1. My man verkies masturbasie bó seks met my
Vraag: “My man het geen mediese probleem nie, maar sal nooit die eerste stap neem as dit kom by seks met my nie. Hy het egter glad nie ’n probleem daarmee om te masturbeer nie. Waarom sal hy eerder wil masturbeer as om seks met my te hê?”
DR ELNA RUDOLPH, ’N MEDIESE DOKTER, SEKSUOLOOG EN KLINIESE HOOF VAN MY SEXUAL HEALTH, ANTWOORD:
Om in ’n verhouding nooit self seks te inisieer nie en altyd van jou maat te verwag om dit te doen, is baie selfsugtige gedrag (of blote luiheid!). Dit kom nie so maklik vir almal om daardie stap te neem nie. Sommige mense is skaam en voel ongemaklik om dit te doen, maar dis ’n vaardigheid wat almal moet aanleer.
Een van die grootste redes wat ek in die praktyk sien vir ’n gebrek aan die inisiasie van seks, is depressie. Onthou, mans met depressie lyk baie anders as vroue – hulle sit nie in ’n hoekie en huil nie, maar ’n verlies aan libido is ’n baie groot rede daarvoor. Masturbasie is minder moeite as seks, so hulle mag dalk daarmee aanhou.
’n Mens kry ook mans met narsistiese neigings, wat verslaaf is aan die kick wat hulle daaruit kry as hul vroue toenadering tot hulle soek, maar dit is nie ’n verskoning nie.
In terapie reken ons dat, indien dinge nie spontaan gebeur nie, ’n mens beurte behoort te maak om seks te inisieer. Kommunikasie is natuurlik baie belangrik. As jy dit al duidelik aan hom gekommunikeer het dat dit vir jou belangrik is dat hy ook seks moet inisieer en hy verander nie, sal julle iemand moet sien. Daar is miskien diepliggende sielkundige probleme wat hom terughou.
2. My maat se libido en anti-depressante
Vraag: “Watter spesifieke bestanddele bevat anti-depressante wat ’n mens se seksuele drang beperk?”
DR ETIENNE KOK, ’N MEDIESE DOKTER, SEKSUOLOOG, PSIGOTERAPEUT EN HUWELIKSBERADER, ANTWOORD:
Daar bestaan ’n baie komplekse verhouding tussen depressie, die behandeling daarvan en seksuele disfunksie. Daar is ’n groot verwantskap tussen depressie en seksuele disfunksie, en veral seksuele drang (libido) kan verbeter wanneer depressie suksesvol behandel word.
Ongelukkig kan van die medikasie wat gebruik word om depressie, angstigheid en ander sielkundige of psigiatriese probleme te behandel, seksuele disfunksie veroorsaak (veral vertraagde ejakulasie by mans), wat weer daartoe kan lei dat mense nie die medikasie wil neem nie of ophou om dit te gebruik.
Dit is moeilik om te bepaal of seksuele probleme deur depressie veroorsaak word of eerder ’n gevolg van die behandeling daarvan is. Depressie word gewoonlik met ’n groep middels behandel, wat die SSRI’s (“Selective Serotonin Reuptake Inhibitors”) genoem word. Daar is ook die sogenaamde SNRI’s (“Seretonin Noradrenalin Reuptake Inhibitors”) en atipiese middels wat vir die behandeling van depressie gebruik word.
Daar is ook ouer middels op die mark, wat steeds vir die behandeling van depressie gebruik word, wat baie newe-effekte (insluitende seksuele disfunksie) het. Dit staan bekend as die trisikliese anti-depressante (TAD’s) en die mono-amien oksidase-inhibeerders (MAOI’s).
Dit wil voorkom of die anti-depressante wat suiwer op die serotonien-neuro-oordragstof werk die meeste seksuele newe-effekte het en dié wat op beide serotonien (ook bekend as 5-Hidroksietriptamien, oftewel 5HT) en noradrenalien werk, minder newe-effekte het. En dat dié wat meer op dopamien en melatonien werk, die minste seksuele newe-effekte het. Dit is egter nog steeds baie afhanklik van die individu en sy of haar reaksie daarop.
As iemand kla dat hy depressief is en ook seksuele probleme ervaar, kan dit ’n teken wees dat die medikasie of behandeling vir die depressie nie doeltreffend werk nie of dit kan as gevolg van ’n newe-effek van die medikasie wees.
As ’n mens seksuele probleme ervaar ná jy met die behandeling van depressie begin het, is dit belangrik om dit met jou algemene praktisyn of psigiater te bespreek. Hy of sy kan dan besluit om jou anti-depressant te verander na ’n middel wat dalk minder tot geen seksuele newe-effekte het nie of jou depressie doeltreffender sal behandel.