Om die een of ander rede dink verliefdes dat die liefde genoeg is. Miskien is dit as gevolg van romcoms en gesegdes, maar ongelukkig is dit ’n gewaarborgde manier om enige paartjie met sterre in hul oë góéd aarde toe te bring. Beplan dus tydens jou verlowing reeds vir ’n suksesvolle huwelik!

Promosie

Hoe jou idee van jou perfekte maat ook al lyk en ten spyte van die feit dat jy voel jy het die jackpot geslaan, die huwelik gaan soms sy uitdagings hê en jou maat gaan jou verras – ten goede en soms nié. En in daardie eerste jaar (van jul troudag tot jul eerste herdenking) gaan julle mekaar beter leer ken – en nie altyd hou van wat julle ontdek nie!

In sy e-boek iVow: Engaged couples edition skryf Dave Willis (stigter van StrongerMarriages.org en medestigter van OneBigChurch.com) dat wanneer julle besig is om jul troubeloftes te skryf, jy mooi moet dink, want jy maak daardie belofte élke dag. Jy belowe dat jy elke oggend sal opstaan met hernude toewyding om die beste en lojaalste maat te wees. Jy belowe dat jy sal instem om jou unieke, God-gegewe rol as man of vrou na die beste van jou vermoë te vervul. Hierdie belofte het nie ’n vervaldatum of ’n nooduitgang nie! In die woorde van Dave: “Love, but its very nature, is more of a commitment than a feeling. It’s more of an action than an attraction.”

STAP 1: WEES (EN BLY) OP DIE VERDEDIGING

Promosie

Die duiwel is listig en niemand word gevrywaar teen huweliksprobleme nie. Julle voel dalk nou onuitwisbaar, maar julle is in werklikheid baie kwesbaar. Bly julle tans saam terwyl julle hierdie huwelik beplan? Moenie glo dit julle vrywaar van behoorlike huweliksbeplanning nie. Verskeie studies (insluitende ’n boek deur Mike en Harriet McManus, Living together: Myths, risks and answers) toon dat ongeveer 67% van paartjies wat voor die huwelik saambly, uiteindelik in die skeihof beland.

Geen huwelik kan slaag as die individue binne daardie verhouding nie self volwasse, liefdevol, onselfsugtig, vergewensgesind en selfversekerde individue is met ’n behoorlike begrip van hul verwagtinge en behoeftes nie.

STAP 2: VIND UIT WIE JY IS EN WAT JY WIL HÊ

Maak twee lysies – een wat al die eienskappe, waardes en kwaliteite het wat vir jou ononderhandelbaar is. Dinge waarsonder jy nie kan klaarkom nie. Dit kan goed wees soos: “Hy móét lief wees vir diere” of “Hy moet begrip hê vir die feit dat ek wil werk”.

Maak nou ook ’n lysie van alles waarmee jy nie sal kan saamleef nie, soos ontrouheid, ’n man wat elke aand drink of iemand wat voortdurend ’n negatiewe gesindheid het. Hou die lysie nou byderhand sodat jy kan byvoeg waar jy voel dit is nodig.

Probeer om jou maat heeltemal uit die prentjie te laat wanneer jy dink aan dit wat jy in jou huwelik wil hê en dit wat jy nié wil hê nie. Wanneer jou lysie klaar is, vergelyk jou maat aan die hand daarvan.

STAP 3: BESPREEK JOU VERWAGTINGE

Hoe vaar jou maat as jy na jou lysie kyk? Wees eerlik met jouself: Dink jy jy gaan hom verander? Hoop jy dat hy wel sal grootword? Of dat hy sal leer om jou in ag te neem? Kyk na sy foute en besef dat hulle wel groter kan word. Gaan jy daarmee kan saamleef? Die besluit wat jy nou neem, moet in die beste belang van jou toekomstige gesin wees – nie net jouself nie.

Teen dié tyd het julle waarskynlik al heelwat beleef – stresvolle situasies sowel as uitdagings. Vertel jou maat wat jy van hom en van jul huwelik verwag. Bespreek finansies, kinders, geloof, loopbane en rolverdeling binne jul huwelik. Kyk na waar julle nou bots – dit gaan waarskynlik in die toekoms weer gebeur. Is julle verskille versoenbaar? Woon voorhuwelikse berading by. En een van die belangrikste wenke… wees oop en eerlik. Moenie jou beste voetjie probeer voorsit net om ’n goeie indruk te probeer skep nie – dit gaan moeilik wees om hierdie indruk voor te hou vir die res van jul lewens!

STAP 4: STEL ’N PLAN VIR DIE JAAR OP

  • Skryf ’n visie vir jul huwelik neer. Kies ’n teksvers wat beskryf hoe jy graag wil hê jou huwelik (en later jou gesin) moet funksioneer. Evalueer jul huwelik later van tyd tot tyd aan die hand van jul visie en hersien indien nodig.
  • Tyd is ’n dief. Kry dus nou reeds ’n kalender en teken date nights aan vir die res van die jaar (jul eerste jaar as getroudes).
  • Vestig nou ook reeds goeie gewoontes, byvoorbeeld om saam te oefen. Dis ’n goeie stresverligter – veral gedurende dié tyd. Deur saam ’n passie vir jul gesondheid te ontwikkel, begin julle die huwelik op ’n goeie noot.
  • Stel ook ’n finansiële plan op met ’n begroting waarop julle albei ooreenkom. Kyk hierna vanuit ’n toekomsgedrewe perspektief – beplan vir die lange duur.
  • Skryf sommer ook jul drome neer. Het jy nog altyd daarvan gedroom om die Amasone plat te trap? Kyk of julle dit by jul finansiële beplanning kan inwerk. Wil hy eendag hê sy kinders moet ’n goeie opvoeding hê? Kyk nou na opsies vir studiepolisse. Werk saam daarheen om mekaar se drome waar te maak en begin vandag reeds met ’n aksieplan daarvoor.

STAP 5: LEES 1 KORINTIËRS 13:4-7 MET AANDAG EN LEER WAT LIEFDE IS

Sit een aand opsy, kom bymekaar en lees 1 Korintiërs 13:4-7 met aandag. Hier is soveel om te leer wat julle kan voorberei vir ’n suksesvolle huwelik. Die liefde is geduldig, so wees geduldig met mekaar. Die liefde is nie trots nie, so moenie toelaat dat trots jul liefde bevlek nie. Die liefde soek nie sy eie belang nie, so plaas jou maat s’n vóór joune. Die liefde word nie kwaad nie, so moenie woede in jul verhouding toelaat nie. Die liefde hou nie rekord nie, so laat jou genade vrylik vloei. Die liefde floreer in die waarheid, so moenie geheime van mekaar weerhou nie. Die liefde beskerm en hou uit, so moenie moed verloor met mekaar nie. Weet nou al wat ware toewyding beteken: Dit is om jou maat onselfsugtig te dien en sy/haar behoeftes bó jou eie te stel.

As beide partye bereid is om dit te doen, sál jul huwelik floreer!

 

Deur Annelize Steyn