“Is ek normaal?” En “Hoeveel keer ‘n week behoort ons seks te hê?” is twee van die mees algemene vrae wat ek in my praktyk gevra word.
Ek baseer my antwoorde nie op statistieke nie, want elke paartjie is uniek en jou intimiteit behoort nie bepaal te word deur ander mense se verhoudings nie, net jou eie.
As beide van julle sewe dae per week wil seks hê, is dit fantasties. As beide van julle twee keer per maand wil seks hê, of slegs gedurende naweke, is dit ook fantasties – solank daar ‘n wedersydse verstaan tussen die twee van julle heers en julle beide met dié reëling tevrede is. Dit is ‘normaal’ vir julle verhouding en behoort die enigste maatstaf te wees waarmee julle dit meet. Dit is ook baie normaal vir ‘n verhouding om ‘n eb en vloei te hê – waar die gereeldheid van seks natuurlik toeneem en afneem.
Die enigste tyd wat die gereeldheid van seks ‘n probleem raak, is wanneer daar ontevredenheid van een of beide maats is. As een maat seks meer gereeld as die ander wil hê en die paartjie se libido uit voeling met mekaar is, word dit ‘n begeerte-verskil genoem.
Begeerte-verskille het dikwels niks met seks te doen nie
Meestal is dit die persoon met die laer libido wat ‘n afspraak met my maak. En meer gereeld is dit ‘n vrou. Daar is ‘n geloofstelsel in die gemeenskap dat vroue almal seksgodinne moet wees. ‘n Lae libido beteken nie daar is iets verkeerd met jou nie, maar daar is baie redes waarom individue lae begeerte kan hê.
Van die mees algemene libido-kwessies wat ek in my praktyk sien:
- Vroue wat seks het met hul maats uit ‘n pligsgevoel.
- Vroue wat seks met hul maats heeltemal vermy.
- Vroue wat dit geniet om seks te hê, sodra hulle begin, maar hulle inisieer dit nie en hulle begeer dit (meeste van die tyd) nie.
- Vroue wat skuldig voel oor die situasie en voel dit is onregverdig teenoor hul maats.
- Vroue wat bang is hul maats los hulle as gevolg van hul lae libido.
Vir mans is dit relatief maklik om opgewek te word. Vir ‘n vrou moet ‘n paar dinge in plek wees voor sy waarlik die ervaring kan geniet. Seks is verwant aan hoe sy spiritueel, fisiek, en emosioneel in die verhouding voel. Geen hoeveelheid seksspeelgoed, erotiese leesstof, pornografiese flieks of gesmeek van haar maat gaan dit verander nie.
Ek het groot sukses gesien in die behandeling van begeerte-verskille. Daar is baie maniere waarop ‘n meer gelyke vlak van begeerte in ‘n verhouding ingebring kan word as beide maats bereid is om aan die saak te werk. Een van die doelwitte van terapie is die verbreking van die vervolger-afstandhouer siklus.
Die vervolger-afstandhouer siklus
By paartjies wat begeerte-verskille beleef, word die maat met die hoër libido dikwels gesien as die jagter (vervolger) in die verhouding. Dié een jag hul maat sonder einde en gebruik elke geleentheid moontlik om seks te probeer inisieer.
Die maat met die laer libido word die afstandhouer. Dié een probeer om te alle koste seksuele, emosionele en fisieke kontak met die jagter te verbreek. Die persoon voel dat elke daad van toegeneentheid of emosie daartoe sal lei dat die ander persoon seks probeer inisieer.
Dit word ‘n vreesaanjaende siklus en veroorsaak ernstige probleme binne die verhouding. Eindelik bereik die ‘jagter’ ‘n punt waar hulle opgee en sê: “Ek gaan nie meer inisieer nie. Jy kan inisieer as jy seks wil hê.” Maar niks gebeur ooit nie.
Die jagter voel verwerp, bitter, gefrustreerd en sy/haar selfbeeld word beskadig. Terwyl die afstandhouer skuldig, deurmekaar, gefrustreerd en geteister voel. Vroue wat die afstand hou voel skuldig en skaam omdat seks nie meer vir hulle wedersyds is nie. As hulle wel seks het met hul maats, voel hulle gebruik, magteloos en gefrustreerd. Selfs koestering sonder seks is nie meer ‘n opsie nie, want sy is altyd bang dat dit tot seks sal lei. Die frustrasie het ‘n samestellende effek op haar libido soos wat haar verwyte jeens haar maat aanhou opbou.
Mans wat nie die jagters is nie wonder dikwels of hul maats hul steeds liefhet. Hulle word onseker en wonder of hulle nie seksueel aantreklik vir hul maats is nie. Dit affekteer hul selfbeeld en selfvertroue en baie mans wonder of hul maats nie dalk ‘n affair het nie.
Wat veroorsaak lae libido en lae begeerte?
- Die vrees om ‘n seksueel oordraagbare siekte op te doen.
- Die vrees vir swangerskap.
- Skuldgevoelens oor seks (wat is jy as kind oor seks geleer?).
- ‘n Tekort aan inligting oor seks.
- Verhoudingskwessies – ‘n tekort aan respek, ‘n tekort aan kommunikasie en ‘n tekort aan veiligheid.
- Seksuele prestasie-angs.
Die begin van behandeling
Moenie jou geld mors op oor-die-toonbank medikasie nie. Ek kan jou waarborg dat dit nie werk nie!
Hoewel die behandeling van begeerte-verskille baie suksesvol kan wees, is daar nie ‘n pil wat paartjies kan gebruik om alles eensklaps te herstel nie. Die behandeling en berading is verskillend vir elke paartjie, gebaseer op hul unieke situasie en wat die moeilikheid in die eerste plek veroorsaak het.
Daar is ‘n paar kern-bestanddele wat paartjies weer op spoor kan bring:
- Maak seker die vrou voel veilig, gekoester en gerespekteerd in die verhouding.
- Vroue wat emosioneel naby aan hul maats is, is meer gewillig om seks met hul te hê.
- Maak seker dat alledaagse verantwoordelikhede gedeel word – insluitende huishoudelike take, finansies, kinders ensomeer.
- Leer om met ‘outercourse’ te begin voor ‘intercourse’. Moenie dadelik na seks toe spring nie. Koester mekaar, gee drukke, soene en wees sensueel voor jy begin seksueel raak.
- Leer goeie kommunikasie-vaardighede aan – leer hoe om mekaar geliefd en gewaardeerd te laat voel en om mekaar te ondersteun waar nodig.
- Onthou ‘n man se rol is die van voorsiener en beskermer. As jy opmerkings maak soos: “Moenie my blameer as ek dit iewers anders gaan soek nie”, sal die vrou nie veilig in die verhouding voel nie en fisiek onttrek.
- Organiseer gereelde date nights vir gehalte-tyd saam. Maak seker julle praat, konnekteer en deel emosioneel met mekaar. Doen ook moeite om mooi aan te trek en goed te lyk vir mekaar. Dikwels hou paartjies wat lank by mekaar was op om moeite te doen.
Dit is slegs die begin van behandeling. As jy en jou maat worstel met begeerte-verskille, maak seker julle gaan sien ‘n professionele persoon vir berading om julle te help om saam te werk na ‘n heel, vervullende, seksueel bevredigende verhouding.
Artikel deur Leandie Buys
- Leandie Buys is ‘n verhoudingsterapeut en kliniese seksuoloog. Vir meer inligting, besoek haar webtuiste by leandiebuys.co.za