Stel jou voor dat jou huwelik ’n potplantjie is — een wat nét met die regte hoeveelheid water, lig en sorg floreer. Wel, kenners meen dat die liefde wel só is en dat jul huwelik met die regte elemente altyd immergroen sal wees!

Promosie

Vir diegene onder ons wat met groen vingers geseën is, is dit goeie nuus. As jy egter sukkel om selfs ’n kaktus aan die lewe te hou, raak jy waarskynlik benoud. Moet jou egter nie te veel bekommer nie. Daar word nie verniet gesê dat die liefde ’n wilsbesluit is nie. Vir jou huwelik om na wense te groei, het jy nie enige spesiale talente nodig nie, mits jy bereid is om moeite te doen!

Wie kan die toneel uit die fliek How to Lose a Guy in 10 Days vergeet waarin Andie ’n plantjie aan Ben gee en later by sy woonstel ontdek dat die plantjie nie meer groen is nie. “Our Love Fern! You let it die!” roep sy dan geskok uit en vra: “Are you going to let ús die?” Ben antwoord desperaat: “No honey, it’s just sleeping…” maar sy verweer help nie veel nie.

Wel, as die huwelik slegs in die sorg van manne soos Ben was, was die Suid-Afrikaanse egskeidingsyfer waarskynlik selfs hoër as die huidige 70% waarop dit tans staan. Gelukkig het elke huwelik twéé versorgers en kan julle mekaar aanvul waar die ander een tekortskiet.

Promosie

Die tuiniersgilde in Engeland meen dat die eienskappe van ’n goeie tuinier ervaring, gereedskap, ’n lisensie en identifikasie insluit. As jy in ’n liefdevolle Christen-huwelik is, het jy dit reeds alles. Hoe langer julle getroud is, hoe meer ervaring het julle. Selfs al is julle pasgetroud, kan julle uit ander se ervaring leer en behoort elke paartjie getroude rolmodelle te hê wat ’n gesonde huwelik aan hulle kan voorhou. Jou huweliksertifikaat is jou lisensie. As jy getroud is, het jy die dokumente wat jou die reg (en die bevel) gee om aan hierdie kosbare, kwesbare verhouding te kweek totdat jy dit onder die knie het. (Ons verskaf later ’n lys toerusting wat jy nodig het sodat jou plant kan floreer.)

Laastens, maar definitief die belangrikste – Christenskap gee aan jou die regte identifikasie om jou huwelik te laat werk. As die Skepper deel van jou en jou verhouding vorm, is die kanse skraal dat jul Love Fern dit níé gaan maak nie.

Geloof is soos son vir jou huwelik…

Een van die belangrikste bestanddele en voorvereistes vir ’n huwelik om te groei, is die teenwoordigheid van spiritualiteit. Heather Cardin, skrywer van die boek, Partners in Spirit: What Couples Say About Marriages that Work, noem die volgende perspektief in haar hoofstuk oor spiritualiteit binne die huwelik. In Ovidio Gomez van Honduras se woorde: “Elke keer wat ek nader aan God voel of voel dat ek spiritueel groei, ervaar ek meer liefde en wil ek nader aan my vrou, Coral, wees.”

Nog ’n paartjie, Ginny en Greg Kintz, Amerikaners wat tóé in Afrika gewoon het, sê: “Fundamenteel werk ons huwelik, want ten spyte van verskille in ons individuele belangstellings, loopbaankeuses, gewoontes ensovoorts, het ons ’n gedeelde visie van ons doel in die lewe. Die ‘driehoek-analogie’ is só waar in ons huwelik. Dit is die illustrasie waarin God die apeks van die driehoek is en die ander twee punte die huweliksmaats verteenwoordig. As die maats individueel nader aan God beweeg, is die eindresultaat dat hulle nader aan mekaar beweeg.”

… En seks is soos water!

’n Geslaagde huwelik is ’n rariteit, gesien teen die huidige egskeidingsyfer. Wanneer ’n mens ’n suksesvolle huwelike wil definieer is dit makliker om na dinge te kyk wat ’n huwelik laat misluk as na dinge wat ’n huwelik laat slaag. Franscis K. Githinji, ’n aanlynafspraakkenner, meen dat ’n huwelik wat slaag aan ’n paartjie ’n lewenslange viering van hul liefde bied en dat seks ‘n broodnodige bestanddeel hiervan is.

“’n Huwelik wat slaag, bevat seks as nommer een prioriteit,” meen hy. “’n Tekort aan seks in die huwelik is ’n groot bedreiging. ’n Sekslose huwelik is ’n aanduiding dat dinge nie lekker is nie. Hoewel paartjies graag sou wou argumenteer dat dit nie net oor seks gaan nie, verskil ek sterk hiervan. Julle kan dalk baie goeie vriende in ander opsigte wees, maar die waarheid is dat een of albei van julle selfsugtig is. Wanneer jou maat seksueel toenadering soek, behoort jy – om die huwelik se onthalwe – hom of haar nie te weier nie. Jy voel dalk nie lus daarvoor nie, maar as jy heeltemal betrokke is, sal julle albei in die genot deel.”

Vermy peste en onkruid

Daar is nie plek vir derde partye in jou huwelik nie. Ja, uiteraard sluit dit die begeerlike een by jou werk, die aantreklike reisagent wat al manlief se reisreëlings tref en die enkellopende, sexy pappa by jou kind se kleuterskool in. Dit weet jy dalk, maar besef jy dat dit soms ook partye insluit wat nie seksueel ’n negatiewe invloed op jou huwelik kan hê? Die vriendin wat al jou vrye tyd opeis en altyd ’n skouer nodig het om op te huil – in so ’n mate dat jy nie eers agterkom dat manlief daardie einste skouer nodig het nie. Of sy vriende wat hom met hul dronkpraatjies vertel dat die huwelik eintlik hel is, dat jy Lucifer is en dat hy so gou as moontlik uit die brandende vlamme moet probeer ontsnap. Of jou familie met wie jy net nie die bande kan sny nie.

Onthou dat wanneer jy getroud is, jy en manlief jul eie gesin vorm. Moenie toelaat dat ouers, skoonouers, sussies, skoonsussies, swaers en broers jou huwelik oorheers nie. Om te groei en jul eie gesinsdae, vakansietradisies en rituele te vestig, moet julle die kans gegun word om asem te haal en die ruimte gegun word om dit tot uitvoer te bring.

Die werklikheid is dat dit dikwels nie die familie of die skoonfamilie is wat inmeng nie, maar jy of manlief wat sukkel om van die rokspante afstand te doen. Jy het dus ’n mate van beheer oor die indringerplante wat jul Love Fern kan beskadig.

Die tuintoerusting wat jy benodig

Daar is sekere dinge waarsonder jy nie kan klaarkom as jy ’n plantjie kweek nie. Sielkundiges, huweliksberaders en gelukkig getroude paartjies is dit eens – wat jy insit, sal jy uitkry. Jy het kennis en toerusting nodig. Hier is 22 belangrike elemente van ’n suksesvolle huwelik:

1. ’n Positiewe ingesteldheid

’n Paartjie wie se huwelik werk, leef aan die sonkant. Gee jou huwelik die vitamien D wat hy nodig het deur ’n sonskynfilosofie te deel en saam na gesonde ideale te streef.

2. Vriendskap, respek en liefde

Groei is onafwendbaar. Wanneer jy trou (jou Love Fern aanskaf) is alles klein, jonk, perfek en sonder enige teken van ’n swam. Sorg dat julle na mekaar toe groei. Jul vriendskap moet sterker word, jul respek vir mekaar meer en jul liefde inniger.

3. Gedeelde belange en aktiwiteite

In die natuur staan geen plant alleen nie. ’n Plant vorm deel van ’n ekosisteem en klimaat waarbinne hy floreer. Jy en jou maat hoef nie noodwendig om mekaar te rank nie, maar om te leef sonder dat julle takke mekaar ooit aanraak, is ongesond.

4. Genot in mekaar

Jy koop jou Love Fern nie onder dwang nie, maar omdat jy glo dat dit vir jou vreugde gaan verskaf. Moet dus nie voortdurend oor jou huwelik kla en jouself as “vasgevang” beskou nie. Geniet jou maat en die spesiale verhouding wat jy gekies het.

5. Betroubaarheid en eerlikheid

As jy doen wat jy moet, sal jou Love Fern floreer. Dit is omdat ’n plant betroubaar is. Jy moet op jou maat kan staatmaak. Julle moet weet waar julle met mekaar staan en mekaar soms op ’n eerlike, dog taktvolle manier kan vertel hoe sake staan, sonder om mekaar seer te maak.

6. Interafhanklikheid

Elke paartjie behoort interafhanklik te wees. Hy kan dalk finansieel vir jou sorg en aan jou sekuriteit bied, wat jou in daardie opsig van hom afhanklik maak, maar dit beteken nie dat hy nie jou sagtheid en koestering nodig het nie – dit is wat hom weer van jou afhanklik maak.

7. Trotsheid op mekaar

As jou Love Fern floreer, is jy trots op jou pragtige plantjie. In ’n suksesvolle huwelik is ’n paartjie trots op mekaar en wat hulle elkeen in die huwelik bereik. Hulle gee vir mekaar komplimente en bou mekaar op. Só ’n paartjie is ook geïnteresseerd in mekaar se werk en respekteer dit.

8. Opwinding midde-in roetine

In ’n suksesvolle huwelik doen ’n paartjie moeite om vervelige roetinetake lekker te maak. Dit is wanneer julle saam kar was en mekaar met die tuinslang natspuit of hy jou help om die skottelgoed af te droog.

9. Realistiese doelwitte

Jy weet dat hy waarskynlik nooit vir jou ’n strandhuis in Tahiti sal kan koop nie en hy weet dat jy nooit sy droom DIY-assistent gaan wees nie… en dit is okay so. Julle erken mekaar vir wie julle is en jul doelwitte is haalbare teikens.

10. Begrip vir probleme

Wanneer jou Love Fern bleek word, gooi jy hom nie summier in die asblik nie, maar jy kyk eers wat jy kan doen om hom te red, nie waar nie? In ’n gesonde huwelik sien ’n paartjie elke probleem as ’n uitdaging en nie as ’n doodloopstraat nie.

11. Finansiële begrip

As platsak student gaan jy nie sommer ingevoerde orgideë kweek nie. Net so kan jy in jou huwelik ook nie van jou maat verwag om vir jou ’n sesslaapkamer-kasteel met sy eerste salaris te begin afbetaal nie. In ’n huwelik wat werk, het ’n paartjie begrip vir mekaar se finansiële vermoëns.

12. Oplossing-ingesteldheid

As jy geneig is om te vergeet dat jou Love Fern gereeld moet water kry, gaan jy ’n reminder op jou selfoon stel of nota op jou yskas plak, nie waar nie? Net so werk dit in ’n huwelik. Goeie huweliksmaats weet waar hulle tekortskiet en doen moeite om daarvoor op te maak.

13. Egtheid en geloofwaardigheid

Wanneer jy ’n plantjie koop, wil jy nie by die huis ontdek dat die blare van plastiek is nie. Net so is vennote in ’n suksesvolle huwelik ook egte mense met regte emosies, gevoelens en eerbaarheid – mense waarop jy kan staatmaak.

14. Dankbaarheid

As jy sien hoe ’n plantjie onder jou liefde en sorg floreer, laat dit jou tog beter voel. Jy weet jy kan ’n sukses daarvan maak en dit laat jou beter voel. As jy sien hoe dinge in jou huwelik vlot verloop en hoe gelukkig jou maat is, kan jy weet dat dit iets met jóú te doen het, en dit laat jou goed voel

15. Gesonde aktiwiteite

Net soos ’n plantjie het jy en jou maat ook die regte doepa uit die natuur nodig om gesonde mense te wees. As jy dit nie ter wille van jouself wil doen nie, sorg dan dat jy genoeg oefening, voldoende voeding en genoeg slaap inkry – ter wille van jou maat.

16. Empatie en onselfsugtigheid

In ’n suksesvolle huwelik besef ’n paartjie dat dit nodig is om soms empaties te wees en aan mekaar se behoeftes te voldoen. Dit beteken dat jy in ag sal neem dat hy laat moes werk en dus nie van hom sal verwag om vir die baba op te staan nie. Hy weer, weet dat jy aan die einde van jou kragte is en bied aan om die kinders te bad.

17. Bereidwilligheid om te gee

In ’n suksesvolle huwelik weet die huweliksmaats dat dit lekkerder is om te gee as om te ontvang. Hulle gee onvoorwaardelike liefde, sorg, omgee en hulself – nie omdat hulle iets terug verwag nie, maar omdat hulle dit graag wíl doen.

18. Sensitiwiteit oor taai kwessies

’n Wyse paartjie is versigtig rakende sensitiewe kwessies en oorweeg die voor- en nadele goed. As manlief wil immigreer en jy nie daarvoor kans sien nie, sal goeie lewensmaats die saak oorweeg, dit goed deurtrap en alles in ag neem voordat ’n besluit geneem word.

19. Verdraagsaamheid teenoor familie

In ’n gesonde huwelik verdra ’n paartjie mekaar se familie, ten spyte van hul foute. Jy kan dalk nie sy pa hanteer nie en sy boetie, ’n regte afloerdertjie, gee jou die creeps, maar jy verdra hulle en doen moeite met hulle, ter wille van hom en jul huwelik.

20. ’n Sin vir humor

In ’n gesonde huwelik deel ’n paartjie ’n nie-destruktiewe en behoorlike sin vir humor. Hoe saai sal die huwelik nie wees as jy nooit met manlief ’n grappie kan maak of met ’n vonkel in die oog vir hom kan loer nie. Humor is noodsaaklik vir enige verhouding en daarsonder is die moeilike dae maar bra donker.

21. Tevredenheid met toegeneentheid

Vir hom is ’n piksoen per dag dalk genoeg, maar jy het veel meer nodig betreffende aanraking en drukkies. In ’n suksesvolle huwelik besef ’n man dat sy vrou dit nodig het om te floreer en pas hy ter wille van haar tevredenheid aan.

22. Fokus op die toekoms

Gelukkige paartjies fokus nie op foute uit die verlede nie, maar kyk na verskillende maniere om soortgelyke probleme in die toekoms uit te skakel. Hulle leer om mekaar vir hul foute te vergewe, te vergeet en aan te beweeg.

Wat sê God oor ’n groeiende huwelik?

Die huwelik was nie bedoel om gekompliseerd te wees nie en ’n gelukkige huwelik is binne bereik van bykans almal. “Dit is ook wat die meeste mense gelukkig en hul lewens die betekenisvolste, produktiefste en die mees bevredigende sal maak, omdat dit deel van God se plan vir die mensdom is,” skryf Maria Fontaine in haar Internet-artikel, Qualities of a good marriage.

Deur die volgende dinge te doen kan jy jou huwelik verder versterk:

  • Plaas God eerste en sluit Hom in elke opsig in. Dit is ’n spirituele wet dat alles in plek val as ’n paartjie Hom eerste plaas.
  • Wees onselfsugtig. Selfsug is die wortel van die meeste huweliksprobleme en ’n huwelik tuimel vinnig inmekaar as jy net aan jouself dink.
  • Wees bereid om probleme te erken en te snoei. Die meeste probleme wat huwelike laat faal, raak buite beheer, omdat paartjies nie gou genoeg daaraan aandag gee nie.
  • Goeie kommunikasie is noodsaaklik as ’n mens mekaar se behoeftes wil verstaan en daarop ag wil slaan.
  • Vergewe mekaar. ’n Bereidwilligheid om mekaar te vergewe, is die sleutel tot ’n gesonde, soliede huwelik. Wees bereid om jou maat om verskoning te vra en dit sal vir jou maat ook makliker wees om jou te vergewe.
  • Wees ondersteunend. Fokus op jou maat se goeie eienskappe, eerder as om hom of haar te verkleineer en te kritiseer.
  • Werk saam. Bespreek dinge en stem saam oor doelwitte en prioriteite. Die Bybel sê dat twee beter as een is.
  • Neem jou maat in ag. Deur mekaar se gevoelens, voorkeure en afkeure in ag te neem, sê jy op die oortuigendste manier: “Ek is lief vir jou”. Dit verlig ook spanning en speel klaar met wrywing.
  • Wys jou liefde. Soveel huwelike misluk weens ’n tekort aan toegeneentheid. Soms spreek aanraking, soen en drukkies harder as woorde. Dit is fisieke manifestasies van innerlike gevoelens.
  • Plaas ’n hoë premie op gelykheid. Dit beteken om mekaar by besluitneming, kinderopvoeding en finansiële en huishoudelike verantwoordelikhede te betrek, maar dit gaan ook dieper, naamlik oor waardering en respek vir mekaar, sodat elkeen se kragte na vore kan tree.
  • Bewonder jou maat. Verskerp jou waardering van die persoon met wie jy getrou het en kyk hoe hy of sy voor jou oë blom.
  • Reik uit na ander. Selfs al voel julle hóé gemaklik in mekaar se geselskap, het julle jul eie vriende nodig wat julle kan help om op mekaar te groei.
  • Wees optimisties. Min dinge kan ’n huwelik só onderkry soos pessimisme en om op die ergste te fokus en voortdurend te kla.

As jy jou toerusting mooi oppas, kort-kort hersien en gereeld diens, jou belangrikste elemente in ag neem, jou lisensie respekteer en jou identiteit behou, kan jy ’n tuinier wees wat jou huwelik snoei om die mooiste opbrengs na vore te bring. Moenie dink dat ’n suksesvolle huwelik net vir die “gelukkiges” beskore is nie. Die geheim is om die eie ek eenkant te skuif, op die vennootskap te fokus en die vennootskap as ’n brose instelling wat sorg nodig het, te beskou.

Werk dus aan groen vingers in jul verhouding en kyk hoe ’n immergroen huwelik voor jou oë ontvou…