Só dikwels sien ons hoe die held en heldin van ons gunsteling romanse diep in mekaar se oë kyk op hul troudag en fluister: “Jy voltooi my.” Ons glo ons lewensmaats sal ons “volmaak” laat voel. Maar is dit realisties of net ’n illusie wat die silwerskerm vir ons optower? Kan ’n mens regtig van jou huweliksmaat verwag om jou as mens te voltooi?
Alhoewel talle boeke al oor die onderwerp geskryf is, verduidelik Kobus Pauw, ’n verhoudingsdeskundige, dat ’n mens moet gaan kyk na wáár die strewe na volmaaktheid ontstaan het. “Die Woord van die Here sê dat ons as babas in sonde ontvang en gebore word. Die sonde werk dus in op ons, omdat ons daarin neergesit word. Dit gebeur omdat daar gebroke mense is wat hierdie babatjie moet grootmaak en in hulle eie gebrokenheid maak hulle baie foute. Hierdie foute kan bewustelik sowel as totaal onbewustelik wees.
“Die uiteinde is egter dieselfde: Die kind word beïnvloed en daar word aan sy of haar heelheid weggebeitel. Al onthou jy nie al hierdie invloede wanneer jy ’n volwassene is nie, is daar altyd ’n hunkering om daardie deel wat weggebeitel is terug te kry.”
Wanneer ons na ons lewensmaats soek, is hierdie soeke na heelwees baie dikwels die dryfkrag hiervoor, maar ons maats is nie altyd bewus van dié werksomskrywing nie. Dit veroorsaak later baie spanning wanneer jy besef jou ridder het ook voete van klei. Hy was veronderstel om jou volmaak te laat voel, net soos op die silwerdoek.
Nou sit jy egter met ’n knorrige man wat eerder wil visvang omdat hy jou as “high maintenance” ervaar. Diep in jou hart begin verwyt en ongelukkigheid wortelskiet. Waar is jou gelukkige einde? Wat het geword van jou held wat jou sou heelmaak?
Begin van voor af
Om ’n gelukkige huwelik te hê, moet die regte grondslag gelê word. Jy moet eerstens verstaan dat niemand anders, behalwe jou Skepper, jou kan heelmaak nie. Hy het jou volmaak aanmekaar geweef, maar die wêreld het jou geskend. Dieselfde geld ook vir jou maat. Die doel van lewensmaats is dat God hulle as instrumente in ’n gebroke wêreld kan gebruik. Verskuif dus jou fokus van jou maat na God.
Elkeen moet egter ook hul eie tekortkominge erken en aanvaar. Nie jy of jou maat is perfek nie en daarom kan ons nie onrealistiese vereistes aan mekaar stel nie. Dit sal net lei tot verwyte en teleurstellings. Vind saam uit waar hierdie tekortkominge vandaan kom. Hierdie refleksietyd kan oorweldigend raak en deur die pad saam met jou maat aan te durf, sal julle as ’n sterker eenheid aan die ander kant uitstap.
Die heel belangrikste deel van die proses is om te onthou dat jou soektog na heelwees nooit nét op jou maat geprojekteer kan word nie. Dit is nie sy verantwoordelikheid om jou gebrokenheid uit te sorteer nie. Hy is net ’n mens, soos jy, en sal vir seker tekortskiet. Onthou dus dat hy slegs die kanaal moet wees waardeur God Sý werk gaan doen.
Wanneer is ek gereed vir die jawoord?
Net jy sal weet wanneer jy gereed is om te trou, maar hou die volgende in gedagte:
- Die uitsorteer-proses is ’n lewenslange proses wat jou en jou maat nader aan mekaar of verder uitmekaar kan dryf. As ons moes wag vir mense om eers hierdie proses te voltooi, sou bitter min mense getrou het. Die lewe word nie makliker sodra jy getroud is nie – inteendeel. Jy sal altyd ’n stukkende wêreld hê wat wegbeitel aan jou menswees. Jou maat ook. As jy bereid is om te aanvaar dat jou maat altyd tekortkominge gaan hê, is dit ’n stap in die regte rigting.
- Is jou maat geskik en bereid om God se instrument te wees op jou heelmaakpad?
Dis goed en wel as jou maat oulik en aantreklik is, maar is hy ’n man van God wat bereid is om sy plek langs jou in te neem op jou reis? Kan jou maat leiding neem en reguit met jou praat sonder om jou seer te maak? - Is jy gereed en bereid om ’n instrument te wees op jou maat se heelmaakpad?
Jy verwag baie van jou maat, maar kan hy dieselfde van jou verwag? Is jy bereid om die pad saam met hom te stap? Dit is baie maklik om te verwag, maar in ’n huwelik moet jy ook géé. Die gesegde dat ’n huwelik 100/100 is, is waar. As elkeen net 50% insit, sal julle altyd halwe mense bly in ’n halwe en onvervulde huwelik.
Doen dus selfondersoek. Doen moeite om te verdiep wat jou geestelike lewe aanbetref. Hoewel ’n mens altyd ’n gebroke mens met behoeftes sal wees, mag jy nooit druk op jou maat plaas om daardie gebrokenheid heel te maak nie. Só moet jy ook nie glo dat jy die een gaan wees wat jou maat s’n heelmaak nie. Aanvaar mekaar dus in jul onvolmaaktheid en begin jul huwelik op die regte voet . . .
Deur Monique Steenkamp