Dít is wat jy alles moet weet van sexting. Om te sext kan lekker woema in jul huwelik plaas, maar jy moet weet hóé.
Wat presies is sexting?
Sexting is die stuur van eksplisiete seksuele boodskappe (texts), foto’s en video’s per selfoon. Dit is iets wat die wêreld redelik stormgeloop het, en is beslis ’n cheeky, dog sexy manier van dirty talk, hetsy tong in die kies of meer op die man af.
Hoekom doen jy dit ?
Dit is ’n pittige vorm van flirtasie, en kan beslis die liefdesvure aansteek en dien as goeie voorspel tot jou wederhelf vanaand tuis kom. Indien julle ver van mekaar af is, is dit ’n manier om jou sekslewe ’n bietjie op te kikker. Dit is ’n baie intieme en persoonlike manier van kommunikasie, en dié drie faktore is noodsaaklik om te verseker dat geen skade aangerig word aan jul verhouding nie.
Is dit blatant of suggestief?
Dis jou keuse of jy letterlik die ding op sy naam wil noem of eerder misterieus en dubbelsinnig wil wees. Die geheim om seksuele spanning op te bou, is dat dinge plaasvind teen ’n stadige tempo, een steen op ’n ander tot jy by die dak kom . . . Dit skep soveel meer afwagting.
Hoe doen jy dit en hoeveel karakters moet ’n sext wees?
Gebruik kort sinne wat nét sê wat nodig is, niks meer nie. Presies soos die gesegde, minder is meer, laat hom ’n bietjie wonder oor wat jy volgende gaan sê! Kommunikasie en die vryheid wat jul verhouding toelaat, en die gemak en spontaneïteit wat tussen julle is, is die sleutel tot watter deure in dié fantasiespel oopgesluit gaan word.
Begin stadig, wees uitlokkend, terg hom. Wees misterieus en dubbelsinnig, laat hom ’n bietjie self tussen die lyne lees en kweek só opwinding. Wanneer jy seker is jy het sy ononderbroke aandag, kan jy ’n bietjie meer waag en presies sê wat in jou gedagtes aangaan.
Die volgende stap is om sy geheue te verfris oor hoe lekker die vorige keer was toe julle saam in die bed was, hoe opgewonde jy was of hoe lekker die intimiteit tussen julle was. Noem gerus voorbeelde van wat plaasgevind het wat stimulerend was of wat jou goed opgewerk het.
Uitlokkende boodskappe wat sy fantasie prikkel, is uitstekend en sal hom gou laat inval by dié sensuele woordspeletjie.
Dit is goed om ’n positiewe reaksie te toon op jou maat se antwoorde na aanleiding van jou boodskappe, want dit spoor hom aan en gee hom ook selfvertroue om te reageer uit sy eie en jou op sý beurt opgewonde te maak.
Mans word visueel gestimuleer, só as hy mooi saamspeel in dié speletjie vir twee, beloon sy ywer met ’n sexy, suggestiewe foto. Die verleidende krag van só ’n foto moet beslis nie onderskat word nie, maar daar is ’n paar kern-reëls vir die neem van dié tipe foto’s. Daar moet genoeg aan die verbeelding oorgelaat word dat hy steeds uitsien om jou in lewende lywe te sien. Soos byvoorbeeld ’n stylvolle foto in mooi onderklere met ’n paar sexy stiletto’s of jouself mooi in ’n handdoek gedrapeer – dit sal wees soos om ’n rooi vlaggie voor ’n bul se neus te wapper. Die ideaal is om nie jou gesig in die foto in te sluit nie, maar dis jou keuse.
Wanneer doen jy dit?
Vra altyd of dit ’n geleë tyd is vir dié tipe kommunikasie of foto’s. (Jy wil hom nie peper met sexy boodskappe terwyl hy ’n voorlegging in die raadsaal lewer nie.) Wees konsidererend en moenie net daardie foto aanstuur nie!
Voorbeelde van sexts
- Die verloop van ’n sext is basies voorspel, soos “Ek het ’n verrassing vir jou vanaand”, “Ek gaan jou laat soebat daarvoor” of “Vanaand gaan ek jou toelaat om enigiets met my te doen”.
- Daarna versoeke soos “Ek wil hê jy moet my soen of aanraak dáár” of “Terg my tot ek nie meer kan uithou nie”.
- Jy kan gaan delf in vorige herinneringe wat julle baie geniet het, soos “Ek wil hê jy moet dít weer doen, soos die vorige keer”.
- Erotiese fantasie is welkom, soos “Ek was stout en moet getugtig word”, “Dié toneel uit ’n film was só eroties”, en vertel hom daarvan.
- Terg hom met “Ek het gedink aan iets wat ek vanaand met jou wil doen” of “Dis só jammer jy is nie nou hier nie, as jy net weet wat ek doen . . .”
- Komplimenteer hom met “Ek verloor alle selfbeheersing as jy naby my is”, “Ek was nog nooit só aangetrokke tot iemand nie”.
Wat mag jy sê en wat nie
Moenies:
- Moet liefs nie jou gesig in eksplisiete foto’s sit nie, dis kosbare en sensitiewe inligting.
- Hou jul gesprek privaat en moenie dit vir iemand anders wys of aanstuur nie.
- Stuur dit slégs vir manlief, vir wie jy ten volle vertrou, én maak seker jy gebruik sy regte nommer!
Moets:
- Reageer stylvol en respekteer mekaar.
- Stuur slegs foto’s aan waarmee jý gemaklik is.
- Wees kommunikatief en waaghalsig.
Sien die hele oefening as ’n uitdaging en moenie jouself te ernstig opneem nie. Dis prettig en ’n manier om mekaar beter te leer ken. Geniet dit!
Deur Yolanda Wessels
Addisionele bronne: www.bustle.com; www.womenshealthmag.com; www.thoughtcatalog.com