Verhoudings gaan deur moeilike tye. Dit is ’n feit. Hoe besluit ’n mens wanneer om vir professionele hulp aan te klop en by wie?

Promosie

Terapie red huwelike. Ongelukkig is dit so dat, wanneer ’n huwelik verbrokkel, een van die partye dikwels voel: “Dit is nie ék wat hulp nodig het nie.” En dit is ook só dat mense negatiewe ervarings beleef het sover dit ongekwalifiseerde terapeute aangaan. Die regte terapie en terapeut kan egter jou huwelik red! Ons werp lig op hierdie sensitiewe kwessie . . .

Kan ons huwelik baat vind by terapie?

Dit is só belangrik om ’n gesonde huwelik en seksuele verhouding te hê. Voorkoming is makliker as genesing. Besoek dus ’n terapeut om ’n reeds gesonde verhouding te verryk (dit is nie nodig om te wag tot daar rééds moeilikheid is nie!) of sodra daar enige ongemak, probleme of herhaalde konflik in die verhouding is. Hoe gouer julle professionele hulp kry, hoe gouer en makliker kan die probleme opgelos word. Moenie wag tot dit te laat is nie!

Promosie

Wat is die verskil tussen huweliksverryking, huweliksterapie en seksterapie?

Huweliks-/verhoudingsverryking: Die voorvereiste vir suksesvolle huweliksverryking is ’n reeds gesonde en stabiele verhouding. Huweliksverryking ontwikkel, verryk en versterk hierdie verhouding. Huweliksverryking behoort ’n gereelde instelling te wees. Dit skep ’n klimaat waarin paartjies mekaar beter kan leer ken en verstaan, waar hulle gevoelens kan deel en ook doeltreffende konflik- en kommunikasievaardighede kan aanleer.

Huweliksverryking fokus op elke individu, sowel as die paartjie se sterk punte, hoe om moontlike uitdagings te hanteer en onderliggende probleme te identifiseer en op te los.

Seksualiteitsverryking is ook deel van huweliksverryking. Só kan ’n paartjie hulle huwelikstevredenheid en die potensiaal van hulle verhouding optimaliseer. Huweliksverryking fokus dus daarop om gelukkige huwelike nóg gelukkiger te maak en voorkom toekomstige probleme.

Huweliksterapie: Huweliksterapie fokus op probleemoplossing. Dit is ’n poging om probleme so doeltreffend as moontlik op te los. Mits albei party gemotiveerd is, aan hul probleme wíl werk en die vermoë tot insigontwikkeling het, is huweliksterapie baie doeltreffend.

Terapie poog om begrip en volhoubare oplossings vir probleme soos, onder meer, ondoeltreffende kommunikasie en negatiewe konflikhantering en die hantering van die trauma van buite-egtelike verhoudings te fasiliteer. Die eerste stap is die erkenning van die probleem. Daar moet dan saam ’n besluit geneem word dat die probleme nie alleen hanteer kan word nie (daar is dikwels baie negatiewe emosies ter sprake, wat perspektief moeilik maak) en dat daar gemotiveerd en met ’n vaste verbintenis tot die terapeutiese proses opgetree sal word.

’n Huweliksterapeut is nie ’n skeidsregter nie, dit gaan nie oor wie “reg” of “verkeerd” is nie, maar eerder daaroor om insig te ontwikkel in terme van die paartjie se unieke verhoudingsdinamika, doeltreffende kommunikasie te fasiliteer en misverstande uit die weg te ruim.

’n Individuele psigoterapie-proses word dikwels aanbeveel vir een of albei partye, veral waar daar trauma in die verlede was of daar ’n ongesonde onbewustelike seksuele of verhoudings-bloudruk is. Angstigheid, depressie en ander gemoedsversteurings word ook hanteer aangesien dit die doeltreffendheid van die terapeutiese proses kan benadeel.

Seksterapie: Die doel van seksterapie is om op die paartjie se seksuele verhouding te fokus. Seksuele probleme of disfunksies bly van die algemeenste probleme wat tot konflik of selfs egskeiding lei. Seksterapie is ’n baie gespesialiseerde veld en groot sukses word behaal om seksuele probleme binne die verhoudingskonteks op te los.

Seksuele probleme word doeltreffender hanteer wanneer albei partye by die terapie betrek word. Die gedagte wat ’n mens dikwels hoor van: “Sy het die probleem, sy is koud, sorteer haar uit,” maak doeltreffende seksterapie moeilik. Albei partye is deel van die probleem, maar ook deel van die oplossing. Seksterapie kombineer gewoonlik seksuele inligting of seksopvoeding, verhoudingsterapie en seksuele oefeninge wat die paartjie by die huis gaan doen. Individuele psigoterapie word soms aanbeveel en die diagnose en hantering van moontlike mediese probleme wat die seksuele probleme kan veroorsaak, word ondersoek.

Suksesvolle seksterapie word binne ’n multi-professionele spanverband hanteer. ’n Seksuele medisyne- of gesondheidspesialis, seksuoloog, verhoudings- en psigoterapeut en soms ’n bekkenvloer-disfunksie-terapeut vorm deel van die span. Dit is suksesvol aangesien seksuele probleme dikwels simptome is van ander probleme binne die verhouding en die seksuele probleme op sigself ’n impak op die verhouding het.

Hoe kies ons die regte terapeut?

Verhoudingsterapie en seksterapie is baie gespesialiseerd. Dit is belangrik om seker te maak dat die terapeut of seksuoloog by ’n erkende raad geregistreer is – in Suid-Afrika by die Health Professions Council of South Africa (HPCSA) of by die South African Council for Social Service Professions (SACSSP).

Daar is ongelukkig vandag baie mense wat hulself voordoen as erkende seksterapeute, sekskenners of seksuoloë, maar nie erkende opleiding het of geregistreer is nie. Erkende seksuoloë behoort ook meestal aan die South African Association of Sexual Health (SAASH), het ’n internasionale kwalifikasie en is lid van internasionale organisasies soos die World Association for Sexual Health (WASH), die European Society for Sexual Medicine (ESSM) of die International Society for Sexual Medicine (ISSM).

GEEN erkende kwalifikasies word in Suid-Afrika aangebied in seksuologie nie. Besoek gerus die webtuiste www.sexualhealth.org.za vir meer inligting oor seksuele en verhoudingsprobleme en ’n lys van erkende seksuoloë en terapeute.

Sy/hy wil nie ’n terapeut besoek nie. Hoe gemaak?

Gaan sien ’n terapeut op jou eie. Jy kan self baie insig ontwikkel en die nodige ondersteuning kry. Soos jy groei, sal jou maat gewoonlik outomaties ook groei en moontlik later bereid wees om saam met jou vir terapie te gaan. Indien die probleem of jou maat se optrede nie verander nie, kan die terapeut jou help om ingeligte keuses te maak.

Wanneer terapie nie kan help nie . . .

Terapie kan altyd help, al is dit om jou te help om die situasie beter te hanteer.

Verhoudingsterapie is soms onsuksesvol omdat mense ’n verskuilde agenda het, nie oop en eerlik is nie, steeds in buite-egtelike verhoudings betrokke is of nie die insig het om hul eie aandeel in die verhoudingsdinamika te aanvaar en te verander nie. Dit is amper onmoontlik om ernstige verhoudingsprobleme op te los sonder professionele ondersteuning. Dit is net té emosioneel en ’n mens is te betrokke in die situasie.

Kies dus om aan jou huwelik te werk en maak nóú jou afspraak. Dit is die moeite werd!

 

Deur Elmari Mulder Craig, ’n internasionaal gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingskenner.