Tussen bedrywige dae by die werk en besige skedules met kinders is daar altyd die lafenis van jou man se warm, sterk arms om jou lyf aan die einde van die dag. Dan kom die onverwagte goeie – én slegte! – nuus: Manlief se werkgewer bied vir hom ’n bevordering aan . . . in ’n heel ander deel van die land!
Die realiteit van vandag se arbeidsmark beteken dat meer en meer huwelike die aanslag van afstand moet afweer. Globale sakebesoeke en internasionale kongresse is deesdae so alledaags soos asemhaal en paartjies wat mekaar net oor naweke sien, is glad nie meer die uitsondering nie.
Hoe gemaak as jou wederhelf gereeld moet reis of as jy aan die ander kant van die water werk? Sou jy sê “Uit die oog, uit die hart”? O nee, ons sal veel eerder sê “Distance makes the heart grow fonder”!
Hou só die lakens warm totdat jy en manlief weer saam onder die duvet kan rondrol:
- Verskerp jou erotiese woordeskat
Julle liggame spreek boekdele en nie-verbale kommunikasie speel ’n belangrike rol in die uitdrukking van julle liefde. Hoe dan gemaak as julle mekaar nie elke dag sien nie? Moderne tegnologie bied gelukkig ’n oplossing, maar om hierdie opsie ten beste te benut, gaan jy gemaklik moet wees om te práát. Doen moeite en leer die dialek van liefde aan! Eroties hoef natuurlik nie kru te wees nie en jy kan baie verrig deur suggestie en ’n paar sexy geluide.
- Gee vir hom ’n blikkie vol plesier
Koop ’n dekoratiewe blik of houer – wat verkieslik kan sluit – en pak dit propvol erotiese verrassings: Sjokolade body paint, kleurvolle kondome, ’n diskrete klein vibrator, ’n satyn G-string, ’n blinddoek, die klankbaan van Fifty Shades of Grey (jy kry die idee). Bel of Skype hom elke aand voor slaaptyd, sê hy moet die houer nader trek en één item kies . . . sodat hy jou in detail kan vertel wat hy daarmee gaan doen wanneer hy jou weer sien!
- Skryf ’n vervolgverhaal
Dit hoef glad nie topverkoper-gehalte te wees nie, solank dit net sexy is! Begin ’n erotiese storie waar jy en jou man die hoofkarakters is. Skets ’n wêreld vol fantasie waar verantwoordelikhede nie saakmaak nie en die kinders altyd by die skool is. Skryf elke dag ’n paragraaf of twee en epos die storie aan jou man, wat op sy beurt verder daaraan skryf. Lees dit dan hardop vir mekaar wanneer julle weer ’n bed kan deel. Laat die muse julle lei!
- Kyk ’n sensuele fliek “saam”
Kies ’n fliek wat die erotiese verbeelding stimuleer en reël ’n virtuele date night saam met manlief. Besluit op ’n spesifieke tyd en kyk die fliek “saam”. Stuur vir mekaar updates per SMS of WhatsApp oor jul gunsteling tonele en probeer bietjie role-play wat die fliek reflekteer wanneer julle mekaar weer sien.
- Maak die kilometers korter met ’n afstandbeheerder
Natuurlik kan niks jou man se hande op jou lyf vervang nie. Hy kan wél jou plesier in sy hande neem met ’n afstandbeheerder! Gaan doen ’n bietjie navorsing op die Internet vir meer inligting oor die nuwe-generasie vibrators, wat nie net diskreet en gemaklik is nie, maar ook met ’n afstandbeheerder via ’n app beheer kan word. As jy veral waaghalsig voel, trek jou skootrekenaar nader vir ’n virtuele liefdemaaksessie via Skype.
- Begin ’n bewonderingsboekie
Kies ’n oulike notaboekie en maak die titel “Al die redes hoekom ek verlief is op jou”. Noudat julle mekaar nie meer so gereeld sien nie, besef jy dikwels hoeveel moeite hy éintlik doen (wat jy soms nie meer raakgesien het nie). Of dit nou is om die asbliksakke uit te sit, die gras te sny, jou kar te laat diens of vir jou koffie in die bed te bring, skryf dit neer!
Bepunt nou elke takie of aksie met ’n sexy beloning, byvoorbeeld: (1) Ek is só verlief op jou omdat jy altyd seker maak die rekeninge is betaal. Beloning: 1 x blowjob. (2) Ek is só mal oor jou omdat jy altyd die kardeur vir my oopmaak. Beloning: 2 x vrysessies op die rusbank, en so meer. Wanneer die boekie vol is, oorhandig dit aan hom om te lees wanneer julle nie bymekaar is nie en werk dan een vir een deur die belonings wanneer julle weer in mekaar se arms is.
- ’n Foto skets ’n duisend woorde
Maak ’n draai by ’n eksklusiewe onderklerewinkel en skaf ’n sexy nommertjie aan – een waarin jy baie sensueel voel. Maak seker die lig val nét reg op jou lyf en neem ’n reeks aanloklike selfies. Die foto’s moet uitlokkend maar ook smaakvol wees sodat dit genoeg suggestie skep om sy verbeelding te prikkel. Glip dan die sexy nommertjie in sy tas voordat hy weer die pad vat, en bel hom later om te vra of daar dalk ’n stukkie van jou onderklere onder sy hemde beland het . . . jy stuur sommer gou-gou ’n paar foto’s sodat hy kan sien presies waarvan jy praat!
Deur Anja van den Berg