Met ons Nomad-avonture het ons ’n tyd in Robertson op die Van Loveren-wynplaas spandeer. Dit was oestyd. Die wingerd het swaar gehang, die son was warm op die grond, en oral was daar ’n sagte gejaag – mense wat druiwe dra, trekkers wat beweeg, parsmasjiene wat dreun. Ons het die voorreg gehad om op die parsmasjiene te ry en te sien hoe druiwe van die wingerd af in iets heeltemal anders begin verander. Van daar af het ons dit gevolg tot in die kelder, waar die proses geduldig voortgaan.
Wat my diep geraak het, was hoe lank wyn vat. Dis nie net ’n romantiese idee in ’n glas nie. Dis snoei wat drasties lyk wanneer dit gebeur. Dis water gee wanneer niemand klap nie. Dis wagtyd in donker vate waar jy nie kan sien wat aangaan nie. Maande van getroue versorging met die hoop dat daar wyn van kwaliteit uit sal kom.
En terwyl ek daar staan en kyk het, het ek gedink hoe baie huwelike ook so begin. Met belofte. Met groei. Met daardie opgewondenheid wat voel soos ’n wingerd in vol blom. Maar dan kom daar seisoene waar dinge stiller raak. Waar die dae vol raak met werk, kinders, verantwoordelikheid, rekeninge, gewone lewe. En een aand, dalk oor ’n koppie koffie of na ’n stil ete, besef jy: iets voel anders.
Ek onthou ’n paartjie wat dit so eerlik verwoord het. “Ons baklei nie meer nie,” het hulle gesê, “maar ons lag ook nie meer nie. Dis net normaal. Net roetine. Ons funksioneer. Ons braai. Ons hou vakansie. Ons doen wat van ons verwag word. Maar diep binne voel dit asof die vreugde effens verdun het. Ons het meer verwag van die huwelik. Nou voel dit net… soos water.”
Daar is nie noodwendig groot drama nie. Net ’n soort stil teleurstelling. En stilte kan soms harder wees as konflik. Dit kan soos ’n geheime skaamte voel om te erken dat iets wat eens soos wyn geproe het, nou effens waterig voel.
Wanneer ons Johannes 2 lees, die verhaal van die bruilof in Kana. ’n Bruilof wat ’n hele week sou duur. Familie. Vriende. Gelag. Musiek. En dan, op dag drie, raak die wyn klaar. Dit was nie net ’n klein logistieke fout nie; dit was ’n sosiale verleentheid. Wyn het vreugde, eer en oorvloed gesimboliseer. Sonder wyn was daar verwarring en skaamte.
Miskien herken jy daardie gevoel. Hoe het ons hier gekom? Wat het met ons gebeur? Hoekom voel dit nie meer so vol soos vroeër nie? Party paartjies kom selfs by ’n punt waar hulle begin dink: Miskien is dit maar net hoe huwelike is. Miskien moet ons maar leer saamleef met hierdie water.
Maar dan gebeur iets wat my altyd weer hoop gee. Jesus daag op in die tekort. Sy eerste wonderwerk gebeur nie in ’n tempel of op ’n berg nie, maar by ’n bruilof. Hy kies om Homself in ’n huwelik bekend te maak. Dis asof Hy sê: Ek is nie net Here van die groot, dramatiese dinge nie. Ek is ook teenwoordig in julle alledaagse vreugde – en selfs in julle tekort.
Maria merk die tekort op en sê eenvoudig: “Hulle het nie meer wyn nie.” Sy dramatiseer nie. Sy begin nie beskuldig nie. Sy probeer nie self ’n plan beraam nie. Sy bring net die behoefte na Jesus toe. En dan sê sy vir die knegte: “Doen wat Hy vir julle sê.”
Daar is iets ongelooflik lig in daardie reaksie. Nie paniek nie. Nie beheer nie. Net vertroue.
Die knegte kry ’n eenvoudige opdrag: “Maak die kruike vol water.” Dis nie onmiddellik wyn nie. Dis nie ’n dramatiese aankondiging nie. Dis water. Swaar water wat gedra moet word. Groot klipkruike wat tot bo gevul word. Hulle weet nie wat gaan gebeur nie; hulle weet net wat hulle moet doen.
En hier raak dit so mooi prakties. Wyn begin met water. Nie met ’n groot hernuwingseremonie nie. Met water. In ’n huwelik kan daardie water verrassend eenvoudig lyk. Dit kan begin by om jou foon eenkant te sit wanneer jou maat praat en werklik te luister. Dit kan wees om sagter te antwoord as wat jy gewoonlik sou. Om weer doelbewus ’n koppie koffie saam te drink sonder ’n lysie tussen julle. Om te sê: “Ek waardeer jou,” al voel dit effens vreemd om weer daardie woorde te gebruik. Om kort saam te bid en eerlik te erken dat julle self nie weet hoe om water in wyn te verander nie.
Dis nie dramaties nie. Dis nie iets wat jy op Instagram of Facebook gaan sit nie. Dis klein. Dis water.
Maar dan gebeur iets buitengewoon, ‘n wonderwerk. Water word wyn. En nie sommer net wyn nie – die beste wyn. Oorvloedige, kwaliteit wyn. Dis amper asof Jesus met ’n glimlag wys dat wanneer Hy werk, Hy nie net herstel tot by “net genoeg” nie. Hy verryk. Hy verras. Hy doen dit goed.
Dit is God se manier. Hy herstel wat skaars geraak het. Hy verryk wat leeg geraak het. En wat Hy verryk, kan floreer.
Floreer beteken nie elke dag is daar vuurwerke nie. Dit beteken daar is weer kleur. Weer ’n ligte lag in die kombuis. Weer daardie gevoel dat julle aan dieselfde kant staan. Soos ’n glas wyn wat jy optel en besef: dit proe goed.
Miskien voel jou huwelik tans soos water. Of dalk is dit nie die hele huwelik nie, maar net ’n area wat stilweg aandag vra – kommunikasie wat oppervlakkig geraak het, finansies wat spanning bring, intimiteit wat minder geword het, respek wat skaars voel, of gebed wat iewers langs die pad weggeraak het. Of miskien is dit bloot tyd vir ’n nuwe seisoen van doelbewuste water gee.
Hier is ’n eenvoudige voorstel: Wat as julle vanaand net rustig saam sit en vra: “Waar het ons weer wyn nodig?” Nie om skuld te plaas of ou wonde oop te krap nie, maar net om eerlik te wees.
En gaan dan vrymoedig na Jesus en sê vir Hom: “Ons het nie meer wyn nie.” Met die bereidheid om ’n kan water vol te maak.
Julle nuwe wynseisoen begin met ’n eenvoudige, eerlike kruik water wat na Hom toe gebring word. En in Sy hande word daardie water weer goeie, kwaliteit wyn.
– Deur Liezel van der Merwe

