Manlief se hand kruip onder jou pajamas in en jy weet – dit is súlke tyd. Maar ewe skielik kry jy ’n tinteling in jou derms, spring regop en gil “jammer!” Terwyl jy op die badkamer afpyl. Iemand is baie ongelukkig vanaand!
Nee, ons praat nie nou van manlief wat in die bed lê en duime vashou dat julle kan aangaan waar julle opgehou het nie. (Ons weet jý is ook nie te gelukkig oor die situasie nie.) Hierdie “persoon” is iemand wat jy al vir ’n geruime tydjie afskeep en stief behandel.
Jou kolon.
HOEKOM IS MY KOLON SÓ BELANGRIK?
Die kolon is een van die organe wat mense hulle sekerlik die minste oor bekommer. Dit is nie soos jou hart, brein of longe wat “bestuursposisies” in jou liggaam beklee nie. Die kolon is maar net die arme ou skoonmaker wat elke dag getrou haar afsloof, maar niemand sien haar raak nie. Tot sy eendag uit die bloute nie meer haar werk doen nie. Skielik begin die koffiebekers ophoop op almal se lessenaars, die vuilgoedsak stink en die vloere word taai. Dit is nie lank nie of die kolon se kollegas begin siek voel en doen hulle werk halfhartig. As jy weer sien, is jou hele kantoor (lyf) op sy kop gedraai.
Jou kolon is jou liggaam se “rommel-trommel”. Dit is verantwoordelik vir die uitvoer van gasse en stoelgang uit die liggaam, en terselfdertyd absorbeer dit water en voedingstowwe wat die liggaam benodig om te funksioneer.
Hoe werk dit? Wanneer jy ’n bord kos eet, word ’n boodskap na jou maag en derms gestuur om te sê dat iets op pad is. Op hierdie stadium wil die derms solank van enige ou kos ontslae raak om plek te maak vir die nuwes. Die inname van kos trigger ’n massa peristaltiese golwe wat die proses aan die gang sit. Die kolon sal dan met die hulp van klein golfbewegings jou ou kos in stoelgang verander en dit na die rektum stuur sodat dit die liggaam kan verlaat.
NADELE VAN ’N ONGESONDE KOLON
Jou stoelgang bestaan nie net uit voedsel nie, maar ook uit water, slym, vesel, ou selle van jou dermvoering, miljoene mikro-organismes en klein hoeveelhede anorganiese soute. Hierdie stowwe kan nie vir te lank in jou liggaam bly nie, anders kan dit jou liggaam vergiftig en jou siek maak. Ook, as jou skoonmaker sien dat die rommel net daar bly lê, dink sy dat haar werk nie klaar is nie. Dit is dan wanneer die kolon te veel water absorbeer uit die stoelgang en dit hard word – vandaar hardlywigheid en opgeblasenheid.
As jou stoelgang jou liggaam weer te vinnig verlaat, het die kolon nie genoeg kans om water (10% van jou liggaam se kwota) en ander belangrike stowwe te absorbeer nie. In só ’n geval is diarree jou voorland.
Dit is egter nie net stoelgangprobleme wat jy ervaar as jou kolon ongesond is nie. Jy kan selfs enige van die volgende probleme ondervind:
- ’n Slegte asem.
- Velprobleme.
- ’n Lae libido.
- Verlaagde energievlakke.
- Probleme met konsentrasie en geheue.
- Gewigsprobleme.
- Pyn en styfheid.
- Insomnia.
- Stres en geïrriteerdheid.
WAT DOEN EK WAT MY KOLON SIEK MAAK?
Ons is dikwels nie eers bewus daarvan dat ons besig is om ons kolon te vergiftig nie. Indien jy enige van die volgende gewoontes het, is dit tyd om iets daaromtrent te doen.
Maaltye on the go: ’n Peuselhappie sal nie sommer die boodskap van massa-peristalse na jou derms stuur nie – daarvoor het jy ’n groot/hele maaltyd nodig. Indien jou maaltye baie klein is of net uit peusel bestaan, kan jy ’n opeenhoping in jou derms veroorsaak.
Verkeerde koskeuses: Te veel ongesonde kos kan die verteringsproses bemoeilik en gevolglik ’n opbou van gifstowwe en opgeblasenheid veroorsaak. Hou matigheid voor oë as dit kom by kos met ’n hoë suikerinhoud, witmeel-produkte en rooivleis.
Knyp as jy moet gaan: Die kolon weet ongelukkig nie dat jy nou in ’n vergadering sit by die werk en jou nie nou na die toilet kan haas nie. As jy die natuur se roep ignoreer, hou jou derms die afval terug totdat dit weer massa-peristalse ervaar. Jy is dalk verlig omdat jy op daardie oomblik kon knyp, maar as gevolg daarvan bly die afvalstowwe langer in jou liggaam as wat goed is vir jou.
Te veel stres: Spanning is oor die algemeen nie goed vir jou liggaam nie. In die geval van jou kolon veroorsaak dit dat die kos te vinnig deur jou liggaam beweeg en gevolglik gaan belangrike voedingstowwe verlore.
Rook en drank: Rook en oormatige drankgebruik kan jou kanse vermeerder om kolonkanker te kry. Probeer jou bes om dit onder beheer te hou.
Oorgewig: ’n Gesonde gewig en gereelde oefening help om jou regular te hou. Dit help ook om jou risiko vir siektes, soos onder andere kolonkanker, te verminder.
Dehidrasie: Die kolon benodig water om te help met die vorming en beweging van stoelgang. Indien jy te min vloeistof inneem, kan dit aanleiding gee tot harde stoelgang en opgeblasenheid.
HOE WEET EK AS MY PROBLEEM ERNSTIG IS?
Ons almal ervaar nou en dan spysverteringsprobleme en ons het ook nie dieselfde stoelgang-roetines nie, daarom is dit moeilik om te bepaal wat “normaal” is. Dit is dus belangrik om jou kolon te leer ken sodat jy kan bepaal wanneer iets vir jou as individu abnormaal voorkom.
Indien jy enige van die volgende simptome ervaar, moet jy so gou as moontlik jou dokter gaan sien:
- Bloed in jou stoelgang.
- Rektale bloeding.
- Krampe, pyn of chroniese opgeblasenheid van die maag.
- Diarree, konstipasie of “smal” stoelgange wat buite die norm vir jou is en wat aanhou vir meer as ’n paar dae.
- Die gevoel dat jy moet “gaan”, maar na die tyd voel jy nie verlig nie.
- Onverklaarbare gewigsverlies, moegheid en swakheid.
VYF GEHEIME VIR ’N GELUKKIGE KOLON
- Eet meer vesel
Vesel help om jou stoelgang gemakliker deur jou derms te laat beweeg – dit is inderdaad jou skoonmaker se besem! Jy benodig ook nie eers baie nie: 25-35 gram is voldoende. Jy kan kies en keur tussen verskeie soorte veselryke voedsel soos neute, pruime, ertjies, broccoli, bone, seldery, die meeste vrugte en volgraanprodukte.
Vier maklike idees:
- Pak gerus vir jou ’n bakkie met gedroogde vrugte en neute in vir werk.
- Eet ’n geroosterde broodjie met baked beans vir middagete.
- Maak vir jou smoothies met vars vrugte voordat jy gaan slaap in die aand. Dit sal vars bly oornag in die yskas en jou tyd spaar in die oggende.
- Eet pynappel of papaja vir nagereg. Dié vrugte bevat ensieme wat kan help om hardnekkige proteïene af te breek sodat dit nie jou verteringsproses vertraag nie.
- Neem jou vitamiene
Die twee belangrikste vitamiene vir ’n gesonde kolon is vitamiene A en D. Vitamien A help met die vervaardiging van slym om die afvalmateriaal te “smeer” vir beter afvoering. Jy kan nie verkeerd gaan met voedselaanvullings of die inname van voedsel soos wortels, patats, mango’s en rooi soetrissies nie. Vitamien D help met die voorkoming van kolonkanker, asook met die handhawing van algemene kolongesondheid. Spandeer daagliks sowat 15-20 minute in die son of kry jou kwota uit voedsel soos vetterige vis, melk en graan.
- Neem gesonde vette in
Al jou selle, insluitende dié van jou dikderm en senuweestelsel, benodig gesonde vette. Jou senuweestelsel en die gladde spiere rondom jou spysverteringskanaal, wat verantwoordelik is vir die skep van peristaltiese golwe, vereis gesonde vette vir optimale funksionering. Hierdie vette is ook nodig vir die optimale absorbering van vitamien A. Kos wat ryk is aan gesonde vette, sluit in avokado, olywe, kokosneute, rou neute en sade.
- Bou ’n weermag op
Kolonies van goeie bakterieë is nodig om jou spysverteringskanaal parasietvry en skoon te hou. (Parasiete kan ook gifstowwe afskei wat nadelig is vir jou gesondheid.) Jy kan vir jou op ’n natuurlike manier jou eie weermag opbou deur byvoorbeeld gereeld jogurt te eet, of jy kan jou dokter raadpleeg oor probiotika-produkte.
- Sexcercise
As jy en manlief ooit ’n verskoning nodig gehad het om die bedvere te laat kraak, is hierdie een van die beste redes ooit. Fisiese oefening help met die verhoging van bloedsirkulasie en suurstof in jou hele spysverteringstelsel, asook met die afwering van kolonkanker en ander siektes. Plus dit kan ook help om jou stresvlakke onder beheer te hou sodat jy nie uitmis op waardevolle voedingstowwe nie.
Die goeie nuus is dat jy nie ’n marathon hoef te hardloop elke dag nie – so ’n bietjie sexcercise sal klaar ’n verskil maak. Het jy en manlief ’n seks bucket list – dinge wat julle nog altyd wou probeer het, maar om een of ander rede altyd uitstel? Indien julle nie het nie, maak sommer nou saam ’n lysie en begin dit deurwerk. Gebruik gerus ook vrugte in julle voorspel, of eet vetryke kos soos avokado en oesters vir voorgereg; jou kolon sal behoorlik in sy noppies wees!
DIE BEETTOETS
As jy onseker is of jou kolon normaal funksioneer of nie, is daar ’n maklike toets wat jy sommer by die huis kan doen. Onthou, dit vervang nie ’n dokter se mening nie, maar dit kan jou help om te bepaal hoe lank jou “eliminasieproses” neem.
Eet vars, gaar beet (’n hele een as jy kan).
Skryf die tyd van inname neer.
Hou jou stoelgang dop vir die rooi pigment van die beet.
Ideaal moet die pigment binne 18 tot 24 uur ’n verskyning maak. Indien dit langer neem, is dit dalk tyd om met jou dokter oor jou kolongesondheid te gesels.
Deur Thalia Brüssow
Bronne: bodyecology.com, naturalnews.com, foxnews.com