Manlief wil en jy wil nie? Jy weet dit het lank gelede gebeur en vanaand is dit sulke tyd, maar jy kan nie jou libido aandraai nie. Hier is jou aksieplan om in die bui te kom.

Promosie

Een van die hedendaagse probleme is nie net die gejaagde lewenstempo nie, maar ons word vasgevang in ’n roetine, hetsy dit werk is, as vrou of as ma. Dikwels is vrouens bloot nie in die bui nie omdat hulle nie sexy voel nie. Reconnect met jou sensualiteit, verander jou denkwyse oor seks (sien dit as ’n bederf vir jou ook, nie net vir hóm nie). Die bevrediging kan bevrydend wees en sodoende kan jy en jou maat mekaar herontdek en sal jy spontaan meer in die bui wees vir bedpret.

ELKE DAG: Dít kan jy doen . . .

Oefening maak jou meer energiek en ontvanklik vir seks. Dit stimuleer die vervaardiging van endorfiene, die natuurlike chemikalieë in die liggaam wat pyn in die senuweestelsel teenwerk. ’n Goeie lagbui stel ook endorfiene vry. Dit veroorsaak ’n euforiese gevoel of natuurlike high. Daarom is oefening in alle opsigte goed vir die liggaam, gees en gemoed. Dis ’n goeie gewoonte om daagliks te oefen (al stap jy net elke dag vir dertig minute), want dit gee jou endorfienvlakke ’n ekstra hupstoot. Jy sal boonop kalorieë verbrand, gewig verloor en terselfdertyd verbeter dit jou selfbeeld, wat jou sal aanspoor om van nog ’n paar kalorieë tussen die lakens ontslae te raak. Tydens seks verhoog die hormoon oksitosien, die sogenaamde “liefdeshormoon”, wat jou en jou maat help om vertroue en ’n beter verhouding te bou.

Promosie

Ons lewenstyl vandag laat dikwels te min tyd toe vir slaap en dit dra by tot ’n verlaagde seksdrang. Maak seker jy slaap genoeg, want sodoende verhoog jy jou energievlakke, vind selvernuwing plaas, verbeter jou bui en voorkom jy gesondheidsprobleme. Min slaap beïnvloed emosionele regulering en selfbeheersing en die laaste prioriteit is dan pret in die bed! Met genoeg slaap omskep jy jouself in ’n slapende skoonheid en kikker dit jou gemoed op vir meer avontuur in die slaapkamer.

ELKE WEEK: Dít kan jy doen . . .

Daar is verskeie gewoontes wat kan help om jou libido aan te wakker. Aktiwiteite wat spanning verlig, soos meditasie (let veral op die korrekte asemhalingstegnieke), joga en rumba is van die opsies. Of ontspan met ’n glas wyn (ja, net één – meer beïnvloed jou vermoë om ’n orgasme te bereik), rustige musiek of ’n goeie boek. Let ook op na jou eetgewoontes en vermy liefs verfynde koolhidrate, junk food en te ryk kosse. Om jou te ooreet, gaan beslis ook nie enige gunste aan jou seksdrange bewys nie!

DIE DAG VOORAF: Dít kan jy doen . . .

Eers was daar net pedi- en manikure en alhoewel dit steeds ’n puik idee is vir ’n vooraf verfraaiing (niks is meer onweerstaanbaar as ’n goed versorgde vrou nie), is die Vajazzle iets meer kreatief in die moderne tye waarin ons ons bevind. Dit is natuurlik nou nádat jy mooi al die haartjies gewaks het: Armholtes en/of bene, ongewenste gesighaartjies en skaamhare. As jy waaghalsig is, laat dit in ’n hartjie of mooi vorm waks of kleur dit. As jy nie ’n bang haar op jou kop het nie, laat waai Meraai en verwyder alles. Dán besoek jy die salon vir ’n bietjie glam daaronder. Besoek gerus ’n Vajazzle-salon wat Swarovski kristal-tattoes aanbring vir versiering. Deesdae kan jy jouself boonop bederf met ’n Vajacial – ja, jy het reg gehoor, dis ’n facial vir jou skaamdele! Dit moet liefs so vyf dae na jou bikini-waks gedoen word. Met dié prosedure word die area gereinig, afgeskilfer en alle (ingroei) haartjies word verwyder. Daarna word dit bevogtig en ’n masker aangewend. Dan is dit winkel toe vir ’n nommertjie wat jou goed en sensueel laat voel – skaf gerus ’n paar sexy onderkleertjies aan. Onthou, dit waarvan jý hou en waarin jý gemaklik is. En ’n paar gewaagde stiletto’s is sekerlik nie te versmaai nie! Laastens, belê in ’n goeie silikoon-gebaseerde smeermiddel.

AGT URE VOORAF: Doen die volgende . . .Bederf jouself van vroegdag af en trek sexy onderklere onder jou klere aan. Dit is jou geheim (of stuur solank ’n foto na jou man se selfoon) en dra by tot die opwinding van vanaand. Laat stileer jou hare as jy voel die vere maak die voël. Stuur deur die loop van die dag ’n paar verleidelike boodskappe vir jou man om solank sy belangstelling te prikkel. Skaf ’n paar geurige kerse aan, dit skep altyd ’n romantiese atmosfeer. Masseerolie, romantiese musiek, heerlike vars linne, yskoue wyn en sjokolade voltooi die prentjie.

’N UUR VOORAF: Doen die volgende . . .Bederf jouself met ’n heerlike skuimbad. Beklemtoon jou ander sexy eienskappe deur byvoorbeeld klem te lê op jou ooggrimering en lipglans aan jou vol lippe aan te wend. ’n Titseltjie parfuum op jou polse en aan die agterkant van jou knieë sal nie jou feromone versteek nie en hom rasend maak. Alhoewel die brein die grootste seksorgaan is, moenie die waarde van sintuie tot seks onderskat nie. Sekere reuke beïnvloed die vervaardiging van feromone. Vanielje help om spanning te verlig. Laventel blyk ’n turn-on te wees, so dit kan dalk die keuse van jou masseerolie wees.

Aphrodisiac-kosse soos vye, piesangs en avokadopeer verskaf belangrike vitamiene, wat bloedvloei na die geslagsorgane bevorder. Kakao in sjokolade bevat phenethylamine, wat ’n endorfien-boost veroorsaak sodat jy meer plesier ervaar. Ander opsies: Heuning, neute, aspersies, aarbeie, wortels, mostert, pynappel, amandels, gemmer en oesters.

MINUTE VOORAF: Doen die volgende . . .’n Bietjie onvoorspelbaarheid kan die ervaring meer intens maak. Kyk gerus na ’n sensuele fliek waarvan julle albei hou. Dalk het julle dit jare gelede gesien en nooit klaar gekyk nie. Stel ’n “reël” vooraf in plek – hy mag (vir eers) nie aan jou raak nie. Hou jou broekie aan en terg hom bietjie. Streel sensueel oor jou lyf. Begin by jou nek en verken die pad af na onder waar jou hande tot rus kom. Sexy musiek wakker nie net gehoor aan nie . . . Terg hom met jou lippe en veersagte soene. Jou lippe is sensitief vir aanraking, laat hom gerus proe aan jou aarbeigeur lipglans.

Dit ís moontlik en belangrik om weer te reconnect, vir jou om weer sexy te voel en om selfs die selfvertroue te hê om die initiator te wees in die slaapkamer. Seks is nie ’n “werk” nie, dit verskaf plesier en versterk die intimiteit tussen jou en jou maat. Gaan gerus voort en verken vrylik en geniet passie tussen die lakens (en een van die dae onder die komberse voor ’n gesellige kaggelvuurtjie)!

 

Deur Yolanda Wessels

Addisionele bronne: www.medicinenet.com en webmd.com