Ai, jy het die INTIEM-libidokursus se vorige artikels gelees, en steeds is daar ’n droogte wat die Sahara-woestyn aanloklik laat lyk. In die vorige twee artikels het ons gekyk na die libido-busters in jou kop en jou lyf, maar nee, daar lyk alles 100% reg. Wat jou laat wonder waar die probleem kan lê? Watter boelie knou jou libido af sodat jy net nie lus is vir manlief en sy jeukerige lyf nie…

Promosie

Alles in jou kop voel reg. Jy het nog nie joune verloor nie (ongeag jou tienerdogter se nukke en grille) en jy dink nog dikwels aan onreine gedagtes – die enigste probleem is dat hulle gedagtes bly. Jy het die wyn vir die pyn verminder, die pille vir die grille is net vir noodgevalle en jy trap daardie treadmill dat hy hoes! Maar steeds, wanneer manlief saans na jou draai met ’n knuppel in jou rug, is al wat jy onsensitief uitkry: “Vanaand is selfhelp, liefie. Ek wil bietjie lees.” Geen wonder jou grotman is knorrig nie en die hele huisgesin loop op eiers nie… waar kan die probleem lê?

“In die meeste verhoudings neem seksuele verkeer algaande af, namate die lewenseise wat aan getroudes gestel word toeneem,” skryf Elmari Craig en Hennie Stander in hul boek A-Z van Seks. “Maar solank die kwaliteit van die liefdespel goed is, is die kwantiteit nie so belangrik nie. Daar moet onderskei word tussen ’n verskil in libido en ’n algehele gebrek aan seksuele begeerte.” Laasgenoemde moet gewoonlik met behandeling reggestel word.

Wanneer jou hormone mal raak…

Promosie

Veranderinge in hormoonvlakke kan jou seksdrang dramaties beïnvloed. Gedurende ’n vrou se grootste fisieke en emosionele veranderinge – perimenopouse, postpartum en menopouse – kan ons reproduktiewe hormone ongebalanseerd raak, skryf Marcie Holmes en Dixie Mills op womantowoman.com. Dit is gewoonlik wanneer vroue ’n lae seksdrang, moegheid, slapeloosheid, warm gloede, buiwisselings, gewigstoename en spysverteringsprobleme ontwikkel. Dit is alles simptome van hormone wat fluktueer. Jou liggaam voel vir jou soos dié van ’n alien! Natuurlik beïnvloed dit jou seksdrang, want as jy nie lekker voel nie, kan jou belangstelling in seks ook daal. Jy heroorweeg dalk ook hierdie “nuwe jy”, en besin oor jou lewe en jou toekoms. Dis ’n tyd van veranderinge en moontlik neem jy jou huwelik in oënskou – wat ’n positiewe uitwerking of ’n negatiewe uitwerking op jou verhouding kan hê.

Wanneer ’n mens kyk na die fisieke oorsake van ’n lae libido, is dit duidelik dat die meeste daarvan onder die sambreel van ’n hormonale wanbalans staan. ’n Lae libido gaan saam met simptome soos slapeloosheid, moegheid, nagsweet, vaginale droogheid en so meer. Dit laat vroue maklik “oud” voel, asof hulle hul vroulikheid verloor… gevolglik voel jy nie baie sexy nie.

In ’n stadium van hul lewens ervaar ongeveer 50% van vroue verdunning, verstywing, droogheid en atrofie (verminderde spiermassa) in die vulva en vagina. Hierdie veranderinge kan irritasie, seerheid, ’n gejeuk en erge pyn gedurende seks veroorsaak. Soos wat jou estrogeenvlakke verlaag, kan dit jou lewe baie benadeel en vroue voel dikwels só gefrustreerd deur urogenitale veroudering dat hulle nie eers daaroor wil praat nie, wat nog te sê van seks hê!

Testosteroon is noodsaaklik vir ’n goeie seksdrang, want dit beïnvloed die hele sekssiklus (belangstelling, opwekking, seksuele reaksie, smering en orgasme). Dit is normaal vir estrogeenvlakke om vinnig te daal tydens menopouse, terwyl testosteroon stadiger afneem. Dit beteken dat vroue redelik “testosteroon-dominant” is ná hul menopouse, terwyl mans in die teenoorgestelde rigting beweeg. Maar om verskeie redes het vroue nie “normale” sirkulerende testosteroonvlakke nie. Een van dié redes is spanning. Wanneer ons onder spanning is, word progesteroon omgeswaai in streshormone, eerder as sekshormone. En mettertyd het dit laer testosteroonvlakke en ’n laer libido tot gevolg…

Testosteroonvervaardiging by vroue is ’n multi-stap proses wat plaasvind in beide die eierstokke en adrenale kliere. Wanneer ovarium-vervaardigde hormone in perimenopouse en menopouse afneem, kan die adrenale ’n groter sekshormoon-produksie opneem – as die adrenale reserwes sterk bly. Maar as ’n vrou baie spanning beleef het deur die jare, kan haar adrenale reserwes moontlik uitgeput wees. Sommige vroue se testosteroonproduksie bly goed gedurende perimenopouse en menopouse, met min klagtes. Hulle kan selfs beter adrenale funksionering en gesonder metabolismes hê as gevolg van goeie eetgewoontes en ’n minder stresvolle leefstyl. By ander vroue, soos die talle wat elke jaar ’n histerektomie ondergaan, kan die testosteroonvlakke baie laag of skaars opmerklik wees.

Bykans een in vier vroue stap menopouse binne as gevolg van ’n operasie of mediese behandeling wat veroorsaak het dat haar eierstokke hul normale funksionering verloor het. Sommige vroue gaan op voorskrif-testosteroon in die hoop om ’n skielike verbetering in hul seksdrang en seksuele reaksie te ervaar, maar testosteroon behoort slegs voorgeskryf te word na versigtige evaluasie.

Jou sekslewe hóéf nie slegter te wees ná menopouse nie, want jy het meer oefening en vertroue in jou seksuele vermoëns, jy kan die voortou neem en jou maat wys en vertel wat jy wil hê, jou sin vir humor oor seks en oor die lewe is goed gevorm en seks laat jou meer aantreklik voel. Moenie glo dat, na al die jare, daar ’n toorpilletjie is wat jou seksdrang kan verbeter nie. Gewoonlik is die oorsake in elk geval so intrinsiek verweef soos ’n spinnerak, met verskeie emosionele verbindings en verhoudingskwessies.

Moet ook nie die uitwerking van spanning op jou libido onderskat nie. Die liggaam interpreteer aanhoudende spanning as lewensbedreigend, en daarom word oorlewing bó plesier gestel. Spanning oorlaai die adrenale kliere en “steel” die substances wat gewoonlik estrogeen en testosteroon maak – beide is noodsaaklik vir begeerte en seksuele reaksie. As jy baie spanning ervaar, plaas dit jou in ’n hoë risikogebied vir ’n adrenale wanbalans. As jy heeltyd gespanne is, gaan jy allermins lus voel vir seks. Dit is dus tyd om toestande wat spanning in jou lewe veroorsaak in oënskou te neem. Spanning kan oral skuil – in jou werkplek, verhoudings, emosionele probleme wat onopgelos is, mediese probleme en dies meer. Identifiseer jou bronne van spanning en neem aksie om hulle op te los.

Onthou ook dat jou libido beïnvloed word deur eetgewoontes, want voedingstekorte plaas spanning op jou interne stelsel en skep dus broeigrond vir ’n hormonale wanbalans. Baie vroue wat gereeld op ’n dieet is, is onbewus van die feit dat dit ’n dramatiese uitwerking op jou fisieke gesondheid, energievlakke en selfbeeld kan hê. Dit kan alles sleg laat voel en jou sekslewe dreineer. Veral laevet diëte kan probleme inhou omdat jou lyf daardie lipiede en cholesterol nodig het om hormone te maak (ook testosteroon, wat jy nodig het vir seksuele reaksie).Dis baie belangrik om te onthou dat, hoewel jou seksuele begeerte bietjie kan afneem gedurende sekere tye van jou lewe, dit definitief gaan terugkom. En dat jy nie intussen by jou lot hoef te berus nie. Jou seksualiteit is nie iets wat konstant is nie en dit verander dwarsdeur jou lewe. Gelukkig strewe vroue nie meer soveel daarna om hul jeug te behou nie omdat hulle besef dat ouer word ook soveel voordele inhou. Ouer vroue se seksuele identiteit ontwikkel en sodra ’n mens agterkom hoeveel makliker dit is om te wees wie jy regtig is op elke ouderdom, hoe meer geleenthede vir pret en plesier bied die lewe jou. As jy jou fisieke veranderinge verstaan, kan jy ’n sekslewe skep wat jou nou beter as ooit pas.

Nog ’n lewensfase waartydens jou hormone jou sekslus kan belemmer, is die broeifase (wanneer jy kuikens kry!). Daar is hormoonveranderinge in jou liggaam gedurende swangerskap, kort ná jy ’n baba gekry het en gedurende borsvoeding. Natuurlik is dit nie net hormone wat jou gedurende hierdie tyd meer moeder as tierkat maak nie, maar ook moegheid, liggaamsveranderinge en die druk om ’n baba te hê en te versorg. Ja, kindergeboorte maak amok met jou libido! Na swangerskap is jou lyf ’n warboel van hormone wat help om die uterus te laat krimp, melkproduksie te bevorder en oorvloedige haargroei gedurende swangerskap te laat afskud… boonop slaap jy min, jou hare val uit en jou rug is seer. Miskien maak dit sin om jou lyf ’n blaaskans te gee en nie terug in die bed te boender nie (tensy dit is vir slááp!).

’n Australiese studie het bevind dat minder as 20% vroue vier weke na kindergeboorte reeds seksueel aktief is. Gedurende die eerste vier tot ses weke is vroue moeg, emosioneel en ervaar hulle pyn. Omdat jou estrogeen- en progesteroonvlakke daal en jou vagina minder natuurlike smeermiddel vervaardig, voel baie vroue minder sexy en ervaar hulle pyn. Vroue wat borsvoed se hormone word beïnvloed vir solank hulle borsvoed, terwyl bottelvoeding-mammas se hormoonvlakke ongeveer 4-6 weke na die geboorte stabiliseer.

Maar selfs hierna ervaar vroue dikwels steeds ’n lae libido as gevolg van emosionele kwessies. Dit neem tyd om in die moederskaprol in te gly, baie vroue is selfbewus oor veranderinge in hul liggame en sommige ly selfs aan postnatale depressie.

Maak só die beste van mal hormone!

  1. Kry ’n paar vriendinne bymekaar wat deur dieselfde lewensfase as jy gaan en besoek ’n classy Die produkte sal jou dalk amuseer en moontlik giggel julle net, maar wie weet, dalk interesseer een van die produkte jou!
  2. Trek ’n paar boeke nader. Waarskynlik is dié lewensfase vir jou rustiger en het jy dalk meer tyd op hande met dié dat die kinders uit die huis is. Wat van ’n oulike boek oor seks of selfs erotiese leesstof?
  3. Wanneer julle wel seks het, probeer ’n nuwe tegniek/seksposisie saam met manlief. Iets wat miskien buite jou gemaksone val, maar jou steeds veilig laat voel.
  4. As jy vaginale ongemak ervaar, spreek jou dokter. Daar is verskeie vorms van behandeling vir vaginale droogheid, so jy hoef nie te sukkel nie.
  5. Volgens Marcie en Dixie moet jy die hormoonbalans in jou liggaam herstel met behulp van mediese sorg, waarna daar ’n reeks kleiner dinge is wat jy kan doen om jou libido ook ’n hupstoot te gee, soos om reg te eet en te oefen.
  6. Maak ou emosionele wonde gesond en wees bewus van die feit dat spanning ’n lae libido kan vererger.
  7. Verstaan dat jou selfbeeld en seksuele identiteit dwarsdeur jou lewe verander. Laat jouself toe om die vrou te wees wat jy waarlik is.
  8. Soms word die simptome van vaginale droogheid (indien matig) verbeter met vitamiene E vaginale setpille – gesels met jou dokter of ginekoloog daaroor.
  9. Nog ’n opsie is om soja by jou dieet te voeg, wat phyto-estrogeen bevat, ’n hormoon wat dieselfde uitwerking op jou weefsel het as kollageen in jou lippe en wat bydra tot vaginale vogtigheid.
  10. Jy kan ook gewone oor-die-toonbank vaginale smeermiddels gebruik en genoeg water daagliks drink om die mukus-membrane vogtig te hou.
  11. Vir ’n langdurige uitwerking moet jy egter die oorsake aanspreek. Sommige vroue het ’n paar leefstyl-aanpassings nodig, soos dieetveranderinge, voedingsaanvullings en geteikende endokrien-ondersteuning, maar daar is ook vroue wat net minder estrogeen het. As die simptome voortduur, is daar baie topikale estrogeenprodukte vir aanwending beskikbaar. Jy sal egter ’n voorskrif nodig hê. As joune nie werk nie, moenie skaam wees om vir iets anders te vra nie.
  12. Op ’n emosionele vlak: Moenie ander mense se probleme joune maak nie, vul jou emosionele tenk en koester jou spirituele self.
  13. Verander jou roetine en ondersoek ’n nuwe vorm van kreatiewe self-uitdrukking (soos nuwe seksposisies!).
  14. Onthou dat, na kindergeboorte, jou vagina moontlik nie soveel natuurlike smeermiddel vervaardig soos vroeër nie. Gebruik gerus ’n smeermiddel met ’n waterbasis.
  15. Moet jouself nie onder druk plaas vir die ses weke-merk nie. As jy voel dat jou lyf en gees nog nie reg is vir seks nie, gee dit nog ’n rukkie.
  16. Wees intiem deur mekaar slegs te soen en te druk of na aan mekaar te wees en só sal jy stelselmatig meer opgewek raak.
  17. Eksperimenteer met verskillende seksposisies. Miskien kan julle met die woman on top-posisie begin, waar jy die intensiteit van penetrasie kan beheer. Hou dit gemaklik en stop as dit nie meer lekker is nie.
  18. Wanneer julle weer seks probeer hê en dit nie uitwerk nie, om die een of ander hormonale rede, moenie toelaat dat dit ’n demper op jul sekslewe plaas nie. Probeer weer en weer tot dit vir julle albei weer ’n aangename ervaring is!

As enige van bogenoemde op jou van toepassing is, onthou die een item wat elke paartjie in hul bedkassie-laai behoort te hê: Smeermiddel! Dit is te kry in verskillende kleure en geure en kan pynlike seks in ’n japtrap in plesierige seks omskakel.

 

Addisionele bronne: www.thehappybabyclinic.co.za, www.virtualmedicalcentre.com.