… met allerlei kostuums. By tye is sy ’n diva en ander kere ’n kabaretkunstenaar. Soms is sy ’n Aretha Franklin en ander kere ’n Gwen Stefani. Soms dra sy ’n Jean-Paul Gaultier korset en sing Like a Virgin. Ander kere sing honderde vroue regoor die wêreld saam met haar: Girls just wanna have fun!
Hoe dit ook al sy, as jy gedink het seks verskyn altyd in dieselfde uitrusting, maak jy ’n fout! Waar kousbande miskien Maandag vir manlief die ding doen, verkies hy dalk Donderdagaand die Wham-Bam variëteit. Waar jy Woensdagoggend ’n behoefte het om na aan jou maat te voel, wil jy Sondag dalk net ontspanne, luilekker liefde hê. Seks is opwindend. Dit kan egter ’n dilemma inhou as jy en jou maat nie dieselfde voel oor watter tipe opwinding julle op ’n gegewe oomblik verkies nie.
Byvoorbeeld: Dit is Saterdagaand aftree-tyd. Na ’n hele oggend se Barney-groepsang, ’n blitsrit na die hospitaal omdat Woelwater nommer een uit die boomhuis getuimel het, en stilte uit jou protesterende tiener se dawerende kamer, het jy kalmte. Die kinders slaap uit. Jy kry kans om jou oë te vestig op die baie stoute boek wat jy onlangs gekoop het – die een met die seks-idee wat jy graag vanaand wil probeer, wat die stort, stoom teen die deur en drie orgasmes behels.
Aan die ander kant van die munt, is manlief daar. Ná ’n gesonde buitelugsessie van boogskiet, ’n bier saam met sy beste vriend en ’n middag se rugby by die bure, is hy salig onbewus van die dag se skommelinge en is hy in ’n onoortreflike goeie en ontspanne luim. Vanaand gaan hy jou bederf, besluit hy, en tap ’n bad met aromaterapie-olie. Hy kies Norah Jones se nuutste album vir die CD-speler, strek hom op die bed uit en fluister met ’n knip-oog vir jou: “The night is but a puppy…”
Oeps, kop-aan-kop-botsing, dink jy. Want wat jy in gedagte gehad het, is meer in die lyn van een minuut se voorspel en een minuut se naspel, met ’n paar sekondes tussenin.
á La Romantica…
Julle is alleen by die huis, die telefoon is van die mikkie af en jy het sy hemp oor die muurhorlosie se gesig gegooi. Romantiese seks is tipies nié die soort wat jy geniet op ’n Sondagmiddag terwyl die kinders slaap nie, maar eerder die tipe wat jy bêre vir daardie naweek in die houthuisie langs die water. Romantiese seks werk goed saam met lui klanke en ouwêreldse romantiek. Dit behels kerse en enigiets skitterblink (ʼn sexy aandrokkie of – as jy gelukkig is – ’n paar diamant-oorbelletjies!)
As hierdie seks verpersoonlik kon word, sou jy dit kon vergelyk met Barry White, wie se kenmerkende stem You’re the First, the Last, My Everything sing. Of met Marvin Gaye, met Let’s Get it On. As manlief in die bui is vir romantiese seks en jy is te lui daarvoor, gee oor. ’n Mens sê nie nee dankie hiervoor nie. So, laat sý hande die praatwerk doen, vergeet van tyd en los jou kwellinge oor werk by die kantoor. Jy moet reg ingestel wees vir hierdie seks en hy kan jou bui aanhelp met brandende kerse, twee glase Merlot en sy lyf onder jou oë en jou tong.
Proe hom – van sy kleintoontjie tot by sy skewe kroontjie. Hierdie tipe seks kan baie intiem wees, want julle kom werklik in voeling met mekaar. As jy moeg is vir jou gewone CD-versameling, skaf Ondine Darcyl se CD (wat ook so getiteld is) aan en luister na die snit Besame Mucho… baie sexy.
Willeding-seks
Dié tipe seks laat romantiese seks na tydmors lyk. Tog kan jy Willeding-seks nie geniet as jy dit nie gereeld met romantiese seks afwissel nie. Om Willeding-seks te geniet, móét julle albei dieselfde voel. As dit vir jou lyk of manlief se kop elders ronddwaal, kan jy dit vinnig verander deur by vriende se partytjie in sy oor te fluister dat jy nie onderklere dra nie.
As julle Baby Boomers is, sal ’n liedjie soos The Troggs se Wild Thing in die agtergrond julle beslis ’n bietjie meer sexy laat voel. Met hierdie tye is uitgerekte voorspel egter ’n absolute marteling. Ook om te wag dat die partytjie eindig, sodat julle eindelik mekaar se klere kan uittrek. Dit is juis die rede waarom Willeding-seks dikwels nie die huis haal nie, maar sommer in die kar, in vriende se besemkas of op die voorstoep afspeel! As daar toevallig iewers ’n radio speel (want julle gaan beslis nie die geduld hê om eers ’n play-knoppie te druk nie), hoop maar dit is iets soos die Rolling Stones se Start me Up of Amanda Strydom se liedjie Stoom.
Gedurende Willeding-seks verteer julle mekaar, asof dit die eerste keer is ooit wat julle mekaar sonder klere sien en die laaste keer wat julle ooit seks sal hê! Gewoonlik bly die helfte van die klere sommer aan jou lyf, want daar is nie tyd om jou bra uit te trek nie en sy denim bly op sy enkels sit. Hy gryp jou aan die haarwortels (ás jy daarvan hou) en druk jou vas teen die muur!
Verleidelike seks
Pasgetroudes is gewoonlik diegene wat verleidelike seks vervolmaak. Mans wat hul vroue met hierdie tipe seks bederf, weet dat vroue (die meeste van die tyd) lank en innig geliefkoos wil word. As jy nie regtig in die bui is vir verleidelike seks nie, kan dit nogal ’n komiese situasie wees wanneer manlief diep in jou oë kyk, sensuele woorde in jou ore fluister (wat dikwels nie sin maak nie, omdat hy die kat aan die stert beet het), liggies aan jou hande oor die etenstafel raak (só nie sy styl nie) en vir jou vertel dat daar waarheid in jou oë opgesluit lê (iets wat hy een keer in ’n fliek gehoor het – wat jy sáám met hom gaan kyk het!). Hy maak die deur vir jou oop en dra jou kamer toe. Alles met die hoop om soveel seksuele energie tussen julle te skep, dat jy sal sukkel om hom te weerstaan. Dit is wanneer hy hom voordoen as die stil, sterk tipe en jou wil wys of jou daaraan wil herinner dat hy werklik ’n goeie minnaar kan wees.
As jy wel op dieselfde golflengte as hy is, werk verleidelike seks soos ’n bom. En as jy eerlik is met jouself – enige vrou is ’n sucker vir ’n ridder op ’n wit perd! As hy werklik weet wat hy doen, sal hy Eric Clapton se Wonderful Tonight of Wanna Make Love to You in die agtergrond speel. Wanneer die rolle omgekeer is en jý die een is wat die verleiwerk doen, gaan jy dalk anders te werk. Soos om jou handdoek gemaak-per-ongeluk te laat val, jou kamisool se bandjie liggies van jou skouer te laat afgly of laag af te buk om jou nagroom uit die badkamerkassie se onderste rak te haal (asof jy ooit régtig so ’n essensiële item so ver sou bêre). En wanneer jy besluit om te dans, is Pour Some Sugar on Me van Def Leppard ’n keuse waarmee jy nie ’n fout kan maak nie!
Smeulende-na-vlamvat-seks
Vir hierdie tipe seks, moet julle dieselfde persoonlikhede en styl van konflikhantering hê, anders gaan dit beslis nie werk nie. Dit is soortgelyk aan Willeding-seks, maar waar hormone by Willeding-seks die reëls maak, gee brandende, rou emosie dikwels aanleiding tot Smeulende-na-vlamvat-seks. Dit is wanneer hy vir ’n week lank weg was op ’n sakereis en julle albei verteer is deur die verlange. Of wanneer julle al die hele week lank hittig argumenteer en die adrenalien en passie julle eindelik die stryd gewonne laat gee om al daardie energie in seks te kanaliseer.
Mense wat deur ʼn emosionele ervaring is, vind ook dikwels vertroosting in hierdie seks. Jy móés dit al in Hollywood-blockbusters sien afspeel het – die paartjie baklei, skreeu op mekaar en sy begin om hom met sy ma se antieke porseleinvase te gooi. Hy kom nader, gryp albei haar hande vas en hulle begin mekaar hartstogtelik soen! Of die ander scenario (wat ongelukkig dikwels afspeel tussen mense wat met ánder maats getroud is): Die vrou is ’n emosionele wrak. Sy huil en bieg teenoor haar beste (manlike) ‘maat’ oor wat alles in haar lewe verkeerd is. Hy hou haar vas, tot sy in ’n stadium betraand opkyk en… ta-dá! Wie sou ooit kon raai dat rolprentmakers hierdie geykte resep so herhaaldelik geslaagd sou kon misbruik.
Blykbaar gebeur hierdie tipe situasies nie slegs op die silwerdoek nie. Maar INTIEM-dames, doen dit eerder met jou eie man! As julle besluit om julle woede of hartseer slim te benut, luister na Nina Simone met Sugar in die agtergrond. Of Mimi Kozlowski se Nueve tangos y un candome. Dit is tango-klanke, gesing deur ’n ware Brasiliaan. Hittig…
Tik-tok-seks
Enige paartjie wat hul hele verhouding deur gewoond was aan verleidelike of romantiese seks, maak gou-gou ná die koms van hul eerste kind kennis met quickie-seks. Tog word hierdie tipe seks nie noodwendig uit nood gebore nie en is dit dikwels ’n gerieflike en welkome afwisseling op uitgerekte sekssessies. Dit is daardie verrassend vervullende seks wat julle het wanneer julle weet julle het net ’n paar minute voor die tweeling wakker word. Of daardie seks wat Hollywood-sterre afjaag wanneer die hysbak se deure toegaan. Dit is wanneer jy seks het op plekke waar jy dit nie behoort te hê nie, soos in die burgermeester se tuin, die Aventura-oord se badkamer of, nou ja, die hospitaal se voorraadkamer.
In gewone mense se lewens neem Tik-tok-seks dikwels die vorm van etensuur-quickies aan. Moenie dat die woord etens-úúr jou bluf nie. Bitter min mense gun hulself deesdae die luukse van ’n 60-minuutlange breuk. Met Tik-tok-seks spring Jannie tipies in sy kar om twintig oor by die hospitaal te wees waar Sannie as verpleegsuster werk. Die paartjie loop beheers deur die gange op soek na ’n leë voorraadkamer en dan moet daar vinnig gespeel word omdat Sannie nie sleutels het vir die deur nie. Die feit dat hulle enige oomblik gevang kan word, dra by tot die opwinding. Dit gee die paartjie ongeveer tien minute om beide ’n orgasme te bereik voor Jannie moet terugjaag om 14:00 weer op kantoor te wees.
Quickie-seks hou enige verhouding aan die brand! Gewoonlik gee stilte of bygeluide noodgedwonge die agtergrondklanke vir Tik-tok-seks, maar as jy ’n keuse het en nie veel erg het aan liriek nie, is daar min liedjies waarvan die ritme jou bloeddruk so vinnig sal opjaag soos Like a Friend van Pulp.
Alles-behalwe-vanielje-seks
Dit is die seks wat jy geniet wanneer jy lus is vir afwisseling. Dit is veral geskik vir paartjies wat aan leënes-sindroom ly en mekaar se lywe al só goed ken dat hulle skielik nie meer weet wat om met al hierdie vrye vrytyd te maak nie. As jy lus is om Alles-behalwe-vanielje-seks ’n kans te gee, is jou opsies onbeperk. Daar is allerlei alternatiewe maniere om seks opwindend te maak. Lekker musiek vir die agtergrond wanneer julle hierdie tipe seks probeer is The Beatles se I Want You of Patti LaBele se Lady Marmalade.
Probeer ook Hey There Delilah van die Plain White T’s. Alles-behalwe-vanielje-seks is wanneer manlief voorstel dat jy jou sy-serpe uit die kas haal, ander gebruike vir jou oogmasker voorstel of sjokoladeverf in die supermark-waentjie gooi! Dit is wanneer ’n baie preutse jy vir jou ’n French maid-uitrusting aanskaf en ’n verestowwer gebruik om sy liggaamsdele af te stof as jy voel hulle was ’n bietjie lanklaas in gebruik. Dit is wanneer jy, wat gewoonlik bloos by die aanhoor van die woord ‘seks’, jouself ’n klap op die boud gee of ’n ekstra bloes-knopie losmaak. Of dit is wanneer julle elke denkbare seks-hulpmiddel uit die ‘speelgoedkas’ haal en begin eksperimenteer. Wat een persoon se Alles-behalwe-vanielje-seks is, is ’n ander persoon se vanielje-roetine. Enigiets buiten jou normale seksroetine kwalifiseer vir hierdie tipe seks.
Onthou egter dat hierdie tipe seks ’n welkome afwisseling moet wees en nie die standaard in jul sekslewe nie. As julle elke keer iets buitengewoon nodig het om seks te geniet, moet julle ernstig na jul verhouding kyk. Alles-behalwe-vanilje seks is ook vir paartjies waarvan beide partye dieselfde voel en dit is onregverdig om van jou maat verwag om haar in heuning te hul as dit nie iets is waarmee sy gemaklik voel nie. Los ook maar eerder die sweep, jou man se kollega en die swingers klub vir mense wat nie omgee om hul huwelik op die spel te plaas nie. Daar is tientalle ander idees heeltemal binne perke en opwindend genoeg om jou soos ’n stout skoolkind te laat voel. As dit goed is vir julle en jul verhouding en albei is in vir die ding – laat waai!
Daar is verskeie redes waarom mense seks het. In ’n storieboek-storie sou dit áltyd wees om liefde aan mekaar te betoon, maar die mens is vleeslik. Soms broei seks in die hart en ander kere in ander liggaamsdele. Soms wil jy seks hê om jou begeerlik te laat voel en ander kere wil jy ontlaai. ’n Onlangse studie het bewys dat daar ongeveer 237 redes is waarom mense seks het. Dié studie, wat in die Augustus 2007-uitgawe van die Archives of Sexual Behaviour verskyn het, het getoon dat die mees gewilde rede aangetrokkenheid tot mekaar is. Ander redes sluit, onder meer, in: Fisieke plesier, die uitdrukking van liefde, die gevoel van begeerlikheid, die verdieping van ’n verhouding, die soeke na nuwe ervaringe, die viering van ’n spesiale geleentheid, die aangryp van ’n geleentheid wat om voordoen, om sosiale status te verhoog, om ’n hoofpyn te verbeter (ja, regtig!), of uit pligsgevoel. (Why people have sex: 237 Reasons, deur Miranda Hitti, www.webmd.com)
Om albei tegelykertyd in die bui vir seks te wees, is ’n uitdaging. Om dan nog op dieselfde golflengte te wees betreffende die sóórt seks wat jy wil hê en waarom jy dit wil hê. Jy is nie elke dag lus vir dieselfde tipe fliek nie. Om dag na dag dieselfde aan te trek, sou doodvervelig wees. So, moenie skuldig voel as jy nie altyd op dieselfde manier wil seks hê nie. As jy sjarme deel van jul liefdespel wil maak, vertel jou maat. As jy soms die adrenalien van ’n quickie verlang, probeer dit. En as iets wel nie vir jou reg voel nie, kyk na die rede waarom jy dit wil doen – as enige negatiewe emosies soos wraak of jaloesie betrokke is by die gee of weiering van seks, flikker die gevaarligte.
Seks is egter vol kleur en klank en die wêreld sou maar bra vaal gewees het as variëteit nie tot ons beskikking was nie. Soveel mense gaan soek afwisseling buite die huwelik terwyl die veiligheid en sekuriteit van ’n standvastige huwelik aan ’n getroude paartjie soveel méér moontlikhede bied. So, of jy steeds die romantiek van jou platespeler of die gerief van jou iPod geniet, draai daardie volume-knoppie, gryp jou maat vas en swaai jul heupe…
***
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!