Mans word nie graag met blomme vergelyk nie, maar partykeer voel ons . . . verlep. Selfs die sterkste stingel neig soms hardnekkig ondertoe.
Erektiele disfunksie is nie meer ’n skande nie en ’n besoek aan ’n uroloog kan jou waarskynlik weer jou man laat staan. Maar sê nou jy het heeltemal belangstelling in seks verloor? Dis ’n man se grootste vrees – dis érger as ’n disfunksionele erektiel, of wat ’n mens dit ook al in beskaafde Afrikaans noem. Jou vrou verwyt jou later dat sy nie meer vir jou mooi is nie, sy vermoed selfs daar is “iemand anders” wat jou libido en energie tap. Geen wonder jy voel die laaste tyd soos ’n sonneblom in ’n Van Gogh-skildery nie.
Miskien is jy klinies depressief as gevolg van die stres by die werk. Anti-depressante is soms nodig, maar vra eers jou huisdokter om jou testosteroonvlakke te laat toets. Lae hormoonvlakke by mans word al hoe meer gediagnoseer: Ons leef langer as voorheen en is ook nie meer so lugtig om sensitiewe kwessies soos ’n lae libido met ’n dokter te bespreek nie. Die goeie nuus is, testosteroonvlakke kan met ‘n eenvoudige bloedtoets vasgestel word.
Testosteroon – die manlike hormoon – neem ná dertig stelselmatig af. Dit verklaar onder meer hoekom die bos hare wat jy in graad nege met handevol jel teen jou skedel kon vasplak om Sarie Visser in graad agt te probeer beïndruk, later nie meer so geil en glansend en jou maagspiere nie meer so ferm is nie.
’n Dramatiese afname in jou testosteroonvlak kan egter nie bloot aan ouderdom toegeskryf word nie. Lae testosteroonvlakke word vereenselwig met ’n boepie, tipe 2 diabetes, lewer- of niersiekte, HIV/vigs, ’n chroniese verslawing aan Mills and Boon-boekies, beserings aan die testikels, infeksie, testikulêre kanker, genetiese faktore en sommige soorte medisyne. Dis nie altyd duidelik of dié siektes testosteroonvlakke laat daal of juis die gevolge van lae testosteroon is nie.
Lae testosteroonvlakke word ook verbind met kognitiewe versteurings soos bedruktheid, afname in konsentrasie en geheue. En met verskeie kankersoorte. Testosteroon het ’n groot invloed op die manlike brein (laasgenoemde is ’n veel meer ingewikkelde en veelsydige orgaan as wat sommige vroue beweer) en testosteroonaanvullings kan jou selfs jou skoonma se verjaarsdag laat onthou. Te min testosteroon kan die kanse vergroot dat jy later Alzheimer’s kry.
Die simptome van lae testosteroonvlakke is soortgelyk aan dié van kliniese depressie, hoë bloeddruk en die immergroen gunsteling onder middeljarige, braaivleis-etende mans: koronêre hartsiekte. Daarom moet lae testosteroonvlakke deur ’n bloedtoets bevestig word.
Dit gebeur soms dat iemand se testosteroonvlak onder die aanvaarbare vlak is, al het die pasiënt geen klaarblyklike simptome nie. Hormoonaanvullings word nogtans aanbeveel omdat te min testosteroon onomwonde gekoppel is aan ’n hoër risiko vir hartaanvalle en beroertes, asook laer beendigtheid, wat beenbreuke kan veroorsaak. Indien jou huisdokter jou probeer oortuig dat lae testosteroonvlakke skadeloos is wanneer daar geen waarneembare simptome is nie, is dit raadsaam om ’n tweede mening by ’n ander geneesheer te kry.
Te min testosteroon by jonger mans veroorsaak dikwels dat ’n paartjie sukkel om swanger te raak.
Indien jou testosteroonvlak net effens te laag is, kan jy natuurlike “behandelings” probeer, soos ’n spesiale dieet en genoeg slaap. (Of vroulief jou sal glo as jy sê dis belangrik vir jou gesondheid om twee keer per aand seks te hê en ná die tyd op jou sy te draai en balke te saag, is te betwyfel.)
Testosteroon is ’n man se beste vriend. Dit sit die tier in jou tenk. Dit verseker vrugbaarheid, viriliteit en ’n gesonde libido. Dit sorg vir hare op jou bors en hou mans se bene en spiere sterk en gesond. Indien daar (fisieke) grade van manlikheid is, word dit deur jou testosteroonvlakke bepaal en nie deur die grootte van jou kar of die hoeveelheid bier wat jy in een sitting kan drink nie.
Addisionele bronne: webmd.com; peaktestosterone.com; doctorisin.blogspot.com