Bipolêre depressie is niemand se speelmaat nie. Dis ’n komplekse toestand en, indien dit nie reg verstaan word nie, kan dit individue én huwelike verwoes
Toe bipolêre depressie by Sonet Schutte gediagnoseer is, was dit vir haar en haar man (wat min van die siekte geweet het) ’n groot skok. Kort-voor-lank moes sy haar werk staak omdat sy nie kon konsentreer nie en gesukkel het met angsaanvalle.
Sonet vertel: “Ek het twee relapse fases waardeur ek gaan. Die een is depressie wat jou so aftrek na die donker dat jy selfmoordneigings en gedagtes kry. Ek het littekens op my arm waar ek myself skade aandoen deur myself te sny. Vir my is dit die enigste manier om ontslae te raak van die drukkende gevoel binne my. Bipolar neem jou hele brein oor, asook jou menswees, gedagtes en optrede. Vir my is dit die enigste manier waarop ék beheer kry.”
“Die tweede relapse is woede. ’n Woede wat in my opbou sodat wanneer ek in die spesifieke relapse ingaan, ek baie groot skade in die huis aanrig, aan myself asook teenoor my man. Ek sal dinge sê en doen teenoor hom, waaroor hy geen beheer het nie. Hoe meer hy probeer om my te kalmeer, hoe dieper gaan ek in die relapse in…” Ná elke relapse kom die skuldgevoel van jammerte en berou.
WATTER EFFEK HET DIT OP DIE HUWELIK?
Sonet vertel dat dit vir haar die ergste is om die seer en jammerte in haar man se oë te sien. “Vir my as pasiënt is daar medikasie om my gevoelens en denke in stand te hou, maar daar is geen ondersteuning vir hom nie. Vir hom is dit seer om die snye raak te sien en soms te moet behandel… om die woede in my te sien en hulpeloos te staan en toekyk. Hy het al gesê dit voel asof hy op ’n wit lyn loop omdat hy só versigtig moet wees vir wat hy sê en doen.” Hul sekslewe (wat drasties toeneem en dan weer afneem) ly ook hieronder.
Binne twee jaar was Sonet drie keer in ’n kliniek vir geestelik onstabiele pasiënte opgeneem. “’n Mens se lewensmaat moet geduld hê en baie ondersteunend wees, wat ook beteken hy mag om hulp vra wanneer nodig. Dis elke dag, uur en sekond ’n baklei teen dié siekte vir ons albei,” sê Sonet.
Gelukkig het sy ’n man wat moeite doen om die siekte te verstaan. “My man lees soveel as moontlik na oor die siekte. Na drie jaar doen hy steeds navorsing om dit te verstaan en om te weet wat om te doen as ek ’n relapse kry. Hy hanteer ook my medikasie vir my om seker te maak ek drink dit gereeld. Solank as wat ek my medikasie drink, kan ek amper ’n ‘normale’ lewe lei. My man gee vir my ontsettend baie liefde, want ek voel baie gou onseker van myself. Ek hou ook ’n joernaal waarin ek al my gedagtes neerskryf. Dis ’n manier van genesing. Ek gee met tye vir my man die joernaal sodat hy my en die siekte beter kan verstaan.”
Trix O’Callaghan, berader en sielkundige van Johannesburg, sê dit is beslis nie maklik om saam met iemand te leef wat aan bipolêre versteuring ly nie.
Sy gee die volgende wenke:
- Indien moontlik, leer die behandelende psigiater ken en wees beskikbaar om aanvullende inligting te verskaf en ondersteuning te gee tydens behandeling.
- Moedig die lyer aan om die behandeling deur te voer en om eerder bekommernisse (soos newe-effekte van medikasie) met die behandelende dokter te bespreek in plaas daarvan om die medikasie te stop.
- Leer ken die waarskuwingstekens vir maniese episodes of depressie. Wanneer die persoon stabiel is, beplan saam hoe toekomstige episodes hanteer gaan word. Kom ooreen oor veiligheidsmaatreëls, soos onthouding van kredietkaarte en motorsleutels ingeval van maniese episodes. Hou rekord daarvan. Leer ken die waarskuwingstekens van selfmoord en neem dreigemente ernstig op. Hospitalisasie kan lewens red ingeval van onbeheerbare maniese episodes of selfmoordrisiko’s.
- Bou ’n ondersteuningsnetwerk. Vra ander gesins- of familielede om jou af te los met die versorging van die pasiënt. Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep om inligting uit te ruil en om die siekte beter te verstaan en bemagtig te voel. Moedig ook die pasiënt aan om hulle siekte self te bestuur en respekteer hulle wense so ver as moontlik.”
Dis ’n siekte wat ernstig opgeneem moet word en jy as huweliksmaat het alle ondersteuning nodig wat jy moontlik kan kry. Met die regte bystand, kán ’n huwelik bipolêre depressie oorleef.
Deur Lize Groenewald