Gedink ’n bier, braaivleis en ’n boep is wat van jou ’n ware man maak? Dink weer…

Promosie

Die definisie van ’n “ware man” het deur die eeue verander. Noudat jy nie meer die bok gaan jag met jou spies en jou vrou aan haar hare rondtrek nie, geld ander reëls. Weet jy wat dink vroue is regtig manlik? Ons gee jou ’n verkorte definisie van ’n ware man soos gesien deur die oë van volbloedvroue…

  1. ’n Ware man weet hoe om ’n vrou soos ’n ware vrou te laat voel deur haar te respekteer en te aanvaar vir die ongelooflike skepsel wat sy is – en dit sluit in haar skoonheid (innerlik en uiterlik), haar emo­sies (goed en sleg), haar verstand, vaardighede en talente.
  2. ’n Ware man is ’n gebore leier én ’n gebore volger. Hy weet wan­neer om beheer te neem sodat sy gesin veilig voel in sy teenwoor­digheid, maar hy volg ook met eerbiedigheid die leiers in sy lewe (en die gebooie en wette wat daarmee saamgaan).
  3. ’n Ware man is ’n beskermer. Iemand wat die mense in sy lewe fisiek, emosioneel en geestelik laat veilig voel deur dit wat hy doen, sê en nastreef. Hy skroom ook nie om in nederigheid te bid vir sy gesin se sekuriteit nie.
  4. ’n Ware man besef dat ’n sin vir humor een van die belangrikste eienskappe is wat hy ooit sal besit.
  5. ’n Ware man het respek vir die wêreld om hom en die mense daarin. Hy verdra nie rassisme nie en gebruik nie woorde soos “sissie” en “moffie” nie. Hy probeer herwin as hy kan en hy leer sy kinders om ook respek te hê vir God se skepping – van die kleinste miskruier tot die wreedste leeu.
  6. ’n Ware man is trots genoeg om homself, sy besittings en sy werk op te pas, maar nie te trots om hulp te vra as hy dit nodig het nie.
  7. ’n Ware man is iemand op wie jy kan staatmaak. Hy doen wat hy sê hy sal, wanneer hy sê hy sal en staan die mense in sy lewe by – in goeie tye en in slegte tye, deur dik en dun.
  8. ’n Ware man het ambisie. Hy streef sukses na, nie om daardie rooi sportmotor of wildsplaas te besit nie, maar om te voorsien in die behoeftes van die mense wat hy liefhet.
  9. ’n Ware man kies sy familie bo sy vriende. Hy weet dat vriendskappe noodsaaklik is in sy lewe, maar ook dat bloed dikker is as water, en neem sy besluite dienooreenkomstig.
  10. ’n Ware man skrik nie vir spinnekoppe, vismotte en spoke nie. Ook nie vir vuil doeke, “bytjies en blommetjies”-gesprekke, sy vrou met haar masker op haar gesig en sy dogtertjie se kwaai balletjuffrou nie.
  11. ’n Ware man lýk soos ’n man. Hy dra nie oormatige juwele nie, skeer nie sy beenhare nie en laat Brazilian nie sy hare nie. Maar ’n ware man weet ook dat onver­sorgde naels en liggaamsreuke allesbehalwe manlik is.
  12. ’n Ware man het nie noodwendig hope klere in sy kas nie, maar wel die regte klere in sy kas, sodat hy voorbereid kan wees vir enigiets – van ’n niggie se skielike troue tot die skool se sportdag.
  13. ’n Ware man se ruimte lyk nie soos ‘n bachelor pad nie. Hy is groot ge­noeg om nie van sy vrou te verwag om sy pizzabokse en leë bierbottels agter hom op te ruim nie, maar dit self te doen.
  14. ’n Ware man gee sy kinders die vry­heid om te wees wie hulle bedoel is om te wees. Hy stel sy kinders bloot aan soveel dinge moontlik, maar respekteer hul keuses omdat hy weet hulle is nie ’n mini-weergawe van homself nie, maar wesens in hul eie reg.
  15. ’n Ware man is nie ’n grootbek nie. Hy hoef nie te wýs dat hy macho is nie omdat hy weet almal kan dit sien.
  16. ’n Ware man staan op vir die waarheid. Hy glo dat geregtigheid moet seëvier en verdra nie misdade nie – veral nie teen vroue, diere, oumense en kinders nie. Hy lieg nie en sal nooit sy vrou verkul nie. Hy doen dit net nie.
  17. ’n Ware man is ’n rolmodel vir sy kinders. Hulle kyk op na hom in liefde en leef nie uit vrees vir hom nie. Hy lig hulle op en dra hulle op sy skouers, maar is ook mans genoeg om af te buk en hul veters vas te maak.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: askment.com, chad­howsefitness.com, success.org

Promosie