Dit maak nie saak hoe spanningsvol jou dag is nie – as jou huweliksmaat jou verras met ’n onverwagse oproep of liefdesdaad, kan jy dit nie keer nie . . . ’n glimlag verhelder jou hele gesig en laat die mistroostigheid verdwyn. Kweek só 20 maklike gewoontes vir ’n gelukkige huwelik! Hier is eenvoudige dinge wat jy kan doen om ’n glimlag op jou maat se gesig te plaas. 

Promosie
  1. Ontvoer jou maat!

As jul minute voortdurend opgeslurp word, is dit tyd om jou maat te ontvoer na ’n plek waar julle ongesteurd saam met mekaar kan kuier. Laai jou maat by die werk op om seker te maak julle skep tyd net vir mekaar. Maak dit spesifiek: Byvoorbeeld kaas en wyn ná werk op ’n Vrydag, of ’n elfuur-koffie afspraak op Woensdae.

  1. Vaar sáám die winkels in

Lyk ’n slag mooi vir mekaar! Gaan kies saam vir mekaar ’n mooi kledingstuk uit. Maak dit deel van die avontuur om binne ’n beperkte tyd vir elkeen van julle iets besonders uit te soek.

  1. Wie nie waag nie . . .

Verras jou maat deur iets splinternuut saam te doen. Bespreek vir julle kaartjies vir ’n sportwedstryd, gaan teater toe of gaan vir ’n couple’s massage by ’n spa. Doen iets wat vir jou maat wys dat jy wil deel in sy/haar belangstelling.

Promosie
  1. Reis na die verlede

Luister fyn na jou maat. Praat sy soms oor ’n boek wat ’n groot indruk op haar gemaak het of vertel hy jou van ’n kosbare speelding uit sy kinderjare waarna hy soms verlang? Kyk of jy iets spesiaal waarvan jou maat soms praat, op die Internet kan opspoor.

  1. Lank lewe die (15 sekonde)-soen

Net die gedagte laat jou dalk al glimlag . . . wie soen só lank op ’n doodnormale dag? 15 sekondes is net lank genoeg om te sorg dat julle regtig ’n intieme verbintenis met mekaar het. Dink terug aan jul opsitkers-dae . . . Gaan beproef só ’n lang soen.

  1. Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif

Stuur een keer per week vir mekaar ’n gedig. Kyk hoe jy jou maat kan verras met verskillende digters en verskillende digstyle. Julle kan selfs jul eie poësie-aand hou met pizza en wyn. Gaan kyk in die boekwinkel vir mooi saamgestelde gedigte (daar is boeke met spesifiek liefdesgedigte ook), in Afrikaans. Jy kan ook mooi gedigte aanlyn kry.

  1. Kies ’n woord van die week

Kies enige woord en kyk wie dit die meeste in jul gesprekke kan gebruik. Of kies byvoorbeeld ’n ouer en vreemder Afrikaanse woord, slaan die betekenis na en kyk waar julle dit kan gebruik. Só brei julle nie net jul woordeskat uit nie, maar vermaak mekaar ook met jul kwinkslae. Byvoorbeeld ‘Klopdisselboom’: “Liefie, ek is so bly jou week het klopdisselboom verloop!”

  1. Kook en geniet

Maak saam kos. Soek ’n vreemde resep en pak dit saam aan. Sit goeie musiek aan, skink ’n glas wyn en verander die kosmakery van ’n alledaagse sleurtaak tot ’n romantiese saamkuier-geleentheid.

  1. Wýs dit

Werk daaraan om jou maat voor ander spesiaal te laat voel. Dit beteken nie julle hoef soos twee vryerige tieners op te tree nie. Doen basiese dinge: Hou hande vas, gee vir mekaar ’n drukkie by ’n braai, sit jou hand op sy been of gee vir mekaar ’n skouermassering.

  1. Steek liefdesnotas weg

Maak tien sticky notes met tien eienskappe van jou maat wat jy waardeer, en steek dit vir hom weg. Herinner hom aan al die eienskappe wat jou aanvanklik aangetrokke gemaak het tot hom. Dit is soms verstommend wat jou maat van daardie eerste dae kan onthou.

  1. Woon saam ’n musiekvertoning by

Bespreek vir julle kaartjies vir ’n musiekvertoning wat in albei se smaak val. Julle kan selfs oor tyd geld spaar om ’n internasionale musiekster se vertoning by te woon. As julle op die platteland bly, kyk lank voor jul volgende stadsbesoek vir geleenthede en beplan jul volgende reis dienooreenkomstig.

  1. Daar kom die bruid!

Grawe ’n slag jul trou-album of –video/dvd uit. Julle kan selfs elke jaar op jul herdenking weer na stukkies van jul troudag kyk. Deel weer foto’s van jul troudag op sosiale media of e-pos dit vir mekaar saam met “Onthou jy nog . . . ?”.

  1. Sit dit af!

Bêre jul selfone en ander media en fokus nét op mekaar. Te veel halwe gesprekke vind plaas met een persoon wat skrams na ’n piepende foon kyk terwyl julle praat of op ’n skootrekenaar werk.

  1. Die verrassingselement

Verras mekaar met ’n onverwagse oproep, boodskap, geskenk of gebaar by die werk. Sit skelmpies iets in haar kospakkie of handsak. Bel mekaar vinnig, al is julle hoe besig. Laat was jou maat se kar, maak dit vol brandstof of stuur ’n koffie-geskenkbewys vir jou maat.

  1. Wees verspot

Doen iets wat totaal buite jul albei se gemaksone is. Kies vir mekaar verspotte uitrustings en gaan in die openbaar daarmee uit. Kyk wie sy poker face die beste kan hou. Wees vir ’n slag laf en onbevange.

  1. Vier mekaar se sukses

Wees trots op jou maat en sê dit vir mekaar! Wees trots op alledaagse goed. Sê vir jou maat dankie vir dit wat hy of sy tot die huishouding bydra. Wys vir jou geliefde hoe jy karaktereienskappe van hom/haar waardeer. Hoe meer julle dit vier, hoe meer gaan julle mekaar aanspoor.

  1. Oefen saam

Die glimlag op jou gesig het dalk pas verdwyn . . . Kyk hoe julle gesin saam om die blok kan stap of saam ’n park run kan doen. In dié geval sal die glimlag op jou maat se gesig dalk eers ná die oefening verskyn, maar dit is ’n gesonde geleentheid om tyd saam te spandeer.

  1. Trieng-trieng

Verander skelmpies jou maat se selfoon-luitoon na die liedjie waarop julle die dansbaan op jul troue geopen het. Die eerste keer wat hy/sy dit agterkom, sal dit ’n groot glimlag bring. Of kies ’n spesiale luitoon vir wanneer jy bel.

  1. Grawe ou koeie uit

Besoek ’n plek uit jul kinderjare en wys vir mekaar waar julle grootgeword het. Deel jou herinneringe en emosies wat jy dalk lankal diep gebêre het. Maak jou hart oop voor jou maat en sluit hom/haar in by dit wat jou gevorm het.

  1. Bederf mekaar

Julle is getroud, so julle het geen verskoning nodig om mekaar te bederf nie. Van iets kleins soos koffie in die bed, tot kospakkies en selfs ’n koppie koffie in ’n reisbeker waarmee jou maat die verkeer kan aandurf.

Jy weet reeds wat jou maat laat tick. Wys dit elke dag prakties vir mekaar deur nuwe gewoontes te vestig, maar hou dit interessant deur te kyk hoe jy jou maat aan die raai kan hou met dit wat jy volgende gaan doen!

 

Deur Lize Groenewald