Jul kinders is boompies wat gesnoei moet word. Net soos julle aan hul persoonlikhede en karaktereienskappe snoei, só snoei julle ook aan hul toekomstige huwelike . . .

“Tel nou dadelik daardie trein op of die duiwel is los!” hoor jy jou vierjarige vir haar kleinboet sê. Sy is skaars ’n paar jaar oud, maar sy gaan staan met haar hande in haar sye met dieselfde kyk wat jy haar elke nou en dan gee. ’n Oomblik later draai sy om en mompel: “Whatever…” Dit is dieselfde oomblik wat jy inmekaarkrimp van skaamte met die besef dat jou kinders sponse is wat jou na-aap in wat jy sê en wat jy doen. Of jy dit nou wil erken of nie, iewers bly ’n groter stukkie van jou agter as wat jy dink.

Net so stel jy en manlief ’n voorbeeld van hoe ’n huwelik veronderstel is om te lyk. Gelukkig maak kinders nie net staat op ons voorbeelde nie en kan jy hulle ook wyshede leer, maar die impak daarvan is soveel groter as jy die daad by die woord voeg. Besef jy dat jy ’n seun grootmaak vir ’n vrou wat jou eendag gaan bedank vir jou insette of gaan vervloek vir die manier waarop jy dit gedoen het? En dat jy ’n dogter grootmaak wat sal weet hoe om die beste van haar huwelik te maak, of om te vlug as die water warm word?

Ja, dit is ’n skrikwekkende gedagte, maar die lot van jou kinders se toekomstige huwelike lê, tot ’n sekere mate, in jou en jou man se hande as ouers. Julle moet hulle leer hoe ’n gesonde huwelik moet lyk en hoe om ’n goeie lewensmaat te kies én te wees.

LES NOMMER 1: Lewensmaats is gelyk

Jou seuntjie lê voor die televisie, voete op die bank. “Mamma, ek is dors,” sê hy en jy dra koeldrank aan. Minute later skyfies en dan gee jy die televisiekassie vir hom aan omdat hy tog te lekker lê . . . Rooi lig! Fast forward 20 jaar vorentoe en stel jou voor dis ’n volgroeide man wat daar lê. Niemand wil met ’n lui man getroud wees wat nie sy deel in die huis doen nie, en die kanse is baie goed dat jou man se vrou ook voltyds gaan werk. Daarom is dit belangrik om jou seuns én dogters te leer om take te doen (skottelgoed was, kos maak, klere was, gloeilampe ruil, krane regmaak), en dat ’n man en vrou se rolle in die huis gelyk is. Wys hulle dat ’n paartjie wat as ’n span saamwerk, dinge gouer en beter gedoen kry.

LES NOMMER 2: Positiewe woorde en goeie maniere

Jy is geneig om manlief se braaivernuf te kritiseer met: “Jy verkool altyd die tjoppies!” Waarop hy reageer: “Dit is om op te maak vir jou rou aartappels!” Julle sien dit dalk as nietig en steur julle nie hieraan nie, maar julle kinders hoor dit. Elke goeie huwelik rus op pilare van respek en liefde. Dit help nie julle sit jul beste voetjie voor in die openbaar, maar hou nie terug by die huis nie. Hierdie les begin by goeie maniere. Leer jou kinders om nie bevele uit te blaf nie maar respekvol met mekaar te praat. Bedank jou maat ook gereeld voor die kinders vir dinge wat hy/sy gedoen het of die manier waarop hy/sy opgetree het. Hierdeur leer hulle dat waardering belangrik is.

LES NOMMER 3: ’n Huwelik is ’n prioriteit

As ’n ma voel dit natuurlik om jou kinders eerste te stel. As boetie kerm oor two-minute noodles, onderbreek jy dus jou gesprek met manlief om aan sy behoeftes te voldoen. Die onbewustelike boodskap wat jy oordra, is dat die huwelik nie so belangrik is nie en dat sy eie behoeftes en begeertes belangriker is as jul verhouding. Leer jou kinders om nie aan te dring op die onmiddellike bevrediging van hul behoeftes nie en dat hulle soms moet wag ter wille van ander. Leer hulle ook dat wanneer julle twee in ’n gesprek is, julle nie onderbreek mag word nie en dat julle soms ook mamma-en-pappa-tyd nodig het.

LES NOMMER 4: Dit is nodig om betekenisvol te kan gesels

Jy wil ’n kind kweek wat weet hoe om reg te kan kommunikeer omdat goeie kommunikasie die sleutel is tot ’n suksesvolle huwelik. Kommunikasie is nie net noodsaaklik vir behoorlike konflikoplossing nie, maar ook vir jou kind om te leer hoe om eendag dwarsdeur sy/haar huwelik met sy/haar maat gesprekke te kan voer, sodat hulle nie een van daardie paartjies is wat regoor mekaar in ’n restaurant sit sonder iets om te sê nie. Leer jou kind hoe om sy/haar gevoelens te verwoord en hoe om nie-verbale liggaamstaal te interpreteer. Leer jou kind om behoorlik te luister. Dit kan jy doen deur behoorlik na jou kinders te luister sonder om hulle in die rede te val. Vra ’n vraag of maak ’n opmerking sodat hulle kan weet jy het aandag gegee en dat wat hulle gesê het, vir jou belangrik is.

LES NOMMER 5: Wys hulle prakties hoe belangrik die huwelik is

Hoe wys jy jou kinders dat die huwelik belangrik is? Deur bogenoemde dinge wat jy elke dag in jou huwelik toepas. Maar ook deur saam met hulle deur jou trou-album te blaai, vir hulle te vertel van jou troudag en deur jul huweliksherdenking behoorlik te vier! As julle besluit om weg te gaan vir die naweek, moenie bloot sê: “Ons gaan ’n bietjie Kaap toe” nie, maar verduidelik: “Ons gaan weg om ’n baie spesiale geleentheid te vier. Dit is die dag wat Mamma met Pappa getrou het in ’n groot wit rok en in ’n mooi kerk. Ons het daardie dag belowe om vir altyd vir mekaar lief te wees en ons gaan nou weer partytjie hou omdat ons dit nóg ’n jaar reggekry het en omdat liewe Jesus ons vir mekaar gegee het vir nóg ’n jaar!”

LES NOMMER 6: Wys jou gevoelens vir jou maat

Om met ’n klip getroud te wees, kan tot baie spanning in ’n huwelik lei. Wens jy dit toe vir jou toekomstige skoondogter? Indien nie, moet jy jou kind leer om sy gevoelens te verwoord. Hy hoef nie skaam te wees om sy emosies te wys nie en hy mág maar huil! Leer hom hoe om drukkies uit te deel en wys jou kind dat ’n mens jou liefde kan wys, deur dieselfde teenoor jou maat te doen. Moenie skroom om voor die kinders te soen nie, selfs al trek hulle hul gesigte! Dit laat hulle nie net veilig voel nie, maar wys hulle prakties wat liefde is. Moet ook nie huiwer om vóór hulle van mekaar te verskil nie. Nee, moenie aan die gil gaan en jou maat lelike name noem nie, maar wys hulle dat ’n mens respekvol kan verskil – al is jy en jou maat lief vir mekaar.

LES NOMMER 7: Speel oop kaarte oor verhoudings

Daar is baie dinge wat julle vir jul kinders kan wýs deur jul eie huwelik, maar daar is ook tye wat julle die huwelik met jul kinders kan bespreek. Gebruik byvoorbeeld ’n Hollywood-fliek waar ’n sekstoneel tussen ’n one-night stand afspeel om te illustreer dat dít nie aan die orde van die dag is nie. En gebruik die gedrag van karakters om jou kinders te leer wat die regte of verkeerde optrede is. Leer jou kind ook deur voorbeelde uit jou eie huwelik te gebruik, soos: “Dit is belangrik om eendag ’n lewensmaat te kies wat goed is vir jou. Pappa laat my altyd lag en wanneer ek ’n slegte dag gehad het, maak dit my dag sommer lekkerder!” Dit is belangrik om jou kind bewus te maak van al die eienskappe wat van ’n persoon ’n goeie huweliksmaat sal maak.

Uiteindelik gaan jou kleinding grootword, die nes verlaat en self moet keuses maak. Jou taak is om hom of haar te lei sover jy kan en die res in God se hande te laat. Wend ’n doelbewuste poging aan om saam met jou maat vir jou kinders se toekomstige lewensmaats te bid en rus in die wete dat jul woorde, wyshede en dade hulle sal bybly die dag wat hulle daardie baie belangrike keuse moet maak.

 

Deur Annelize Steyn