Kom ons vertel julle ’n groot geheim: Die paartjie wat glo hulle is verhewe bo smeermiddel, is soortgelyk aan dié paartjie wat die nuutste Pixar-animasiefliek sonder 3D-brille aanskou . . . jammer, maar julle mis uit!

Promosie

Ja, smeermiddel is handig as dit kom by vaginale droogheid (elke vrou ervaar ’n droë tydperk in haar menstruele siklus, gedurende borsvoeding of gedurende menopouse). As droogheid pyn in plaas van plesier in die prentjie bring, kan smeermiddel die situasie gou verander. Maar jy hoef nie smeermiddel te gebruik omdat jy voel jy móét nie. Bring “wil” in die prentjie en jy ervaar ’n heel nuwe sy van die “gladde kant” van seks! Smeermiddel spaar jou tyd en frustrasie, meen Ava Cadell, ’n seksopvoeder en stigter van Loveology Universiteit in Los Angeles.

Dis soos Liquorice Allsorts

Ons generasie is veel gelukkiger as ons voorouers, wat slegs KY-jellie as opsie gehad het (dis nou as hulle hul nie tot allerlei ander rate gewend het nie!). Vandag kry jy watergebaseerde smeermidddels, smeermiddels met ’n oliebasis en selfs smeermiddels wat verhit en gegeur is! Sommige smeermiddels beloof selfs ’n warm of koel sensasie, maar as jy sensitief is hiervoor, kan dit dalk effens té veel wees.

Promosie

Watergebaseerde smeermiddels is goed, maar dit beteken nie dat dit irritasievry is nie – as jy sensitief is vir sekere bestanddele, is dit dalk nie die ideale opsie vir julle nie. Dit kan ook later taai raak gedurende seks (wat reggestel kan word deur water by te voeg).

Oliebasis-smeermiddels werk goed (sommige dokters beveel selfs olyfolie aan vir hierdie doel!), maar dit kan kondome laat skeur. En die meeste kenners beveel aan dat dit nie in die vagina gebruik word nie. Gegeurde smeermiddels kan pret wees! As orale seks nie jou gunsteling tydverdryf is nie, kan hierdie smeermiddels ’n unieke . . . eh . . . geur aan seks gee! As jy ’n diabeet is, maak seker jou gegeurde smeermiddel is suikervry.

Afgesien van hierdie smeermiddels is daar ook dié soort wat ’n silikoonbasis het. Dit is baie bevogtigend en was nie af in die bad of stort nie. Dit werk uitstekend vir masserings, maar moenie hiervan op die vloer laat val nie – dis baie glad.

Smeermiddels kan pret wees!

Hoe kan jy smeermiddels in jou sekslewe inkorporeer om  meer pret tussen die lakens te hê?

  1. Moenie van ’n goeie massering vergeet nie . . . Gebruik smeermiddel om jou maat te masseer (en laat hy jou masseer). Wees ondersoekend en masseer elke sentimeter van mekaar se lywe. Julle sal verras wees oor watter liggaamsdele erogene sones kan wees – selfs daardie stukkies vlees waarvan jy dit die minste verwag het.
  2. Al na die waterkant toe . . . Ja, as jy smeermiddel in die prentjie bring, kan dit waterkaskenades soveel meer pret maak. As jy reis, hou dit in ’n deurskynende sjampoe-reisbotteltjie, en niemand sal weet nie. Water is geneig om natuurlike smeermiddel weg te was, en seks in die bad of stort kan dus ’n uitdaging raak. Deur watervriendelike silikoon-smeermiddel nader te trek, kan jy en manlief na hartelus in die water . . . eh . . . baljaar!
  3. Maak dit ’n njam-ervaring. Baie vroue is skugter vir orale seks vanweë die smaak van sperm of manlief se natuurlike smeermiddel. ’n Fabriek-vervaardigde weergawe in ’n geur waarvan jy hou (dink aarbei of sjokolade!) kan van orale seks ’n feestelike gedoente maak! Vergeet van die lipsalf en wend die smeermiddel aan jou lippe voor jy suidwaarts beweeg.
  4. Gebruik handgebare . . . Net soos wat seks ongemaklik kan raak van baie wrywing, kan dit vir manlief pynlik raak as jy hom met jou hande stimuleer en sy natuurlike smeermiddel opdroog. Met ’n buisie van die goeie goed byderhand, kan jy ’n hand job uitrek (en gevolglik ook die klimaks – wat opbou tot ’n behoorlike ontploffing).
  5. Glip-en-gly . . . Smeer jou borste vol smeermiddel (die silikoon-weergawe werk goed hiervoor) en gaan staan op jou knieë agter hom. Beweeg nou op en af teen sy rug met jou gladde lyf, voor jy om beweeg, hom plat teen die bed druk en hom soen van sy naeltjie tot by sy mond. Jou gladde borste teen sy lyf sal hom mal maak!
  6. Maak dit vinnig – of uitgerek. Of julle nou lus is vir ’n quickie of vir ’n marathon-sessie, smeermiddel gaan in beide scenario’s handig te pas kom. As manlief jou in die besemkas intrek vir drie minute se aksie voor jou skoonouers by julle kom eet, is smeermiddel ’n móét (daar is nie tyd vir voorspel nie!). En as julle besluit op ’n all-nighter, gaan al die wrywing kort voor lank smeermiddel noodsaak.
  7. Raas julle koperkatel? Ons almal het ’n waardering vir antieke meubels, maar Ouma en Oupa se bed met die squeaky skarniere is ’n passieblusser. Wanneer die bed begin kompeteer met julle orale uitroepe van ekstase, trek die buisie nader en smeer dit aan die skarniere. Dit behoort die truuk te doen!

Sien, smeermiddel is soveel meer as net die oplossing vir ’n lastige probleem. Versamel ’n paar vir jul badkamerkassie in elke geur. Sodra julle al die moontlikhede ontdek het, sal julle nooit weer ’n Pixar-fliek sonder 3D-brille kyk nie!

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.womandsday.com, www.shape.com, www.womenshealthmag.com, www.lubezilla.com.