Wanneer jy jou huwelik moet beskryf, kom die woord “so-so” by jou op? Die meeste huwelike gaan maar van tyd tot tyd deur ’n saai fase. Met dié driedag-pretplan kan jy weer jou huwelik se partytjieballonne opblaas!
Om saam pret te hê, is helium vir jou huwelik! Vir jou driedag-pretplan het jy ’n bietjie voorbereiding nodig. As julle meer die rekenmeester-tipe as die akteurspaar-tipe is, gaan julle effens uit jul gemaksone moet klim, maar byt vas – dit raak al makliker en die resultaat gaan só lonend wees. Jul grootste missie hierdie naweek is om soveel as moontlik saam te lag. Adam, vir voorbereiding moet julle iewers ’n wit jassie en ’n stetoskoop in die hande kry (gaan krap in die kinders se speelgoedkis vir laasgenoemde), asook ’n proper nurse outfit.
DAG 1 VAN JOU PRETPLAN:
Maak vroulief wakker in jou wit jassie en met die stetoskoop om die nek. Verklaar: “Mevrou De Waal, ek het slegte nuus. Jy het ’n vreeslike hoë koors en ek sal jou moet afboek vir die dag. Al wat jou gaan gesond maak, is bedrus.”
Gee vir haar ’n houertjie sweetheart-lekkergoed (die soort met die liefdesboodskappies op) as “voorskrifmedikasie” en bel haar baas met die nuus dat vroulief te siek is om werk toe te gaan vandag.
Eva, jy kan nou jou verpleegster-uitrusting gaan aanglip en dis jou beurt om manlief volledig te “ondersoek”. Natuurlik is jou bevinding dat “dokter” nie in die nabyheid is nie en dat jy maar self ’n diagnose moet maak. Jy kan die ondersoek so ver voer soos jy wil (maak net seker die “hospitaalpersoneel” kom nie op julle af nie). Bel ook nou sy baas en verklaar dat jou man heeltemal te siek is vir werk.
Intussen kan jy sê: “Meneer De Waal, hier is jou voorskrif (’n botteltjie Chuckles), maar ek weet nie of dit die probleem gaan oplos nie. Ek los jou nou in die bekwame hande van ’n fisioterapeut.” Glip gou uit die kamer en trek ’n kort rokkie aan.
Wanneer jy terugkom in die kamer, maak seker jy bring ’n buisie smeermiddel en ’n vreemde aksent saam.
Teen eenuur is julle steeds in die bed en moeg gespeel! Maar die speletjies eindig nie hier nie. Vandag is julle op ’n suikerdieet! Dis nou tyd vir middagete en julle gaan mekaar voer. Neem vier wynglase en vul dit met die volgende: Liquorice Allsorts, Jelly Tots, M&M’s en Jelly Beans. Sit poedelkaal oorkant mekaar met die lekkergoed tussen julle op die bed en twee pare chop sticks!
Julle vra nou vir mekaar vrae oor julself soos: “Wat is my gunsteling chick flick ooit?” Of: “Wat was my beste pel op skool se naam?” Of: “Wat was my bynaam op varsity?” Of: “Watter land sal ek die heel graagste wil besoek?” Vir elke keer wat jou maat die vraag reg raai, mag hy ’n sweetie kry, maar jy moet dit vir hom voer met jou chop sticks.
Hopelik kan julle weer nie jul hande van mekaar afhou nie en sal dit vinnig hittig raak in die slaapkamer. Julle mag nou vir net een rede uit die bed klim – en dit is om ’n bietjie te gaan afkoel . . . gaan hol kaalbas deur die sproeiers in julle tuin (en hoop dat niemand julle sien nie!).
Terug in die huis, kan julle saam ’n lekker warm stort neem, jul nagklere aantrek en ’n stokou fliek soos Some like it hot of Gone with the wind kyk. As julle klaar is, moet julle een toneel uit die fliek kies om na te maak. Julle moet die aksente gebruik en dit probeer nadoen net soos die akteurs!
Teen sesuur is julle suikerdieet verby en julle kan uit die kamer gaan om te gaan kos maak – ontbyt in die bed! Maak jul gunsteling ontbyt – spek en eiers, omelette of muesli en jogurt . . . en eet dit in die bed (vermy maar liefs die koffie). Lees vir mekaar ’n slaaptydstorie en kruip vroeg in. Môre is ’n vol dag!
DAG 2 VAN JOU PRETPLAN
Maak mekaar wakker met ’n drie-minuut-lange soen! Ja, stel die stophorlosie en maak seker julle soen tot die drie minute verby is.
Maak mekaar se drome waar! Dis tog pret om te sien hoe jou maat homself of haarself geniet. Wanneer julle dus vanoggend wakker word, trek twee papiere en ’n pen nader. Elkeen kan nou ’n lys maak van pretdinge wat julle graag wil doen. Ruil lysies uit en kies een item op jou maat se lys. Skeduleer die aktiwiteite vir vanmiddag.
Vandag is jul uitdaging om mekaar te laat lag. Ons almal weet lag is die beste medisyne en kinders lag sowat 400 keer per dag, terwyl volwassenes net 15 keer per dag lag. Dis jammer, want ’n goeie lagsessie is nie net goed vir jou gesondheid nie – dit is goed vir jou huwelik ook.
Lag verlaag die bloeddruk, verminder stremming op jou hart, verbeter jou immuunstelsel en beskerm jou maag teen maagsere. En dit maak jou maer! Een minuut se lag is gelyk aan tien minute op die roeimasjien! En deur 15 sekondes per dag te lag, dra twee dae tot jou oorkoepelende leeftyd by. Vat só!
Lê kreatiwiteit aan die dag – kom uit die badkamer uit met ’n getekende snor bo jou lip. Trek jou T-hemp agterstevoor aan. Smeer jou grimering (met lipstiffie oor jou hele mond besmeer en blou oogskadu ) en vra heel ernstig vir manlief: “Lyk ek mooi?” Gee haar ’n Pluto (papnat soen in haar oor) en trek sy weermagstewels aan.
Kyk ’n bietjie watter uitwerking het dit op jul verhouding? Mense lyk jonger en makliker toeganklik wanneer hulle lag. Dit is ook aansteeklik! Dit los konfliksituasies op en dit verbeter die intimiteit tussen ’n paartjie.
Maak vandag ’n punt daarvan om die snaakse staaltjies in jul huwelik te onthou (die groen-en-geel sousbak wat julle op jul troudag gekry het, die dag toe hy jou oupa se naam verkeerd uitgespreek het, die dag toe die kinders julle in die slaapkamer betrap het!).
Genoeg gelag en reg vir iets om te doen? Sorg dat julle vandag minstens een buite-aktiwiteit doen (soos kano ry, fietsry, minigholf speel, swem, vlieër vlieg of sterre kyk) en een binne-aktiwiteit (koekies bak, legkaart bou). Julle kan ook een muur in die huis kies en besluit om die muur ’n helder kleur soos lemmetjiegroen te verf. As dit aaklig is, verf dit net weer toe!
Nadat julle elkeen mekaar se droom-aktiwiteit vir die dag bewaarheid het, is dit tyd vir ’n lekker bad. Gaan bad saam en gooi heeltemal te veel badskuim in. Trek die kinders se badspeelgoed en ’n lekker bottel wyn nader en geniet jul gate uit.
Vanaand is fancy dress. Okay, dié opdrag gaan julle dalk effens laat bloos, maar dit gaan alles oor die bonding-proses. Trek ’n bietjie uit karakter uit aan. Julle kan na ’n kostuum-verhuringswinkel toe gaan en aantrek soos Elvis of Abba. Of julle kan net twee pruike opsit, ’n bietjie anders aantrek as gewoonlik . . . en die pad vat – na ’n karaokeklub! Jip, vanaand gaan julle ’n duet lewer voor ’n kamer vol vreemdelinge!
Dis opwindend, vernederend en ’n wonderlike manier om saam laf (en nader aan mekaar) te voel. As julle jul item gelewer het (die drama van jul kostuums sal afhang van jul sangvermoë!), gaan koop draairoomys om ’n lekker naam-met-’n-plank-slaan-aand te vier!
DAG 3 VAN JUL PRETPLAN
Gaan laai die kinders op waar hulle die naweek gekuier het en gaan as ’n gesin saam kerk toe. Pak daarna ’n piekniekmandjie vol mini-eetgoed, ’n kombers, ’n handvol ballonne en ’n fles vol koffie, en ry na jul naaste natuurreservaat toe.
As julle daar aankom, sprei die kombers uit en soek prentjies in die wolke. Vertel die kinders van julle lawwe naweek (net dié gedeeltes sonder ’n ouderdomsbeperking!) en deel jul drome met mekaar.
Word vandag net weer kinders (saam met die kinders). Jaag mekaar op die gras rond, speel bal, voer die eende en vier die lewe. Kyk na mekaar en waardeer dit dat jy getroud is met ’n maat wat kan pret hê en sy/haar kinders kan geniet.
Ja, dit is ’n besige en propvol naweek, maar die kanse is goed dat julle ’n energie-inspuiting gekry het, jul intimiteitsvlakke nuwe woema gekry het en dat julle mekaar opnuut waardeer. Maak vanaand saam met die kinders ’n krismisbed op die vloer en hou mekaar se hande bokant jul koppe vas terwyl julle bid en dankie sê vir ’n geseënde huwelik vol geesdrif.
Deur Annelize Steyn