In die ou tyd, het vroue die villains gevrees – en dit is nou wanneer die held op die perd die dorpie in gejaag en die einste bad guys verslaan het. Vandag kan jy vroulief wys jy is haar redder deur die goggas wat sy so vrees, te verdryf.

Promosie

Dis noodsaaklik vir jou ego om gereeld ’n spinnekop of ander creepy crawly se lewe te neem. En vir jou vrou om te weet haar man sal haar teen gevaar beskerm, net soos in die “goeie ou dae” toe ridders hul girlfriends uit drake se kloue moes red. Maar moderne mans gryp nie na ’n vlieëplak of insekgif nie.

Hiert! Jou langbeenspinnekop…
’n Langbeenspinnekop is die algemeenste huisgogga en een van die onskadelikstes, maar hulle maak vroue moedeloos omdat hulle webbe die huis ontsier. Gebruik ’n verestoffer om ’n langbeenspinnekop met web en al uit sy blyplek te lig en in die tuin af te skud. Indien hy die volgende dag wéér in sy hoekie sit (hulle bly eerder binnenshuis as buite) …verwys terug na laasgenoemde instruksie en herhaal soveel keer as nodig.

O my aarde, hier is kakkerlakke!
’n Kakkerlak wat onder ’n yskas uitskarrel, is genoeg om enige vrou (en baie mans) soos ’n woedende skooljuffrou te laat gil. As daar ’n plaag in jou huis is, is ’n professionele pesverwyderaar ál raad, maar hulle behandel gewoonlik die rioolpype (waar kakkerlakke broei) met gif. Volg liewer ’n boereraat en gooi piesangskille in die kombuiskaste.

Promosie

O kriek! As die gejil jou mal maak…
’n Kriek se gejil kan jou deurnag wakker hou. Loods ’n omvattende jagtog (die hond en kinders kan help) tót jy die boggertjie opspoor. Gryp hom kaalhand en smyt hom (of haar?) met minagting deur die naaste venster (maar maak darem heimlik seker dat hy op sy voete beland…).

As irriterende muskiete jou vol rooi kolle laat!
Koop ’n pak muskietmatjies en die nodige toestelletjie by jou naaste supermark.

Die groot kanonne… sak- en knopiespinnekoppe
Knopiespinnekoppe bly gewoonlik buite (byvoorbeeld onder vullisblikdeksels), terwyl sakspinnekoppe binnenshuis (byvoorbeeld in die voue van gordyne) woon. Albei is uiters giftig. In dié geval gee ons nie om wat die groenes sê nie: Trap dood! Hulle het buitendien só goed by stedelike omgewings aangepas dat hulle allermins bedreig is.

As vlieë jou die josie in maak…
Ons gebruik nie vlieëgif nie, oukei? En sifdeure sal jou laat voel asof jy by Ouma op die plaas kuier. Al raad is om die langbeenspinnekoppe uit te te los, sodat hulle die vlieë in toom kan hou. Vlieë kan verder beperk word deur gereeld te bad en die asblik daagliks leeg te maak.

Luise op jou vrou se potplante
Bespuit met ’n oplossing van water en skottelgoedseep.

Houtkewers in die deurkosyne
Maak dit iemand anders se probleem: Koop ’n ander huis.

Artikel deur JB ROUX