat vir die een geld, geld ook vir die ander. Hy sal volgende keer maar vir die dubbele vollyfmassering wat jy vir julle twee bespreek het moet lê (én moet erken dat hy hoendervleis gehad het …)
6. Jou man kan nie elke emosionele behoefte van jou vervul nie.
Die man in jou lewe kan onmoontlik die rol van huweliksmaat, beste vriend, minnaar, vertroueling, trooster, ‘cheerleader’, komediant én klankbord speel! Skrywers van die boek, Every Woman’s Marriage, Greg en Shannon Ethridge, bieg hoe Shannon op die punt gestaan het om Greg te verlaat, omdat hy nie aan al haar emosionele behoeftes kon voldoen nie. Sy antwoord aan haar was: “Shannon, jy het ’n Grand Canyon van emosionele behoeftes, en as elke man in Dallas buite jou voordeur tou gestaan het, sou dit nie genoeg gewees het nie. Voordat jy nie na God kyk om jou emosionele behoeftes te vervul nie, is daar niks wat ek of enige ander man op die planeet kan doen om dit vir jou te bevredig nie.”
Weet nóú al dat jy nie ’n alles-in-een lewensmaat moet verwag nie, en daarom is dit belangrik om jou met familielede en vriendinne te omring wat die verskillende rolle in jou lewe kan vervul.
7. Glo dit of nie – hy het sy eie emosionele behoeftes!
Dit behels nou miskien nie om so nou en dan op jou skouer te huil of ure lank oor hartsake te gesels nie, maar mans het ook emosionele behoeftes. Die grootste is natuurlik respek. Shannon sê vroue moet besef dat as hulle met hul beste vriendinne praat soos wat hulle dikwels met hul mans praat, hulle daardie vriendinne lank terug reeds sou verloor! Moet jouself nooit toelaat om sonder respek teenoor jou toekomstige lewensmaat op te tree nie.
Nog ’n behoefte wat mans het, is om te weet dat hulle hul vroue gelukkig kan maak. “Dit is belangrik dat vroue sal besef dat dit vir ’n man die verpletterendste ding in die wêreld is om in ’n huwelik te staan waar sy vrou nie gelukkig is nie,” sê sy. “Hy voel of hy die bron van haar ongelukkigheid is … Ek dink dat ons dit aan ons mans verskuldig is om uit te werk wat ons gelukkig maak.”
8. Hy verwag dalk van jou om met Jockey, sy Jack Russel, in die waai van jou arm te slaap!
’n Huwelik gaan met verwagtinge gepaard. Of jy wil of nie, jou maat gaan sekere dinge van jou verwag (en jy van hom), gebaseer op dít wat julle in jul ouers se huwelikslewe gesien het. Miskien was sy vrye studentegees vóór jul troue vir jou inspirerend, maar ná die troue verwag jy van hom om brood en botter tafel toe te bring. Die geheim is om voor die troue reeds oor jul verwagtinge met mekaar te praat.
Miskien verwag hy van jou om natuurlik sewe kinders te baar én hulle boonop op tuisgemaakte kos en lapdoeke groot te maak. Jy wil nie graag só ’n verrassing hê as jou denkrigting nog altyd was: “Een op die mééste, Purity en Pampers, hier kom ons!” nie…
Onthou ook dat jul verwagtinge van mekaar en van die huwelik mettertyd sal verander. Dit is daarom noodsaaklik om voortdurend ná die huwelik te bly kommunikeer om seker te maak dat julle op dieselfde golflengte is.
9. Daar is nie so iets soos ’n perfekte huwelik nie, slegs perfekte oomblikke
Daar gáán irritasies wees, en glo dit of nie – dinge wat jy nou te kostelik vir woorde vind, gaan jou binne die volgende paar jaar mateloos begin irriteer. Ons is almal individue met wonderlike karaktertrekke en uiteenlopende geaardhede. Sonder wrywing, is daar geen hitte nie! Verwag dat dinge nie altyd glad gaan verloop nie, wees geduldig en aanvaar jou maat soos wat jy graag aanvaar wil word; en bou gedurende die goeie tye reserwes vir daardie kere op wanneer dit nie so goed gaan nie.
10. Hoe gek jy ook al oor Victoria en David Beckham is, die huwelik maak nie van julle ’n Siamese tweeling nie!
As julle gelukkig getroud wil wees, behou jou individualiteit. Op die wittebrood is dit heerlik om by die heup aan mekaar verbind te wees, maar op die lange duur is só ’n situasie ongesond en onrealisties. Dit maak nie saak hoeveel liefde daar is nie, die huwelik gaan jou soms ‘vasgevang’ laat voel, en dit sal soms vir jou nodig wees om hom aan te moedig om saam met sy ongetroude, onvolwasse vriend kleiduiwe te gaan skiet. Net so is dit vir jou ook goed om jou vriendinne se geselskap te geniet. Dit beteken allermins dat julle afsonderlike lewens moet lei, maar wel dat julle mekaar die vryheid moet gun om van tyd tot tyd (op ’n gesonde manier) te ontvlug!
11. Geniet daardie koffie in die bed … jy sal hard moet werk om dit te blý geniet.
Mans is jagters en ongelukkig is daar sóveel dinge wat by hierdie eenvoudige waarheid aansluit. Dit is in hul raamwerk ingebou. Sodra hy sy prooi (dit is nou jý) platgetrek het, gaan hy luilekker onder ’n boom lê en smul. Met die klem op lúí!
Voor die huwelik is ’n man soms ’n wonderlike wese – hy luister met aandag na alles wat jy vertel, maak die motordeur vir jou oop en vra jóú om die fliek te kies. Wie sal nié met so iemand getroud wil wees nie? Wees egter daarop voorbereid dat baie van hierdie kosbare dingetjies mettertyd … eh… verlore kan raak, sodra julle man en vrou is. Dit sal nie wees omdat hy jou slinks om die bos gelei het nie, maar omdat hy dit net nie meer nodig ag nie. Dit sal soms vir jou nodig wees om hom daaraan te herinner om jou die middelpunt van sy heelal te hou!
12. Julle gáán baklei… en soms gaan dit soos die einde van die wêreld voel!
As julle dit oorweeg om te trou, is die kanse goed dat julle al jul fair share van konfliksituasies gehad het. Die kans is egter ook goed dat jy vir hom met jou Hush Puppy-oë gekyk en sy hart vermurwe het, en dat jul rusie presies sewe minute geduur het voordat alles vergete was! Onthou dat daardie kyk (die een wat die kat in Shrek só doeltreffend gebruik!) nie altyd gaan werk nie. Daar sal konflik wees en dit sal soms sleg wees, maar as julle daarvoor opgewasse is, sal julle dit kan hanteer.
’n Amerikaanse sielkundige, John Gottman, het ’n 20-jaarlange studie van getroude pare gedoen en bevind dat die grootste element wat sukses van mislukking geskei het, hul vermoë was om konflik op te los of nie. Gelukkige paartjies bly kommunikeer, dit maak nie saak hoe aaklig die atmosfeer tussen hulle is nie. Hulle praat oor hul verskille sodat hulle eindelik tot ’n vergelyk kan kom.
13. Julle sekslewe gaan nie altyd stomend wees nie, en soms net prut…
Miskien kyk jy na daardie sexy eendagstoppelbaard en lenige lyf en glo dat daar nie ’n dag sal kom wanneer jy hom nié sal begeer nie! Maar glo ons as ons sê die dag gaan kom wanneer hy met ’n oggendasem en verrimpelde vel al krappende aan sy agterstewe badkamer toe gaan strompel en jy gaan wonder wat jy ooit in dié ou man gesien het! Op jul huweliksnag kan julle dalk nie wag om van mekaar se onderklere ontslae te raak nie, maar in die jare wat volg, gaan daardie begeerte ’n bietjie taan.
En dan is daar natuurlik die grootse passion killer – die geboorte van jul eerste kind! Dit is belangrik dat jy voor jou troue hierdie dinge weet en daarop voorbereid is, sodat julle daarvan kan werk maak om jul vlam van passie te bly stook. Dit sal soms beteken dat julle seks sal moet skeduleer en moeite sal moet doen om dit by jul alledaagse lewe te laat inskakel om sodoende die seksuele droogte te oorleef. Dit sal julle kan regkry deur liefdevol te bly, met mekaar te flankeer, mekaar aan te raak en nooit op te hou om mekaar passievol te soen nie.
14. Sy droom om eendag ’n Harley Davidson te ry, gaan waarskynlik verander
Die persoon met wie jy getroud is, gaan verander – net soos jy gaan verander. Jul grootste droom is dalk nou om oor tien jaar ’n sabbatsjaar te neem en al om die wêreld te seil. Hmm, klink idillies, nè? Die kans is egter goed dat julle oor tien jaar daar gaan kom en dit dan skielik vir hom belangriker gaan wees om eers die elektriese heining te installeer, jul eersteling se peperduur privaatskool-onderrig te betaal of ’n bediendekamer te laat aanbou.
Sekere keerpunte in jul lewens gaan (hopelik) groei bring, dinge soos ’n gesin, die verlies aan ’n ouer of die leënessindroom. Dit is natuurlik dat enige mens groei en jy sal daarmee vir lief moet neem dat jy self in sekere opsigte sal moet verander om by jou veranderende verhouding aan te pas (net soos hy sal moet). Dit is onrealisties om van jou maat te verwag om vir altyd dieselfde te bly (al sou jy hoe graag wou hê dat hy vir ewig die hunk moet wees wat hy nou is) en gelukkige paartjies ry die golwe eerder as om daarop te probeer aandring dat dinge dieselfde bly.
15. Egskeiding is nie ’n easy way out nie … dit is ’n uitmergelende, vernietigende proses
Egskeiding is ’n baie seer proses wat al die partye skaad (veral die kinders). Heelwat paartjies wat hierdie besluit neem, het die huwelik binnegegaan met die idee dat daar altyd ’n uitweg is. As dít is wat in jou agterkop aangaan, is jy óf nie gereed om te trou nie, óf nie bedoel om met híérdie man te trou nie.
Om die huwelik met die idee binne te gaan dat egskeiding nie ’n opsie is nie, is noodsaaklik vir langtermyngeluk, sê paartjies wat al langer as veertig jaar getroud is. Hoewel daar beslis sekere situasies is waarin ‘n egskeiding onvermydelik en beslis die beter opsie is, gaan dit dikwels oor toewyding.
16. ’n Man glo hy kan nie oorwin word nie…
Dit is hoekom hy sy droomkar koop en kyk hoe vinnig hy daarmee kan ry! Hy sal van ’n krans afspring en dan kyk of hy vir die tweemeter-waterpoel tussen die rotse kan mik. Jy dink miskien dit het iets met sy ouderdom te doen en glo dat dit sal weggaan ná julle getroud is, maar dit sal nie. Iewers tussen die ouderdom van 40 en 50 gaan hy eendag in die tuin werk en heeltemal verbaas wees as hy Sondagoggend nie uit die bed kan opstaan nie! Só verduidelik Ed Bagley op www.articlesnatch.com. Dit is eers dán wanneer hy waarskynlik die punt bereik waar hy besef hy kan nie aanhou om risiko’s te neem nie en (hopelik) begin om ’n verantwoordeliker lewe te lei. Jy besef egter dat hierdie kentering natuurlik nog ’n hele paar jaar weg is, nè?
17. Hy is regtig vir jou lief net soos jy is, so glo hom maar as hy dit sê
Dit is wonderlik om jouself goed op te pas en gereeld vir manikure, pedikure en bikiniwakse te gaan, maar moet nooit uit die oog verloor dat die man, met wie jy op die punt staan om te trou, regtig vir jou lief is vir wie jy is nie. Jy bestee dalk ure om jou mooi vir hom op te tof, terwyl hy dink jy is op jou sexyste in jou oudste sweetpak of wanneer jy soggens opstaan – sonder grimering en met deurmekaar hare. So, wys hom wie jy regtig is deur soms grimeringloos te loop en jou hare los en natuurlik te dra. Moet jouself ook nie opkeil oor die rekmerke wat jy nou nog wegsteek en wat jy seker is hom die hasepad gaan laat kies, nadat hy ’n paar jaar gehad het om jou goed te bekyk nie!
18. Dit sal soms vir jou nodig wees om so ’n bietjie baasspelerig te raak!
Natuurlik is hy die leier in die verhouding, en natuurlik is dit vir hom lekker om te voel hy vervul hierdie rol, maar om pal die besluite te neem, kan naderhand uitputtend raak en uiteraard wil jy soms jou sin ook hê! Mans hou van vroue wat besluite kan neem. Of dit nou is om vir ’n drukkie te vra, seks te inisieer of planne vir die naweek te maak. Jy sal so nou en dan na vore moet tree en die verantwoordelikheid by hom moet oorneem. Ná julle troue gaan jy agterkom dat dit noodsááklik is as jy ooit die familie wil sien, vriende se kinders se verjaardagpartytjies wil bywoon en jou eie kroos dieretuin toe wil neem, want so maklik soos wat dit vir hom is om ’n braai na rugby te reël, so moeilik is dit om te onthou om plek vir daardie Drakensberg-naweek te bespreek!
19. Seks hoef nooit vervelig te raak nie!
Net soos wat dit in mans ingebou is om die voorsiener te wees, so is kreatiwiteit deel van vrouens se raamwerk; daarom gaan hy van jou verwag om ’n ‘tuiste’ te skep – ’n mooi huis waar hy vriende kan onthaal, ontvlugting kan vind en mee kan spog. (Moet hom net nie te veel vryheid gee om sy insette te lewer nie, anders sit jy kort-voor-lank met sy ma se gebreide, perskekleurige toiletoortreksels in jou huis!)
Om ’n karaktervolle blyplek te skep, vra nie noodwendig baie geld nie, maar wel kreatiwiteit. Net so kreatief soos jy in jou huis gaan wees, net so gaan hy dit geniet as jy in die jare wat volg so ’n bietjie kreatief in die slaapkamer raak. Briefies om hom mee te verlei, sal wondere vir die langdurigheid van jul huwelik verrig.
Daar is soveel dinge wat jy kan doen om jul sekslewe ná jul troudag opwindend te hou, soos om op spesiale afsprake vir hom te fluister dat jy geen, of sexy onderklere aan het! Wanneer julle in die bed is, kan jy maak of jy sy gunsteling aktrise is en ’n paar bekende reëls uit ’n fliek herhaal (wat jy natuurlik vooraf gememoriseer het!) Dit is wat jul sekslewe ná jare steeds interessant sal hou.
20. Goeie seks vind nie altyd sonder inspanning plaas nie.
Sorg dat jy die regte dinge weet om jul sekslewe aan die brand te hou, ook in die maer jare. Daar is baie boeke, blogs en aanlyn-tydskrifte wat jy kan lees, maar hier is ’n paar kitswenke: Onthou, daar is niks sexier as om iemand te wys wat jy graag wil hê nie. Dit beteken dat jy ’n ywerige deelnemer (aan die seksdaad) sal moet wees, dat jy jou eie lyf goed sal moet ken, en dat jy bereid sal moet wees om hom ook te leer om jou lyf te leer ken. Onthou dat gelyktydige orgasme dikwels ’n onrealistiese ideaal is. Dit gebéúr, maar dit gebeur selde, so moenie daardie addisionele druk op jul verhouding plaas deur te glo dit moet altyd gebeur nie.
Weet ook dat dit soms heeltemal okei is om nee te sê. Waar vroue vroeër jare seks as ’n plig beskou het, is daar ’n nuwe soort druk op die vrou van vandag – hedendaagse Evas word vertel dat hulle altyd in die bui moet wees! Maar ’n vrou is nie noodwendig so nie, en as jy op sekere dae ná jou troue soms nie lus voel vir seks nie, gaan dit nie van jou ’n slegter minnares maak nie.
’n Laaste wenk: smeermiddel is ’n wonderlike toevoeging tot enigeen se sekslewe – veral as jou gees gewillig is, maar jou lyf nie wil luister nie!
As jy hierdeur gelees het en baie hiervan nie vir jou ’n verrassing is nie, is jy waarskynlik gereed om te trou! Jy kan soveel lees en navors soos jy wil, maar op die ou end gaan jy deur jou hart gelei word. Julle is elkeen individue, en die wonderlikste van alles is dat die liefde onvoorspelbaar is. Dit is goed om so ’n stap nugter en oopoë te neem, maar daar is ook ’n rede waarom God ons met die endorfiene van verliefdheid geseën het! Dit maak nie saak hoeveel kennis jy inwin nie, daar gaan vir seker verrassings op die pad wees, en dít is juis wat van die huwelik so ’n onvergeetlike, heerlike, opwindende reis teen 200 kilometer per uur maak! Maak jou sitplekgordelvas en geniet dit net…
Bronne: www.thewriteparts.com.; http://www.thirdage.com; www.verticalthought.org; www.ivillage.co.uk; www.msnbc.msn.com; www.glamour.com; www.shannonethridge.com; www.cbn.com