Kommunikasie is die hoeksteen van enige gesonde huwelik. Maar waaroor moet julle praat? Oor koeitjies en kalfies, ja, maar ook oor dié nege onderwerpe, wat die verskil kan maak tussen ’n lou huwelik en ’n huwelik wat hou.
Daar is tye wanneer sy en haar man ’n hond uit ’n bos kan gesels, vertel ’n vriendin onlangs. Dan klets hulle van Gauteng tot in Clarens sonder ophou – oor enigiets onder die son. Van die weer en politiek tot Pink se nuutste single en die nuutste episode van This is Us. Maar dan kom daar ook ’n droogte wat hul geselsery aanbetref. Tye wat hulle dae aaneen net praktiese reëlings aan mekaar deurgee.
Soos die see se getye, is dit ’n normale deel van elke huwelik. Dis onmoontlik om elke dag sonder ophou te praat, maar vir elke stilte moet daar ook ’n opwaartse kurwe wees. Só belangrik soos dit is om oor ditjies en datjies te gesels, só nodig is dit dat jy en jou huweliksmaat soms deur die nietighede sif, declutter en spesifieke onderwerpe op ’n gereelde basis aanroer. Dis nie net goed vir jou huwelik nie, dis noodsaaklik.
Praat oor:
- Dit wat julle op ’n wolk laat sweef: Ja, ons praat van daardie dinge wat julle gelukkig maak. Of dit nou is om te sien hoe jou graad eentjie ’n drie druk in bulletjie-rugby, of ’n mooi skildery in ’n winkelvenster waarby jy gereeld verbystap omdat jy dit nie nóú kan bekostig nie. Jou doel met só ’n gesprek moet egter nie wees om aan jou maat te verwoord wat jóú gelukkig maak nie (hoewel jy dit ook moet doen). Dit is om uit te vind wat jou maat werklik gelukkig maak. Jy weet miskien dat hy, toe julle mekaar ontmoet het, die Terry Pratchet-boeke verslind het, maar is dít die tipe leesstof wat hom deesdae laat tiek? Of sal jy uit die veld geslaan wees om te hoor hy het reeds drie Deon Meyer-boeke deurgewerk sonder dat jy dit eens geweet het?
- Dit wat jul borrels laat bars: Net so nodig soos wat dit is om mekaar se vreugdes en plesiere te ken, so belangrik is dit dat julle weet wat jou pla, jou irriteer en bloot jou geesdrif demp! Veral as die persoon wat hierdie negatiewe emosies by jou ontketen, jou maat is. Dalk is jy ’n ywerige kunstenaar wat poog om die natuurskoon om jou op kamera vas te vang, maar elke keer wanneer jy vir jou maat van jou foto’s wys, het hy (wat eens op ’n tyd fotografie studeer het) ’n eiertjie te lê oor jou lig of jou komposisie. Jy kan op jou tong byt, maar jy sal dit ook net só lank kan doen. Dit is dus nodig om dít wat jou pla te verwoord voor daar ’n bom bars wat meer skade aanrig as wat nodig is.
- Die kwessie van kachieng: Finansiële spanning is een van die hoofoorsake van egskeiding. Julle móét praat oor jul inkomste, uitgawes, spaarfondse, beleggings, bestedingstyle en skuld – selfs al probeer julle om jul geldsake afsonderlik te hou. Geheime (of dit nou gaan oor skuld, skelm uitgawes of ’n koopverslawing) kan groot amok maak in jul huwelik en deur gereeld oor jul geldsake te gesels, kan julle ontnugtering vermy.
- Die kwessie van time-out: Ouerskapstyle is iets wat elke paartjie van vroeg af behoort te bespreek, selfs vóór die kroos hul verskyning maak. Al kom jul agtergronde tot ’n groot mate ooreen, kan daar groot verskille in dié verband wees. Dissipline, opvoeding en aktiwiteite verg in-diepte gesprekke. Hoe gouer julle verskille in dié verband uitstryk, hoe vinniger kan julle as ’n eenheid funksioneer, en dít is enige ouerpaar se sterkste wapen teen uitdagende of manipulerende kinders. Dit is ook lekker om te weet jou maat ondersteun jou in jou ouerskap-besluite en dat hy/sy jou nooit sal teengaan sover dit beslissings aanbetref nie.
- Die lekkertes van lugkastele: Nog ’n gesprek wat julle beslis deurgaans moet hê, is dié van drome en doelwitte. Dit is ook nie staties nie. Jul drome lyk nie noodwendig nou soos wat dit tien jaar gelede gelyk het nie. Maak dus seker julle is steeds op hoogte van mekaar se drome en doelwitte. Die kleineres (soos die badkamer wat oorgedoen moet word en die spuitfontein in die binnehof), sowel as die grotes (om eendag jou eie onderneming te besit of vroeg af te tree).
- Dit wat jy verkies om nié oor te praat nie: Hmm, dit is nou nie die lekkerste van onderwerpe nie, maar elke paartjie moet praat oor wat gaan gebeur wanneer een van julle (of albei) te sterwe kom. Net so belangrik soos wat dit is om oor die lewe te praat, só moet julle ook die dood bespreek. Bespreek jul lewensversekering, testamente, begrafnisse of verassings, en wat jul plan met die kinders sal wees sóú iets met julle gebeur.
- En dit wat julle anker: Afgesien van die lewe en die dood is dit ook belangrik om die lewe ná die dood te kan bespreek. Wanneer twee mense nie ooreenstem wat geloof aanbetref nie, kan dit ’n huweliksbootjie skud. Natuurlik is die basis van ’n gesonde, sterk huwelik een waarin God die middelpunt is. Paartjies se geloof transformeer egter ook. Een van julle mag ’n spirituele belewenis hê wat sy of haar geloof tot so ’n mate laat verdiep dat die ander party dit nie verstaan nie. Of een van julle beleef dalk ’n geloofskrisis. As julle nie mekaar se harte in daardie stadium presies lees nie, gaan dit moeilik wees om in ’n ondersteunende rol op te tree.
- Dit wat jou laat bloos en giggel: Elke paartjie moet kan praat oor dít wat julle weerloos laat voel. Jy moet kan praat oor die keer toe jy met ’n halwe rol toiletpapier agterna by die badkamer uitgeloop het, of die verkleinerende bynaam wat ’n laerskool-boelie jou gegee het. Jy kan steeds dinge vir jouself hou, maar intimiteit gaan daaroor om dinge te deel wat moeilik is om te deel. Dit bring julle nader aan mekaar.
- Hoekom julle mekaar gekies het en weer kies: Dit is belangrik om baie tyd hieraan te bestee . . . dink aan hoekom julle vir mekaar lief geraak het. Droom oor jul eerste afspraak, jul eerste soen en jul troudag. Droom wéér daaroor, en weer. Verwoord dit deur dít wat jou lief gemaak het vir jou maat, met hom/haar te bespreek. Skryf dit op notas, praat daaroor, roep herinneringe op, noem dit en maak seker jou maat weet dit.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.livingwellspendingless.com.