Nostalgie is ‘n sentimentele verlange of nadenking oor ‘n periode in die verlede en dit is dikwels sinoniem met woorde soos herinneringe, onthou, herroeping en sentimentaliteit. ‘n Mens se troudag is ongetwyfeld een van jou kosbaarste herinneringe.

Wanneer ‘n mens terugdink aan die dag toe jy ewige trou belowe het aan die maat langs wie jy steeds vandag staan, is dit (meesal) ‘n lekker gevoel. Jy onthou nie net al die lekkertes van die feesvieringe nie, maar ook die emosies en die droom van wat kom. Jy verlang terug na die oomblik toe jy jou maat vir die eerste keer voor die kansel sien staan… jy dink terug aan die chaos rondom die bloemis wat ‘n uur voor die tyd eers opgedaag het en hoe jy en jou maat dit net maak werk het. Jy dink aan jou pa wat jou afgegee het of aan jou ma wat die knopies van jou rok vasgemaak het. Jy onthou jou boeties wat jou toegesing het en jul eerste dans… elkeen se herinneringe verskil. Ons het gaan uitvind wat die INTIEM mense nostalgies onthou van daardie spesiale dag:

René vertel dat sy op 27 getroud is met ‘n geskeide pa van twee pragtige seuntjies. “Ons het vir hulle onderbaadjies en krawatte laat maak, net soos pappa s’n. Die oomblik toe ek in die kerk instap en die twee seuntjies langs hul pappa vir my gestaan het wag het… die mooiste was hoe hul gesiggies verhelder het en hul glimlaggies toe hulle my sien. Toe my aanstaande man se oë myne vasvang en die trane oor sy wange loop… het ek geweet dat ons Hemelse Vader ons saamgevoeg het!” Vandag staan die twee jongmanne op trou, vertel René. “Met die mooiste meisies! En op 18 Oktober was ons 15e huweliksherdenking en my man het gesê: ‘Lovie, onthou jy hoe opgewonde ons seuntjies was?” Hulle het saam hul mooiste herinneringe herroep en gelag en gehuil oor die verlede. “Hy vat elke jaar verlof op ons huweliksherdenking, want vir ons is dit belangriker as ‘n verjaarsdag…”

Ez-Mari vertel sy het vier baie kosbare, nostalgiese herinneringe van haar troudag: Eerstens haar ruiker. Rondom die stingels was ‘n foto gedraai – een van haar en haar pa toe sy drie jaar oud was! Die tweede herinnering was André se gesig en oë vol trane toe sy by die kerk instap. “Dit is iets wat my altyd sal bybly, al maak hy my kwaad.” Daar was ook die onverwagse reëndruppels tussendeur die sonskyn toe hulle uit die kerk stap. “Net ‘n amazing teken van God se seën op ons huwelik.” Die laaste kosbare herinnering was die wolk op die dansbaan met die ligte af, kersliggies oral en die woorde: “… and I would walk 500 miles, and I would walk 500 more, just to be the man who walks a 1000 miles to fall down at your door.”

Promosie

Theresa lag wanneer sy onthou hoe sy die ringe op haar troudag vergeet het. “Ons moes die hele troue stop en wag vir die ringe wat nog in die huis gelê het by die venue waar ons getroud is!” Ook Maryke Marais onthou laggend hoe haar man haar ruiker uit die kake van ‘n bees gaan red het. Hulle het in die winter getrou en het ‘n kombers as deel van die fotosessie gebruik. Terwyl hulle foto’s geneem het, het die viervoetige heerlik aan haar ruiker begin smul en die fotograaf het gekliek terwyl haar man, kombers en al, die ruiker gaan red het.

Monique en haar man, het spontaan die ‘Time Warp’ dans in unison begin doen! “Dis ons eie dansie en ‘n ‘inside joke’,maar almal het gedink dit is geoefen. Elke keer wat ek daaraan dink, herinner dit my dat ons connected is op ‘n spesiale vlak en dat ons ‘n unieke span vorm.”

Ina onthou die verrassings-element van haar troudag baie goed! Hulle het vriende oorgenooi vir ‘n bring-en-braai, soos hulle altyd doen. By die braai het een vriend opgestaan, almal verwelkom en aangekondig dat hy hulle ook sommer nou gaan trou! “Ons idee was ‘n verrassing, maar dit was alles waarvoor ons gehoop het toe ons ons vriende se blye ongeloof sien!”

Heila onthou hoe haar geliefde ma en stiefma haar saam gehelp het om aan te trek. Janti Linington onthou die ramshoring wat geblaas het toe haar man vóór haar in die kerk in geloop het. Minette Beukes onthou die oomblik toe hulle by die onthaalsaal instap en haar man spontaan met haar begin dans het! En Santie Koch kyk met nostalgie na ‘n foto van haar troudag waar die dominee vir hulle ’n stukkie tou gebring en hulle gevra het om die tou te probeer breek. “Ons lag te lekker op die foto want natuurlik kón ons nie. Die simboliek was egter vir my regtig baie mooi: Dat ons altyd moet onthou, as dit net ons twee is in hierdie verhouding, sal dit maklik gebreek kan word, maar as ons die Heilige Gees toelaat om saam met ons op die pad te stap, is ons soveel sterker.”

Daar is soveel mense vir wie die eerste dans uitgestaan het. Ook die oomblik toe hulle mekaar gesien het voor die kansel. En die eerste soen! (waarvan sommige langer geduur het as ander!) Daar is ook lesers wat vertel dat hul kosbaarste oomblik was toe hulle huis toe ry, alles verby was en die besef tot hulle deurgedring het: “Ons is nou man en vrou.”

In die huwelik is jou troudag nie die begin van jou nostalgiese reis nie. Die huwelik is ‘n wonderlike avontuur waartydens jy en jou maat nog talle herinneringe gaan skep. Maak seker dit is mooi oomblikke wat julle eendag met liefde sal onthou en sal laat terugverlang na daardie baie spesiale tye.