Lae libido is een van die mees algemene klagtes by vroue en INTIEM kry gereeld lesersbriewe van vroue wat kla dat hulle nie kans sien vir kooikaskenades nie! Ongelukkig lê die antwoord nie bloot in ’n pilletjie nie en is daar verskeie oorsake hiervoor. Volg INTIEM se libido-artikelreeks en wie weet? Dalk kan manlief binnekort nie meer byhou nie!
Jy lees ’n stoute boek en bloos van kop tot tone. Later gaan jy winkels toe en koop ’n ragfyn driehoekie wat die winkel as ’n panty klassifiseer en waarvoor jy ’n sesmantent se prys betaal. Jy gaan lê vir ’n martelende wakssessie en net voor slaaptyd gaan lê jy in ’n badkamer wat stoom soos ’n sauna! En daarna is jy gereed vir… slaap. Manlief lê en wag op die nuwe satynlakens, hoopvol en energiek soos ’n kind op Ritalin, en al wat kort is jy – en jou lus. Wat gaan aan? Die kiddies kuier by maats, die atmosfeer is perfek, maar jy voel so koud soos die goudvis in jou gynie se spreekkamer…
Sommige geneeshere noem dit female sexual arousal disorder. In manlief se oë kon hulle dit die Titanic-disorder noem, want sy teleurstelling is reusagtig en sink met ’n spoed. Honderdduisende vroue sukkel met ’n lae libido en sommige kenners glo dat byna die helfte van alle vroue in ’n stadium van hul getroude lewe ’n lae seksdrang ervaar. Die meeste van hierdie Evas het geen probleem met die groot “O” nie en die tekort aan libido is slegs tydelik. Onthou dat ’n mens se libido nie konstant is nie, maar eerder soos ’n see met deinings, hooggetye en laaggetye.
Ten spyte hiervan behoort jou libido nie ’n probleem te wees nie. Sommige vroue s’n kan aangehelp word deur ’n paar leefstylaanpassings te maak, sommige mense se probleem sal deur ’n mediese kenner aangespreek moet word en ander sal ’n multidissiplinêre roete moet volg. In INTIEM se libidoreeks spreek ons die “sagte” kwessies aan. Hou egter in gedagte dat jou probleem dieper kan lê en dat geen wenke in die wêreld dán vir jou ’n oplossing kan bied nie. As jy vermoed jou probleem lê dieper, gesels met jou dokter of ginekoloog.
Ginekoloog Marcelle Pick glo dat die media onrealistiese verwagtinge oor seks by ons skep. Dit is nié normaal om ure lank lui seks te hê nie. “Die meeste pasiënte wat na my toe kom met libidokwessies – en in my meer as 30 jaar in die praktyk, het ek die hoeveelheid stelselmatig sien groei – is vroue tussen die ouderdom van 30 en 60. En in die algemeen is hulle eenvoudig té uitgemergel deur die lewe se laste om te dink oor, wat nog te sê voel vir, hul seksuele en sensuele begeertes. Die meeste van my jonger pasiënte is daar omdat hulle wil weet hoe om hul libido’s terug te kry, maar ek is verstom oor die hoeveelheid vyftigjariges wat in my spreekkamer instap en sê dat hulle nie enige seksuele aktiwiteit vir die afgelope vier jaar beoefen het nie – en hulle is okay daarmee!”
So hoe weet jy of jou libido ’n probleem is? Die Obstetrics and Gynecology Journal het berig dat in 2008, in ’n studie onder 31 581 vroue regoor die VSA, 44% deelnemers seksuele probleme gerapporteer het (waarvan die mees algemene ’n lae seksdrang was). Van hierdie 44% het slegs 12% egter gesê dat hulle daardeur gepla is. So wat is “normaal” en wanneer is behandeling nodig? Medici glo oor die algemeen dat só ’n probleem ongelukkigheid moet veroorsaak voor dit as ’n behandelbare siekte beskou kan word.
So 12% klink dalk laag, maar Irwin Goldstein, redakteur van The Journal of Sexual Medicine en direkteur van die San Diego Sexual Medicine Centre, meen dat 12% in hierdie studie miljoene vroue van regoor die wêreld verteenwoordig en as die toestand geëtiketteer was met ’n ander woord as “seksueel” heelwat meer fondse beskikbaar gestel sou word vir navorsing en behandeling.
Marcelle meen egter dit is ’n jammerte dat soveel vroue hul lae seksdrang gelate aanvaar omdat ’n gesonde libido gaan oor veel meer as blote seks. “Ja, libido gaan oor seksuele begeerte, maar dit gaan ook oor ’n lewenskragtigheid en energie wat krities is vir jou oorkoepelende gesondheid en welstand – of jy nou 35, 55 of 75 is. ’n Gesonde libido het groot implikasies op jou, beide op ’n fisieke vlak (dit help om bloeddruk te verlaag, ondersteun ’n gesonder immuunstelsel, verhoog dopamienvlakke en so meer) en op ’n emosionele vlak.” Hier, sê sy, gee dit ’n mens kalmte sowel as spark en dit bevorder intimiteit in jou verhouding. Lees dus voort…
Libido-busters in jou lyf (tiek waaraan jy aandag kan gee)
Die rooi karretjie…
Ons Evas sit nou maar een keer met “daardie tyd van die maand” en dalk verwelkom jy die verskonings – PMS, opgeblasenheid vooraf en die morsigheid gedurende – om die daad te vermy! Het jy egter geweet dat dit juis jou maandstonde is wat ’n lae libido kan veroorsaak? ’n Ystertekort is ’n algemene oorsaak vir lae libido aangesien dit ’n mate van bloedarmoede gedurende jou maandstonde veroorsaak.
PLAN VAN AKSIE: As jy vermoed jy ly aan ’n ystertekort, gaan spreek jou dokter. Hy kan vir jou ’n ysteraanvulling voorskryf en dit kan ’n verskil aan jou libido maak!
Die soete voggies…
Ja, dit help inderdaad om ’n bietjie van die inhibisies saam met die itsy-bitsy stukkies oor die stoel se rugleuning te gooi, en ’n glas of twee van daardie lekker wyn kan jou dalk amoreus laat voel, maar té veel van ’n goeie ding is nooit goed nie. Alkoholisme en dwelmmisbruik kan jou sekslewe ernstig afbreek. Maar selfs al drink jy net ’n klein bietjie wyn… kan dit help om jou lyf ’n blaaskans te gee.
PLAN VAN AKSIE: Los vir ’n hele week lank die wyn op die wynrak en kyk wat gebeur!
Die pille vir die grille…
Jou libido-probleem is dalk die grootte van ’n Smartie. Daar is verskeie voorskrifmiddels wat jou libido kan afknou! Veral antidepressante en middels wat voorgeskryf word vir epileptiese en ander aanvalle. Die afgelope tien jaar het navorsers boonop vasgestel dat hormonale voorbehoedmiddels (insluitende die Pil en die plakker) kan beïnvloed hoe vroue oor seksuele stimulasie dink en voel. ’n Aanlyn ondersoek deur Women’s Health het boonop bevind dat 36% deelnemers glo dat die Pil hul seksdrang in die wiele ry.
PLAN VAN AKSIE: Maak ’n afspraak by jou dokter en gynie, wees openlik oor jou probleem en bespreek moontlike alternatiewe medikasie.
Die nikotien-kwessie…
Jy lees dit in elke gesondheidstydskrif, hoor dit in geselskappe en jou dokter preek vir jou, maar ’n feit is ’n feit. Rook het ’n aaklige uitwerking op die bloedvloei na jou seksorgane omdat dit die are laat vernou. Dit steel jou stamina en die meeste mense hou nie van die asbakkie-smaak in jou mond nie…
PLAN VAN AKSIE: As dit vir jou só moeilik is om jou rokery te staak, probeer die hoeveelheid sigarette wat jy daagliks rook, halveer en kyk of dit ’n verskil maak aan jou libido (en jou maat s’n as jy die asbakkie-smaak dilemma in ag neem!).
Die mantra van gesondheid-“freaks”!
Jy weet jy moet oefen maar… ugh! Die waarheid is egter dat oefening ’n dramatiese uitwerking op jou sekslus kan hê. Jy hoef nie ’n marathon-drawwer te word nie, maar matige oefening sal jou help om bloedvloei na die seksorgane te verbeter. Boonop laat oefening jou goed voel oor jouself. En enigiets wat jou selfbeeld verbeter, verhoog jou libido.
PLAN VAN AKSIE: Sit 20 minute per dag opsy vir oefening (selfs ’n bietjie maak ’n verskil). As jy oefen, gaan jy boonop gewig verloor, wat jou bloedvate gesond hou en noodsaaklike bloedvloei na die genitalieë bewerkstellig.
Die “bietjie af” gevoel… Ernstige siektes soos diabetes, artritis, kanker, hoë bloeddruk, hartsiektes en breinsiektes kan ook ’n negatiewe uitwerking op jou libido hê. As iets nie lekker voel nie…
PLAN VAN AKSIE: Maak ’n afspraak by daardie omie met sy wit jas en stetoskoop! Hy sal jou stuur vir die nodige toetse. Wees voorbereid daarop dat jou dokter jou gaan uitvra oor jou sekslewe as deel van die ondersoek. Wees eerlik oor jou bekommernisse en as dok jou nie uitvra nie, wees voor op die wa en vertel hom!
Voor jy dokter toe gaan…
Kyk vir ’n slag mooi na jul slaapkamersake. Neem notas! Maak ’n lys van al die mediese inligting wat jou dokter mag nodig kry, insluitende toestande waarvoor jy tans behandel word, die name van aanvullings en medikasie wat jy gebruik. Dink wat jy jou dokter wil vra en skryf dit neer. Neem ook ’n notaboekie en pen saam spreekkamer toe. Hier is ’n paar vrae waarmee jy gewapen moet wees:
- Wat kan die oorsaak van my probleem wees?
- Sal my seksdrang ooit weer terugkeer na wat dit was?
- Watter leefstylveranderinge kan ek maak?
- Watter behandeling is beskikbaar?
- Watter boeke kan jy aanbeveel dat ek lees?
Wees ook voorbereid op die volgende vrae wat jou dokter jou dalk kan vra:
- Het jou belangstelling in seks verander?
- Sukkel jy om seksueel opgewek te raak?
- Ervaar jy vaginale droogheid?
- Sukkel jy om ’n orgasme te kry?
- Ervaar jy pyn of ongemak gedurende seks?
- Tot watter mate beïnvloed dit jou?
- Hoe lank het jy reeds hierdie probleem?
- Is jy al ooit voorheen vir kanker behandel?
- Het jy enige ginekologiese operasies gehad?
- Watter medikasie of vitamien-aanvullings neem jy tans?
As jy eers daar is, mag die dokter/ginekoloog ’n pelviese ondersoek doen. Hier kan hy kyk vir enige tekens van fisieke veranderinge wat kan bydra tot ’n lae seksdrang, soos verdunde vaginale weefsel, vaginale droogheid of pynlike kolle. Hy kan dalk ook aanbeveel dat jy getoets word vir skildklierprobleme, diabetes, hoë cholesterol of lewersiektes. Die dokter mag jou dalk ook verwys na ’n gespesialiseerde berader of seksterapeut wat kan kyk na die emosionele en verhoudingsfaktore wat tot jou probleem kan bydra.
Begin solank deur na hierdie leefstylaspekte van jou te kyk en ’n afspraak te maak by jou dokter om enige fisieke oorsake uit te skakel. Volgende maand kyk ons na die libido-busters in jou hormone (en later vanjaar ook die libido-busters in jou kombuis, jou kop, jou hart en jou slaapkamer). Sterkte met dié eerste deel van jou reis na ’n jubelende libido!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: care2.com; netdoctor.co.uk; mayoclinic.com; health.howstuffworks.com; thesun.co.uk; self.com; care2.com