VANDAT ’N MAN DIE DAG AGTERKOM SY PENIS IS NIE NET DAAR VIR FUNKSIONALITEIT NIE, BEGIN JY AAN HOM DINK AS JOU BESTE MAATJIE. (EKSKUUS: JOU BESTE MÁÁT.) ONAFSKEIDBAAR. ’N BRON VAN EINDELOSE PLESIER EN TROTS.

Promosie

En ’n bietjie weerloosheid ook. Jy pas hom met jou lewe op. Krieketspelers druk spesiaal ontwerpte beskermers voor by hulle broeke in sodat hulle beste vriend (en hul vroue s’n) nie dalk raak gegooi word nie. En ’n rugbyspeler in ’n losskrum hou dadelik sy “juwele” met albei hande toe sodat hulle nie per ongeluk, of doelbewus, raak getrap word nie. Maar weet jy regtig soveel van dié deel van jou anatomie as wat jy dink?

Vroeg in die môre

Dis nou die geroemde morning glory waaroor jy en jou skoolmaats destyds simpel grappies loop en maak het, soos dat dit die natuur se manier is om seker te maak jy rol nie in die nag van jou bed af nie. Álle laaities worstel hiermee; dit begin gewoonlik op daardie ouderdom wanneer die ruigtes in jou lendene begin rank. Die rede: Mans is vroegoggend op hul vrugbaarste en jou lyf sorg daarom dat jy met die wakkerword-slag reeds hiper-paraat is. Oggendseks is hemels, maar as jou vrou vroeg uit die bed spring omdat sy moet gaan toebroodjies maak en vere voel vir die reg-vir-aksie ereksie, sit jy met ’n netelige probleem: Hoe raak jy nou van daardie hardnekkig ereksie ontslae? Dit kom self reg nadat jy badkamer toe was, maar dis ook nie altyd só maklik nie. Al ooit probeer om uit ’n handstaanposisie te urineer?

Promosie

’n Ongenooide gas

In jou latere skooljare en tydens jou eerste jare by die werk trek jou penis jou dikwels ’n lelike streep: Jy kry om geen besondere rede nie ’n menéér van ’n ereksie, ’n stewige knop wat almal gaan sien – nie almal sal met ’n beleefde glimlag anderpad kyk nie. En ’n man het nie altyd ’n boek of iets om die nodige mee toe te maak nie. Die kwaai tannie by die ontvangstoonbank mag jou dalk skeef aankyk (jonger ontvangsdames aanvaar dit soms as ’n kompliment). Gaan kyk in ’n onderklerewinkel vir mans. Daar is deesdae onderbroeke beskikbaar wat spesiaal ontwerp is om jou ereksie in toom te hou sonder om fisieke ongerief te veroorsaak.

Jou penis word saam met jou oud

Studies bewys dat ’n man se penis mettertyd sensitiwiteit verloor, hoewel dit moeilik is om te sê hoeveel. Die sensitiwiteit van die penis word bepaal deur hoe min (of hoe baie) stimulasie ’n man deur sy penis kan voel. Dit word die “sensoriese drumpel” genoem. Sensitiwiteit begin reeds op 25 jaar afneem. Die grootste afname is tussen die ouderdom van 65 en 75 jaar. Dis nie so duidelik of mans, wanneer hulle ouer word, regtig bewus is van die afname van die sensoriese drumpel nie.

Hoekom krimp jou penis en testikels wanneer dit koud is

Jou spermselle word in jou testikels vervaardig, reg? En dié mannetjies moet teen presies die regte temperatuur geberg word, anders sterf hulle. Indien jou “juwele” nat word en dus koud kry, of sommer net op ’n lekker koue dag, word die geslagsdele styf in die man se onderlyf opgetrek sodat sy liggaamshitte kan sorg dat die selle nie té koud word nie. In warm weer sak die spulletjie weer af sodat die spermselle nie té warm kry nie.

Daar is meer as wat jy dink

Die meeste van ons sal trots wees om te hoor dat ons penisse twee keer so lank is soos wat dit lyk. Die helfte van die lengte van die penis is binne-in jou pelvis “versteek” en aan die pubiese been vasgeheg. Dis soos ’n boom of lamppaal of ysberg: There’s more to it than meets the eye.

Boom-boom boemerang

Nog ’n aardigheid: ’n Erekte penis kurf effens na bo en is dikwels soos ’n boemerang gevorm (volgens verskeie studies). Ná ’n paar oproepe na my rolbalpelle is daar konsensus dat die betrokke navorsingsbeampte hom in hierdie geval aan effense oordrywing skuldig maak en waarskynlik nie regtig weet hoe ’n boemerang lyk nie. Maar indien jy wel onder die boemerang-bende val: Daar is niks met jou outjie verkeerd nie. Sommige van ons kurf net so ’n bietjie meer as ander. En penisse is soos mense: Variety is the spice of life.

 

Deur JB Roux

Addisionele bronne: www. webmd.com, www.likes.com.