Moenie die impak van leënessindroom onderskat nie. Dit is ’n moeilike tyd in julle albei se lewens, maar só kan julle die beste van ’n uitdagende situasie maak . . .
Ellen* sal nooit die dag vergeet toe haar jongste rabbedoe-woelige kind universiteit toe is nie. Ná hulle haar met ’n groot tranedal 300km ver by haar koshuis afgelaai het, het sy en John* huis toe gery. Hulle het radio geluister en elkeen was met sy en haar eie gedagtes besig.
Laatmiddag, toe hulle die huis binnestap, was die stilte oorweldigend. Ja, daar wás die dae toe hul meisiekind nié hierdie tyd by die huis sou wees nie, maar dié dag was die wete dat dit nou nét hulle twee is, te veel om te dra. Hulle het in die woonkamer gaan sit, uitgeput na die lang rit, en die stilte het in die lug gehang . . . hulle het absoluut niks gehad om vir mekaar te sê nie.
“Ek onthou hoe ek gewonder het: ‘Is dit hoe dit gaan wees tot die dag wat ons doodgaan? Ons kan nog 30, selfs 40 jaar lank, só leef?’ En die paniek het my oorval. Die stilte was net te veel om te dra, ek sou dit nooit kon doen nie.”
Waar dit ander pare weke of selfs maande vat om te besef dat hulle uitmekaar gegroei het en dat die kinders hul gom was, het dit Ellen daardie heel eerste dag reeds in die maag getref. Sy onthou hoe sy daardie aand wakker gelê en besluit het dat sy ’n plan sal moet maak, dat sy en John nou net op mekaar aangewese was en dat hulle mekaar van voor af sou moes herontdek vir hierdie huwelik om te oorleef.
’n Nuwe uitdaging
Wanneer jou kuikens wegvlieg, sal julle waarskynlik ’n routydperk beleef. Dit dui die einde van ’n tydperk aan en afgesien van die fisieke stilte wat hul afwesigheid laat, is daar ook die besef dat jy nou nie meer so nodig is in hul lewens soos jy eens was nie. Jy mis hulle, en jy mis jou rol in hul lewens.
In die ou dae was dit makliker. Grootouers en tantes het help kinders grootmaak en soms sommer onder dieselfde dak gebly. Maar die rol van uitgebreide familie by die grootmaak van kinders het al hoe kleiner geword en daarmee saam het die impak van die leë nes op paartjies al hoe groter geword.
Dit stel ook jou huwelik voor ’n uitdaging. Skielik is daar nie meer kinders om op te fokus of om die aandag af te lei van dit wat pla nie – julle is op mekaar aangewese. Miskien wonder julle of julle mekaar heeltemal ontgroei het. Wees egter gerus in die feit dat baie paartjies deur dieselfde emosies gaan en dat dit beslis moontlik is om mekaar te herontdek en van voor af te konnekteer.
Hoe gemaak?
- As julle, soos Ellen en John, jul kind moes gaan aflaai, gaan slaap vroeg en slaap genoeg. Dit is onmoontlik om ’n realistiese perspektief op sake te kry as ’n mens moeg is.
- Moenie op dag nommer twee al planne maak nie. Julle wil dalk jul aandag aflei van jul huidige scenario, maar gee julself genoeg tyd om eers te rou en wag met die beplanning en groot besluite tot die stof gaan lê het.
- Vier dit! Ja, dit is dalk nou nie lekker nie, maar dit is wat julle saam deurleef het: Die reis van kinders grootmaak. Die afskeid van die vorige fase is dalk pynlik, maar die aanbreek van die nuwe fase is iets om te vier.
- Herdefinieer jul huwelik. Wat is jul doelwitte? In watter rigting wil julle beweeg? Terwyl julle só lank die kinders in aanmerking geneem het, is dit nou tyd om te besin oor watter lewe julle vir julself wil hê.
- Claudia en David Arp, stigters van Marriage Alive, skryf op die webtuiste org dat ’n geslagsrol-skuif nou kan plaasvind. Manlief kan dalk meer versorgend raak, terwyl vroulief kies om ’n loopbaanskuif te maak. En hoewel dit lyk asof julle in verskillende rigtings beweeg, skuif julle op ’n kontinuum al nader aan mekaar.
- Maak die skuif vanaf ’n kinder-gesentreerde huwelik na ’n maat-gesentreerde huwelik. Julle kry ’n tweede kans en kan nou jul huwelik herbou en regmaak waar julle voorheen fouteer het. Onthou egter ook om mekaar nie te versmoor nie. Julle het ook alleentyd as individue nodig.
- Maar . . . pasop om julself nie te verdiep in jul lewens as individue nie. Wanneer beide partye werk, is dit maklik vir ’n paartjie om selfs meer tyd aan hul werk te bestee. Dis nooit ’n goeie idee om ’n leemte met werk of stokperdjies te probeer vul nie.
- Gesels met ander paartjies wat deur dieselfde scenario as julle gaan. Julle kan selfs ’n WhatsApp-groepie stig saam met ander leënes-vriende waar julle mekaar kan ondersteun in hierdie oorgangstydperk.
- Steek weer die passie aan! Dis ’n gulde geleentheid. Daar is nie kinders wat op tydige en ontydige tye die huis kan binnestap nie, só eksperimenteer – niks verhoed julle om seks op die kombuisblad te hê nie!
- Herroep jul gedeelde betekenis. Vra jou maat uit oor sy/haar gunsteling ete, fliek, musiek, kleur en boek. Soms raak die gedeelde betekenis weg met die grootmaak van kinders. Blaai terug na die lewe wat julle gehad het en gesels oor jul groei sedertdien.
- Hervat ’n aktiwiteit of stokperdjie waarvoor julle jare laas tyd gehad het. Het julle gehou van road trips op motorfietse voor die kinders gekom het? Oorweeg om dit weer te beproef. Besoek ook plekke wat vir julle romantiese betekenis inhou en waar julle lanklaas was.
Dit is heeltemal moontlik om jou maat opnuut te ontdek en sommer weer ’n vurige liefdesverhouding met jou “liefde van destyds” aan te knoop. Dis nie net ’n hartseer tyd nie, maar ook baie opwindend. Geniet hierdie nuwe tyd met al die moontlikhede wat dit bied.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.relate.org.uk, selfgrowth.com, foryourmarriage.org.
*Skuilname is gebruik